From Wikipedia, the free encyclopedia
Veroudering is die proses van ouer word. Die term verwys hoofsaaklik na mense, baie ander diere en swamme, terwyl bakterieë, meerjarige plante en sommige eenvoudige diere potensieel onsterflik is.[1]
By die mens verteenwoordig dit die stelselmatige ophoping van veranderings,[2] wat fisiek, sielkundig en sosiaal kan wees.[3][4] Reaksietyd kan byvoorbeeld met veroudering stadiger raak, terwyl herinneringe en algemene kennis kan toeneem. Veroudering is die grootste bekende risikofaktor vir die meeste menslike siektes: kanker, Alzheimersiekte, diabetes, hartbloedvatsiektes, beroerte en talle ander.[5][6] Van die rofweg 150 000 sterftes wat elke dag wêreldwyd voorkom, is sowat twee derdes verwant aan ouderdom.
Huidige verouderingsteorieë word toegeskryf aan die skadekonsep, waar die ophoping van skade (soos DNS-oksidasie) kan veroorsaak dat biologiese stelsels ingee, of aan die geprogrammeerde verouderingskonsep, waar die interne prosesse (epigenetiese onderhoud soos DNS-metilering)[7][8] inherent veroudering kan veroorsaak.
Mense en lede van ander spesies, veral diere, verouder en gaan dood. Swamme kan ook verouder.[9] In teenstelling daarmee kan baie spesies as moontlik onsterflik beskou word: Bakterieë verdeel byvoorbeeld om dogterselle te produseer, aarbeiplante groei lopers om klone van hulleself te skep en diere in die genus Hydra het 'n herlewingsvermoë wat voorkom dat hulle van ouderdom doodgaan.
Vroeë lewe op Aarde, wat minstens 3,7 miljard jaar gelede begin het,[10] was enkelsellige organismes (organismes wat net uit een sel bestaan, in teenstelling met meersellige organismes, wat uit talle selle bestaan). Sulke organismes (prokariote, alge, ensovoorts) vermeerder deur die verdeling in dogterselle. Hulle verouder nie en is dus potensiaal onsterflik onder gunstige toestande.[11][12]
Veroudering en sterflikheid van die individuele organisme het moontlik geraak met die evolusie van seksuele voortplanting,[13] wat begin het met die opkoms van die koninkryke Fungi/Animalia sowat 'n miljard jaar gelede en die ontwikkeling van saadplante 320 miljoen jaar gelede.
Die seksuele organisme kon hierna van sy genetiese materiaal oordra om nuwe individue te produseer en self misbaar word met betrekking tot die oorlewing van die spesie.[13]
Dié klassieke biologiese idee is egter onlangs op sy kop gekeer met die ontdekking dat die bakterie E. coli in onderskeidbare dogterselle kan verdeel. Dit het die teoretiese moontlikheid daargestel dat "ouderdomsklasse" onder baterieë kan bestaan.[14]
Selfs in mense en ander sterflike spesies is daar selle met die moontlikheid van onsterflikheid: spesifieke kankerselle[15] en stamselle soos kiemselle (wat eier- en spermselle vervaardig).[16] In kunsmatige kloning kan moederselle tot embriostatus verjong word en dan gebruik word om nuwe weefsel of 'n dier te skep sonder dat hulle ouer word.[17]
Die meeste mense ondervind 'n paar tipiese verouderingsimptome gedurende hul leeftyd:
Demensie kom algemeen by ouer mense voor.[39] Sowat 3% van mense tussen 65 en 74, 19% tussen 75 en 84, en byna die helfte van mense ouer as 85 jaar het demensie.[40] Die spektrum wissel van ligte kognitiewe belemmering tot die neurodegeneratiewe siektes Alzheimersiekte, serebrovaskulêre siekte, Parkinson se siekte en motorneuronsiekte. Baie soorte geheue neem ook af met die ouderdom, maar nie semantiese geheue (algemene kennis soos woorddefinisies) nie; dié neem toe of bly dieselfde tot laat in ’n mens se lewe.[41] Intelligensie neem ook af, maar die tempo hang af van die soort en kan selfs dieselfde bly en net aan die einde van die leeftyd skielik afneem.
Ouderdom kan sigprobleme meebring en dit bemoeilik nieverbale kommunikasie,[42] wat weer kan lei tot afsondering en moontlik depressie. Dit lyk egter of ouer mense minder aan depressie ly as jonger volwassenes; oor die algemeen verbeter die gemoedstoestand, ondanks ’n afname in fisieke gesondheid.[43] Sigprobleme kan ook deur ander faktore veroosaak word, soos spieragteruitgang[44] en groeisels om die retina.[45]
Veroudering is die grootste risikofaktor vir siektes.[46] Van die rofweg 150 000 mense wat jaarliks wêreldwyd sterf, sterf omtrent twee derdes (100 000 mense per dag) aan ouderdomsverwante siektes. In nywerheidslande is die persentasie hoër, tot 90%.[47][48][49]
Navorsers begin nou maar eers die biologiese faktore van veroudering verstaan, selfs in relatief eenvoudige organismes met 'n kort leeftyd soos gis.[50] Selfs minder is bekend oor die lewe van soogdiere, deels as gevolg van die langer lewe van selfs klein soogdiere soos die muis (sowat drie jaar).
'n Ideale organisme vir die bestudering van ouderdom is die rondewurm Caenorhabditis elegans, danksy sy kort leeftyd van twee tot drie weke en ons vermoë om genetiese manipulasies toe te pas of geenaktiwiteit met RNS-inmenging te onderdruk, ensovoorts.[51] Die meeste bekende mutasies en RNS-inmengingsteikens wat lewensduur verleng, is eerste in C. elegans ontdek.[52]
Die faktore wat as invloede op biologiese veroudering voorgestel is,[53] val in twee hoofkategorieë: "geprogrammeer" en "skadeverwant".[54] Geprogrammeerde faktore volg 'n biologiese tydskaal, dalk een wat 'n verlenging is van die een wat kindertydgroei en -ontwikkeling reguleer. Dié regulering sou afhang van veranderings in geenuitdrukking wat die stelsel beïnvloed wat verantwoordelik is vir instandhouding-, herstel- en verdedigingsmeganismes. Skadeverwante faktore sluit in interne en omgewingsaanslae op lewende organismes wat op verskillende vlakke ophopende skade aanrig.[54]
'n Kaloriebeperking beïnvloed baie diere se lewensduur aansienlik, veral die vermoë om ouderdomsverwante siektes uit te stel of te voorkom.[55] Gewoonlik beteken dit die inname van 60-70% van die kalorieë wat 'n dier normaalweg sou inneem terwyl dit nog genoeg voedingstowwe inkry.[55] In knaagdiere het dit lewensduur tot 50% verleng;[56] 'n soortgelyke invloed is behaal met gis en Drosophila ('n genus vlieë).[55] Geen data daaroor bestaan vir die mens nie,[57] maar verskeie verslae steun beskerming teen ouderdomsverwante siektes.[58][59]
In sy boek How and Why We Age skryf Hayflick kaloriebeperking sal nie vir die mens voordelig wees nie en noem die Baltimore Longitudinal Study of Aging, wat getoon het dat mense wat skraal is nie noodwendig langer lewe nie.[60] Daar is ook ander verwarrende faktore, soos die rookgewoonte, wat beide eetlus demp en lewensduur verkort of massaverlies weens 'n terminale siekte. Soms word ook beweer gematigde oorgewig later in die lewe kan oorlewing bevorder. Dié faktore moet nog uitgeklaar word. Intussen lyk dit of die optimale liggaamsmassa bo 65 jaar ooreenstem met 'n skraler liggaamsmassaindeks van 23 tot 27.[61]
Dit hou ook voordele vir 'n langer lewe in wanneer die inname van proteïene verminder word sonder 'n afname in kalorieë.[62][63] 'n Beperking op proteïene onderdruk twee meganismes wat vermoedelik tot veroudering lei, mTOR en IGF-1.[64]
Die Mediterreense dieet word daarvoor geprys dat dit die gevaar van hartsiektes en 'n vroeë dood beperk.[65][66] Die grootste rede hiervoor blyk 'n hoër inname te wees van groente, vis, vrugte, neute en essensiële vetsure soos olyfolie.[67]
In teenstelling daarmee kan die inname van sekere kossoorte soos suiker, verfynde koolhidrate, alkohol, geprosesseerde vleise en oliegebraaide kos veroudering verhaas.[68]
Die hoeveelheid slaap het ook 'n invloed op langlewendheid. Mense wat die langste lewe, slaap volgens verslae tusssen ses en sewe uur per nag.[69] 'n Gebrek aan slaap (minder as vyf uur per nag) meer as verdubbel die kans op sterfte aan hartbloedvatsiektes. Te veel slaap (meer as nege uur) word ook verbind met 'n verdubbeling in die risiko van sterfte, hoewel nie aan hartbloedvatsiektes nie.[70]
Fisieke oefening kan 'n mense se lewensverwagting verleng.[71] Mense wat matig tot baie oefen, het 'n laer sterftesyfer as mense wat nie fisiek aktief is nie.[72] Die grootste voordele uit oefening word bereik by omtrent 3 500 MET-minute per week.[73] Om byvoorbeeld elke dag 10 minute trappe te klim, 15 minute te stofsuig, 20 minute in die tuin te werk, 20 minute te draf en 25 minute te loop of fiets te ry sal saam sowat 3 000 MET-minute per week wees.[73]
Die vermyding van chroniese spanning (in teenstelling met akute spanning) word in die meeste studies verbind met 'n stadiger verlies van telomere[74] en met 'n afname in vlakke van kortisol (hidrokortisoon). 'n Kortisolvlak wat chronies hoog is, benadeel die immuunstelsel, veroorsaak hartskade/arterosklerose en word verbind met gesigsveroudering, wat weer 'n aanduiding kan wees van 'n toename in swartgalligheid en sterfte.[75] Daar is aanduidings dat eensaamheid 'n groter sterwensgevaar inhou as rook.[76]
Spanning kan verminder word deur sosiale verkeer, spiritualiteit en (meer vir mans as vir vroue) 'n getroude lewe. Dit word alles verbind met langlewendheid.[77][78][79]
'n Paar middels het getoon hulle vertraag veroudering in diere of keer dit om, maar daar is geen bewyse van dié gevolge in mense nie. In 'n oorsig lê Wolf (2021) klem daarop dat 'n paar van dié middels (soos resveratrol, rapamisien en metformien) almal massaverlies veroorsaak, 'n faktor wat "as onbelangrik afgemaak word" in baie publikasies oor veroudering; dit is dus waarskynlik dat die middels net die lewensverkortende uitwerking van obesiteit teenwerk en nie veel kan doen vir iemand met 'n normale liggaamsmassa nie.[80]
In 2015 is die middel metformien getoets vir 'n moontlike vertraging in die veroudering in die wurm C. elegans en die kriek Acheta domesticus.[81] Die uitwerking op gesonde mense is onbekend.[81]
Rapamisien het in 2006 die eerste keer getoon dat dit die lewe in eukariote verleng, in 'n studie van Powers et al. Daarin is bewys 'n klein dosis rapamisien verleng die lewe in gisselle.[82] In 2009 is die lewensduur van muise wat rapamisien ingegee is, met tussen 28% en 38% verleng in die tyd van die studie, of met tussen 9% en 14% oor hulle hele lewensduur. Die proefneming is gedoen op muise vanaf 20 maande, wat ooreenstem met 60 mensejare.[83] Rapamisien het daarna ook in verskeie ander studies bewys dat hulle muise se lewe verleng.[84] Dit word nou getoets op 'n niemenslike primaat (die klouapie).[85]
Die kankergenetikus Ronald A. DePinho en sy kollegas het navorsing op muise gepubliseer waar telomerase-aktiwiteit die eerste keer geneties verwyder is. Toe, nadat die muise voortydig verouder het, is die telomerase-aktiwiteit herstel deur die telomerasiegeen te heraktiveer. Die muise is hierdeur verjong: Krimpende testikels het herstel en die diere het hulle vrugbaarheid herwin. Ander organe soos die lewer en brein het ook herstel. "[Die gevolgtrekking] bied die moontlikheid dat normale menslike veroudering vertraag kan word deur die ensieme te herstel in selle waar dit ophou werk het", sê Ronald DePinho. Die aktivering van telomerase in mense kan egter moontlik die groei van gewasse bevorder.[86]
In 2023 het navorsers by die Sinclair-laboratorium van die Harvard Mediese Skool ou muise verjong deur hulle DNS met geenterapie te herstel.[87] Die muise se selle het die gene in vorme van proteïen omgesit en so is aspekte van veroudering uitgewis.[87]
Sommige navorsingsprojekte is gerig op stadige veroudering en die verlenging van 'n gesonde lewensduur.[88][89] In 1993 het die Yale-gesondheids-en-verouderingstudie[90] op die belangrikheid gewys van fisieke aktiwiteit en gemaan teen negatiewe stereotipes wat ouderdom betref.
Dr. David Snowdon se studie oor veroudering en Alzheimersiekte het baie interessante ontdekkings gedoen oor geheue, die uitwerking van positief uitgedrukte emosies en hoe om 'n langer lewe van beter gehalte te lei.[91]
Die Amerikaanse Nasionale Instituut oor Veroudering befonds tans 'n ingrypingstoetsprogram vir muise.[92] Die program doen paralelle proefnemings by drie internasionaal erkende muisverouderingsentrums.
Verskeie maatskappye en organisasies, soos Google Calico, Human Longevity, Craig Venter, Gero,[93] en Wetenskap vir Lewensverlenging in Rusland[94] het verklaar hulle doel is om veroudering stop te sit of te vertraag.
Pryse bestaan vir die verlenging van die lewensduur van soogdiere. Die Metusalagstigting bied die M-prys aan. Die Palo Alto Longevity Prize van $1 miljoen is onlangs geloods. Dit is daarop gemik om spanne van oor die wêreld aan te moedig om mee te ding in 'n poging om "die kode te kraak" wat ons gesondheid en lewensduur beheer.[95][96]
Verskillende kulture druk ouderdom op verskillende maniere uit. Die ouderdom van ’n mens word gewoonlik getel in volle jare vanaf die geboorte. Ander soorte verdelings is lewenstydperke: kinderjare (ook preadolessensie, adolessensie), vroeë, middel- en laat volwassenheid. Minder formele terme sluit in "voortieners", "tieners", "twintigerjare", "dertigerjare", ensovoorts.
Die meeste regstelsels bepaal spesifieke ouderdomme waarop dit wettig of verpligtend is om sekere goed te doen. Dit sluit in stemgeregtige ouderdom, wettige ouderdom vir alkoholgebruik, instemmingsouderdom, meerderjarigheid, ouderdom van misdaadverantwoordelikheid, troubare ouderdom en verpligte aftreeouderdom. Toegang tot ’n rolprentteater kan byvoorbeeld beperk word tot ’n sekere ouderdom vir ’n spesifieke rolprent. Kinders of bejaardes van ’n sekere ouderdom kan afslag kry op reistariewe. Elke nasie, regerings- en nieregeringsorganisasie het verskillende maniere om ouderdom te klassifiseer. Chronologiese veroudering kan dus verskil van "sosiale veroudering" (kulturele verwagtings van hoe iemand behoort op te tree as hulle ouer word) en biologiese veroudering (mense se fisieke toestand terwyl hulle ouer word).[97]
Bevolkingsveroudering is die toename in die aantal of die proporsie van ouer mense in die gemeenskap. Dit het drie moontlike oorsake: migrasie, ’n langer lewensverwagting (’n afname in sterfgevalle) en ’n afname in geboortes. Veroudering het ’n aansienlike impak op die gemeenskap. Jong mense het gewoonlik minder wetlike voorregte (as hulle minderjarig is), hulle is meer geneig om op politieke en sosiale veranderings aan te dring, om nuwe tegnologie te ontwikkel en gebruik, en om opvoeding nodig te hê. Ouer mense het ander vereistes van die gemeenskap en regering, soos besit van eiendom en pensioen.[98]
In die 21ste eeu is veroudering een van die grootste bevolkingsneigings.[99] Meer as 11% van die wêreld se huidige bevolking is 60 jaar of ouer en die Verenigde Nasies (VN) se Bevolkingsfonds raam dat dit teen 2050 tot sowat 22% sal styg.[100]
Veroudering kom voor vanweë ontwikkeling, wat beter voeding, sanitasie, gesondheidsorg, opvoeding en ekonomiese welsyn tot gevolg gehad het. Gevolglik neem vrugbaarheid af en lewensverwagting toe. Die lewensverwagting is in 33 lande hoër as 80 jaar. Veroudering is ’n "wêreldwye verskynsel" wat die vinnigste in ontwikkelende lande toeneem, insluitende dié met groot jong bevolkings, en stel sosiale en ekonomiese uitdagings wat oorkom kan word met "die regte stel beleidsrigtings om individue, families en gemeenskappe toe te rus om hierdie uitdagings te bowe te kom en voordeel daaruit te trek".[101]
Terwyl lewensverwagting styg en geboortes afneem in ontwikkelde lande, styg die mediaanouderdom ook. Volgens die VN vind hierdie proses plaas in feitlik elke land ter wêreld.[102] ’n Stygende mediaanouderdom kan aansienlike sosiale en ekonomiese implikasies inhou, aangesien die werkplek progressief ouer word en die aantal ou werkers en pensioentrekkers toeneem in vergelyking met die jong werkers. Ouer mense het gewoonlik meer geld vir gesondheidsorg nodig as jonger mense en maak aanspraak op pensioen.[103]
Sommige mense het al gesê bevolkingsveroudering het ekonomiese ontwikkeling gestrem.[104] Bewyse dui daarop dat pensioene nie net vir ouer mense voordelig is nie, maar soms vir hele gesinne of families, veral in krisistye wanneer daar ’n werktekort of -verlies in huishoudings kan wees. In ’n studie in 2003 deur die Australiese regering is geraam "vroue tussen 65 en 74 jaar dra A$16 miljard per jaar by tot versorging sonder betaling en welsynwerk. Mans in dieselfde ouderdomsgroep dra nog A$10 miljard per jaar by."[100]
Vanweë die toename van ouer mense in die bevolking sal uitgawes vir gesondheidsorg in die komende dekades bly toeneem relatief tot die ekonomie. Dit is al as ’n negatiewe verskynsel beskou en doeltreffende strategieë soos die verbetering van arbeidsproduktiwiteit moet oorweeg word om die negatiewe gevolge van veroudering teen te werk.[105]
Met veroudering kom onafwendbare biologiese veranderings wat die risiko van siektes en ongeskiktheid verhoog.[101] Terwyl die uitwerking van 'n verouderende bevolking op die gemeenskap ingewikkeld is, is daar kommer oor die impak van die behoefte aan gesondheidsorg in die lande waar dit voorkom. Die talle voorstelle in geskrifte vir spesifieke ingrypings om die verwagte toename in die behoefte aan langtermynversorging te hanteer kan in vier groepe ingedeel word: die verbetering van stelseloptrede, die herontwerping van dienslewering, steun aan informele versorgers en 'n verskuiwing in demografiese parameters.[106]
Die jaarlikse groei in nasionale gesondheidsuitgawes word egter nie hoofsaaklik deur 'n toename in die behoeftes van verouderende gemeenskappe veroorsaak nie, maar eerder deur 'n hoër inkomste, duurder mediese tegnologie, 'n gebrek aan gesondheidswerkers en 'n asimmetrie tussen verskaffers en pasiënte.[107]
Veroudering verduidelik na raming net 0,2 persentasiepunte van die jaarlikse groei in mediese uitgawes van 4,3% sedert 1970. Daarbenewens het sekere veranderings in die Medicare-stelsel in Amerika daartoe gelei dat ouer mense tussen 1996 en 2000 altesaam 12,5% per jaar minder aan gesondheidsorg bestee het.[108]
Skoonheidstandaarde verander deur die dekades voortdurend vanweë ’n groter persepsie van estetika.[109] Daarom brei die kosmetiese bedryf uit en word dit geleidelik deel van baie mense se persoonlike sorgroetine. Kosmeseutika ('n kombinasie van kosmetiese en farmaseutiese eienskappe in ’n enkele produk) is tans die vinnigs groeiende skoonheidsbedryf, met meer as $42 miljard wat in 2018 daarin gestort is.[110] Korea is aan die voorpunt van die navorsing oor en ontwikkeling van kosmeseutiese produkte met middels teen veroudering, insluitende bestanddele soos slakafskeidings, botaniese ekstrakte, groentee en rooiginseng.
Daar is bevind die afskeiding van die gewone tuinslak het antioksidantiese eienskappe, vermenigvuldig velselle en laat ekstrasellulêre proteïene soos kollagaan en fibronektien (belangrike proteïene vir selvermeerdering) toeneem.[111]
Positiewe selfindrukke van veroudering word verbind met beter geestelike en fisieke gesondheid en welsyn.[112] Positiewe selfindrukke van gesondheid is al verbind met beter welsyn en ’n afname in sterftes onder bejaardes.[113][114] Dié gevoel is gewoonlik sterker by mans as by vroue,[114] maar dit is nie in alle studies bevind nie en is dalk net in sekere omstandighede waar.[115]
Wanneer mense ouer word, bly hulle subjektiewe gesondheid relatief stabiel, al verswak hulle objektiewe gesondheid.[116] Dit kan ’n gevolg wees van vergelyking,[117] soos wanneer ouer mense hulle eie gesondheid met dié van ander in hulle ouderdomsgroep vergelyk.[118]
Die begrip "suksesvolle veroudering" kan na die 1950's teruggespoor word en het in die 1980's gewild geraak. Tradisionele definisies daarvan lê klem op die gebrek aan fisieke en kognitiewe gestremdhede.[119] In 1987 het Rowe en Kahn in ’n artikel suksesvolle veroudering beskryf as die betrokkenheid van drie elemente: a) gebrek aan siektes en gestremdhede, b) goeie kognitiewe en fisieke toestand, en c) sosiale en produktiewe betrokkenheid.[120]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.