Wêreldbank
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Wêreldbank (Engels: World Bank) is die wêreld se grootste instelling vir ontwikkelingsamewerking en is op 27 Desember 1945 gestig. Die instelling verskaf lenings aan ontwikkelende lande en middelinkomste-lande, met die bestryding van armoede as sy hoofdoel. Hierdie internasionale bank is tegnies gesproke 'n gespesialiseerde organisasie van die Verenigde Nasies. Die finansiële steun wat deur die Wêreldbank verleen word, word vir verskeie doeleindes aangewend, van strukturele hervormings van 'n land se gesondheids- en onderwyssektor, tot omgewings- en infrastruktuurprobleme soos by damme, paaie en nasionale parke. Die bank stel egter streng eise aan sy kliënte: sogenaamde "strukturele aanpassings" word vereis, soos antikorrupsiemaatreëls en privatisering van regeringsdienste.