Stoomkoker
From Wikipedia, the free encyclopedia
'n Stoomkoker is 'n huishoudelike toestel waarin kos met stoom gaargemaak word. Stoomgaar het veral in die kookkuns van oosterse beskawings, onder meer China en Japan, 'n lang tradisie. Hier het argeoloë op die oudste bekende stoomgaarmaakpotte en -mandjies afgekom. Ook in vulkaniese streke van Nieu-Seeland, soos Rotorua en Bay of Plenty, het inheemse Maori die stoom van geotermiese warmwaterbronne al vroeg gebruik om kos te kook wat in mandjies in die stoom gehang is.[1]
In Europa het die stoomgaarmaakmetode in die 17de eeu belangstelling gewek toe die Franse uitvinder, fisikus en wiskundige Denis Papin (1647−1710) in 1674 die eerste stoomdruk-snelkookpot ontwikkel het. Moderne stoomdruk-snelkookpotte is vir die eerste keer in 1927 in Duitsland bemark. Hulle het vanaf die 1960's hoogty gevier. In die 1970's is professionele stoomkokers vir die restaurantbedryf ingevoer.