Suid-Afrikaanse politikus From Wikipedia, the free encyclopedia
Zindziswa Mandela (23 Desember 1960 - 13 Julie 2020),[1] ook bekend as Zindzi Mandela-Hlongwane, was 'n Suid-Afrikaanse politikus wat ten tyde van haar dood as Suid-Afrika se ambassadeur in Denemarke gedien het. As die dogter van die anti-apartheidsaktiviste Nelson Mandela en Winnie Madikizela-Mandela, was Zindzi die jonger suster van Zenani Mandela en die derde van Nelson Mandela se drie dogters.
Zindziswa Mandela | |
---|---|
Gebore | Zindziswa Mandela 23 Desember 1960 |
Sterf | 13 Julie 2020 (op 59) Johannesburg, Suid-Afrika |
Nasionaliteit | Suid-Afrika |
Beroep | SA ambassadeur in Denemarke |
Bekend vir | Anti-apartheidsaktivis, Eerste Dame van Suid-Afrika van 1996 tot 1998 |
Eggenoot | Zwelibanzi Hlongwane (geskei) Molapo Motlhajwa |
Kinders | 4, insluitende Zoleka Mandela |
Ouer(s) | Nelson Mandela Winnie Madikizela-Mandela |
Zindzi Mandela is op 23 Desember 1960 in Soweto gebore in die destydse Unie van Suid-Afrika met Nelson Mandela en Winnie Mandela as haar ouers. Haar vader was beide 'n direkte afstammeling van die koningskap van die Thembu-volk en 'n erfgenaam van die kapteinskap van Mvezo. Zindzi se bloedverwant, Mandla Mandela, stam van Nelson Mandela af via sy eerste vrou Evelyn Mase, en hou tans hierdie titel.
Die jaar van haar geboorte was ook die jaar toe die African National Congress (ANC) 'n gewapende vleuel van stapel gestuur het. Haar ouers is beide deur die regering vervolg.[2] Toe haar pa tronk toe gestuur is, was Zindzi 18 maande oud. Gedurende haar jeug is Zindzi dikwels in die sorg van haar ouer suster Zenani Mandela gelaat toe haar ma maande op 'n slag tronk toe gestuur is.[3]
In 1977 is haar ma na Brandfort in die Oranje-Vrystaat verban en Zindzi het by haar gewoon. Zindzi kon eers haar opleiding voltooi nadat sy na Swaziland gestuur is. Uiteindelik is haar ma weer toegelaat om na Soweto te verhuis.[3]
In 1985 word haar vader voorwaardelike vrylating aangebied deur die destydse Staatspresident van Suid-Afrika, P. W. Botha. Haar ouers se antwoord kon nie persoonlik gelewer word nie, en Zindzi is gekies om sy weiering tydens 'n openbare vergadering op 10 Februarie 1985 voor te lees.[4]
Sy het regte studeer aan die Universiteit van Kaapstad[2][5], waar sy in 1985 'n BA verwerf het.[6]
Haar poësie is in 1978 gepubliseer in die boek Black as I Am, met foto's van Peter Magubane,[7] en het ook verskyn in publikasies, waaronder Somehow We Survive: An Anthology of South African Writing, onder redaksie van Sterling Plumpp[8] en Daughters of Africa, onder redaksie van Margaret Busby.[9]
Toe Nelson Mandela in 1990 uit die tronk vrygelaat is, het samesprekings onmiddellik begin tussen die ontbande politieke party, die ANC, en die regerende Nasionale Party om die apartheidstelsel te ontbind. Met die agteruitgang van die destydse ANC-president Oliver Tambo, is Mandela verkies as die nuwe ANC-president en 'n kandidaat vir president van Suid-Afrika in die komende algemene verkiesing in 1994.
Nadat Mandela in 1994 tot die land se president verkies is en sy egskeiding van Winnie in 1996, is Zindziswa gekies om haar vader na sy inhuldiging te vergesel en neem sy die posisie as eerste dame van Suid-Afrika in totdat haar pa in 1998 op sy 80ste verjaardag weer trou met die voormalige Mosambiekse eerste dame Graça Machel.[10]
In 2014 word bekendgemaak dat sy as Suid-Afrika se ambassadeur in Denemarke aangestel is, en sy arriveer in Junie 2015 in Denemarke.[11]
Zindzi was twee keer getroud en het vier kinders: Zoleka Mandela (1980), Zondwa Mandela (1985), Bambatha Mandela (1989) en Zwelabo Mandela (1992).[12] Haar eerste man was Zwelibanzi Hlongwane.[13] Sy trou in Maart 2013 met haar tweede man, Molapo Motlhajwa, wat 'n lid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag was.[14] Zindzi sterf op 13 Julie 2020 in Johannesburg, op 59-jarige ouderdom.[15] Sy het ten tyde van haar dood positief getoets vir Covid-19, het haar seun, Zondwa, bevestig op 15 Julie 2020. Dit was egter nog nie duidelik wat die oorsaak van haar dood was nie, aangesien familie nog op die uitslag van 'n nadoodse ondersoek gewag het.[16]
Daar word beweer dat Mandela-Hlongwane ingestem het om 'n boksgeveg tussen Floyd Mayweather en Manny Pacquiao te reël om saam te val met haar vader se verjaardag in 2011. Die boksgeveg het uiteindelik nie plaasgevind nie, en die bokspromotor Duane Moody het haar suksesvol in 'n Amerikaanse hof gedagvaar om hom VS$ 4,7 miljoen plus koste te betaal. Mandela-Hlongwane sou na verwagting appèl aanteken.[17]
In Junie 2019, terwyl sy die ambassadeur in Denemarke was, was daar op Mandela se Twitter-rekening 'n reeks plasings met toenemend sterk taal, waar sy "bewende wit lafaards wat die stelende verkragter-afstammelinge van Van Riebeck (sic) is" bespreek het, en "ongenooide besoekers wat nie wil weggaan" wat aansienlike kontroversie veroorsaak het.[18][19][20][21] Mandela-Hlongwane het vroeër daardie maand haar 'diep, suiwer onvoorwaardelike liefde en respek' uitgespreek teenoor 'CIC' (leier) van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF), Julius Malema. [22]
Terwyl sy deur die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking (DIRCO) ondersoek is vir die oortreding van hul beleid oor sosiale media, het Mandela uitdagend gebly en getwiet "ek is nie aanspreeklik teenoor enige blanke man of vrou vir my persoonlike siening nie. Geen miesies of baas hier nie. Kom oor julleself #OurLand".[23] Sy is deur die minister van buitelandse sake, Naledi Pandor, beveel om "haarself as 'n diplomaat te gedra" en om die departement se sosialemediabeleid te volg. Die voormalige president Thabo Mbeki het kommer oor haar uitlatings uitgespreek en haar sienings is as haatspraak deur die ANC-veteraan Mavuso Msimang beskryf, terwyl haar opinies steun van die EFF en die premier van KwaZulu-Natal Sihle Zikalala gekry het. [24] Haar twiets is naby die einde van haar termyn van vier jaar as ambassadeur in Denemarke geplaas.[25]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.