Foibe (maan)
Maan van Saturnus From Wikipedia, the free encyclopedia
Remove ads
Foibe (Engels: Phoebe) is Saturnus se onreëlmatige maan met die grootste massa. Dit het 'n deursnee van 213 km en is op 18 Maart 1899 deur William Henry Pickering ontdek[5] op foto's wat van 16 Augustus 1898 af by die Boyden-sterrewag in Peru geneem is. 'n Onreëlmatige maan is een wat in die teenoorgestelde rigting wentel as waarin die planeet draai.
Foibe was die eerste satelliet wat fotografies ontdek is. Dit was die eerste teiken wat teengekom is met die aankoms van die Cassini-ruimtetuig in die Saturnus-stelsel in 2004 en is dus besonder goed bestudeer vir 'n onreëlmatige maan van sy grootte. Cassini se vlugbaan na Saturnus en tyd van aankoms is spesifiek gekies om dié verbyvlug moontlik te maak.[6] Ná die verbyvlug en begin van sy wentelbaan om Saturnus het Cassini nie veel verder gegaan as Iapetus se wentelbaan nie.
Foibe is rofweg sferies en het planetêre differensiasie. Vroeg in sy geskiedenis was dit rond en warm, maar dit is deur botsings uit sy ronde vorm gestamp. Dit is vermoedelik 'n sentour wat in die Kuipergordel ontstaan het en deur Saturnus aangetrek is.[7] Foibe is die tweede grootste retrograde maan in die Sonnestelsel, naas Triton.[8]
Remove ads
Geskiedenis
Ontdekking
Foibe is op 17 Maart 1899 deur William Henry Pickering ontdek[5] op fotografiese plate wat van 16 Augustus 1898 af by die Boyden-sterrewag in Peru geneem is.[9] Dit was die eerste maan wat fotografies ontdek is.
Naam
Foibe is genoem na 'n Titaniese godin in die Griekse mitologie wat met die Maan verbind word en Saturnus se suster was.[10] Dit word in wetenskaplike geskrifte ook Saturnus IX genoem. Volgens die Internasionale Sterrekundige Vereniging (IAU) word eienskappe op Foibe genoem na die karakters in die Griekse mite van Jason en die Argonoute. In 2005 het die IAU aan 24 kraters name gegee.[11]
Remove ads
Wentelbaan

Saturnus · Foibe · Titaan
Foibe se wentelbaan is retrograad. Dit beteken hy wentel in die teenoorgestelde rigting as waarin Saturnus roteer. Vir langer as 100 jaar was dit Saturnus se heel buitenste maan, tot in 2000 met die ontdekking van nog verskeie mane. Foibe is omtrent vier keer so ver van Saturnus as sy naaste buurman, Iapetus, en is aansienlik groter as enige van die ander mane wat op omtrent dieselfde afstand van planete af wentel.
Foibe is deel van die Noorse groep mane van Saturnus, 'n groot groep retrograde mane. Hulle baanhellings wissel tussen 136° en 178° en hulle eksentrisiteite tussen 0,06 en 0,63. Foibe kan sy eie subgroep vorm saam met twee ander mane met soortgelyke wentelbane, S/2006 S 20 en S/2006 S 9.
Foibe-ring
Die Foibe-ring is een van Saturnus se ringe. Dit lê met 'n helling van 27 grade met Saturnus se ewenaarvlak (en die ander ringe).

Die ring is versprei van minstens 128 tot 207[12] keer die radius van Saturnus; Foibe wentel op 'n gemiddelde afstand van 215 Saturnusradiusse. Die ring is omtrent 40 keer so dik as die planeet se deursnee.[13]
Omdat die ring se deeltjies vermoedelik geskep word deur botsings van mikrometeoroïdes met Foibe, deel hulle waarskynlik dieselfde retrograde wentelbaan,[14] wat in die teenoorgestelde rigting loop as dié van die volgende binnemaan, Iapetus. Ringmateriaal van na binne die wentelbaan beweeg, sal dus bots met Iapetus se leidende halfrond, en dit kan die rede wees vir Iapetus se twee kleure.[15][16][17] Hoewel die ring baie groot is, is dit feitlik onsigbaar – dit is ontdek met Nasa se infrarooi-ruimteteleskoop Spitzer.
Materiaal van Foibe se oppervlak af kan ook verantwoordelik wees vir die donker streke op die oppervlak van Huperion. Puin van die grootste botsings kan die oorsprong wees van die ander mane van Foibe se groep, die Noorse groep. Almal se radius is kleiner as 10 km.
Remove ads
Fisiese eienskappe

Foibe is rofweg rond en het 'n deursnee van 213±1,4 km[1], omtrent 1⁄16 van die Maan. Dit is Saturnus se negende grootste maan, maar kan die een wees met die agtste grootste massa. Huperion het 'n groter radius, maar 'n kleiner massa as Foibe. Foibe roteer elke 9 uur 16 minute om sy eie as en voltooi 'n volle wentelbaan om Saturnus in sowat 18 maande. Sy oppervlaktemperatuur is gemiddeld 75 K (-198,2 °C).
Die meeste van Saturnus se binnemane het baie helder oppervlakke, maar Foibe se albedo is baie laag (0,06). Foibe se oppervlak is vol kraters van tot 80 km breed. Een se kante is 16 km hoog.
Sowat 50% van Foibe bestaan uit rots, teenoor die 35% of so wat tipies van Saturnus se ander binnemane is. Wetenskaplikes vermoed dus Foibe is 'n sentour wat ver weg, in die Kuipergordel, ontstaan het en toe aangetrek is.[18][19]
Ondanks sy klein grootte was Foibe vermoedelik 'n sferiese voorwerp met planetêre differensiasie. Dit het later solied geword en is deur botsings vol kraters gestamp sodat dit nie meer heeltemal rond is nie.[20]
Verkenning

Anders as Saturnus se ander mane, het Foibe nie in 'n gunstige posisie gelê vir die Voyager-ruimtetuie nie. Voyager 2 het Foibe in September 1981 'n paar uur lank afgeneem. Op die foto's, wat op 'n afstand van 2,2 miljoen km geneem is, was Foibe se grootte omtrent 11 pieksels (beeldpunte) en kon helder kolle op 'n andersins donker oppervlak gesien word.
Cassini het op 11 Junie 2004 net 2 068 km van Foibe af verbygevlieg en baie hoëresolusiefoto's teruggestuur Aarde toe. "Pokmerke" kon op die oppervlak gesien word. Omdat Voyager 2 nie hoëresolusiebeelde van Foibe kon neem nie, was dit 'n prioriteit vir die Cassini-sending,[6] en die tuig se roete is met opset ontwerp om naby die maan verby te beweeg. Danksy Foibe se kort rotasieperiode van sowat 9 uur 17 minute, kon Cassini feitlik Foibe se hele oppervlak karteer.
Kaarte
- 'n Kaart van Foibe se middelste hoogtes. Die hoër hoogte is van die hoofkaart verwyder, maar kan op die poolprojeksies gesien word.
- 'n Kaart van Foibe se suidpoolstreek.
Remove ads
Sien ook
Verwysings
Skakels
Wikiwand - on
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Remove ads