Geelblestinker

From Wikipedia, the free encyclopedia

Geelblestinker
Remove ads

Die geelblestinker (Pogoniulus chrysoconus) is 'n algemene standvoël in boomveld en savanne, met 'n wye verspreiding in Afrika. Die voël is slegs 11 cm groot en weeg 11 tot 16 gram. Dit word soms as dieselde spesie as die rooiblestinker gereken, en behoort tot die Afrika-houtkappers, of Lybiidae. In Engels staan dit as die yellow-fronted tinkerbird bekend. Weens houtkappers se borselhare om die snawel staan hulle in Engels ook as as barbets, of in hierdie geval as tinker barbets bekend.

Kitsfeite Bewaringstatus, Wetenskaplike klassifikasie ...
Remove ads

Subspesies

Die subspesies verskil van mekaar wat die grootte en kleur van die streepmerke op die veredos betref.[2] Hulle sluit in:

  • P. c. chrysoconus (Temminck, 1832)
  • P. c. extoni Layard, 1871 — suidelike Afrika
  • P. c. xanthostictus (Blundell & Lovat, 1899)

Sou P. c. extoni tot die mees suidelike bevolking, naamlik dié van suidoostelike Botswana, noordelike Suid-Afrika en Eswatini beperk word, word die volgende twee subspesies ook erken:[2]

  • P. c. rhodesiae Grant, 1915 — Angola, Zambië, noordoostelike Namibië, Botswana en Zimbabwe
  • P. c. dryas Clancey & Lawson, 1961 — van oostelike tot noordelike Mosambiek noordwaarts
Remove ads

Verspreiding en habitat

Die geelblestinker is 'n wydverspreide en dikwels algemene standvoël in die oorgrote deel van die sub-Sahara. Dit word met mesiese, oop tot geslote breëblaar- of gemengde boom- en struikveld geassosieer. Dit is teenwoordig in oewerbos maar is ylverspreid in droë savanne en kiaatveld.[2]

Beskrywing

Die kenmerkend afgemete toetnote word teen 'n stadiger tempo as dié van die rooiblestinker gelewer.[2]

Die geelblestinker is van snawel- tot stertpunt sowat 11 cm lank. Dit is kompak gebou, met 'n kort nek, groot kop en kort stert. Die volwassene is bolangs donker geveerd, en swaar gestreep met geel en wit merke. Die kop het 'n duidelike swart en wit patroon, met 'n geel kol op die voorkroon (of bles). Onderlangs en oor die kruis is dit lemmetjiegeel geveerd. Die genders is eenders wat voorkoms betref, maar jongvoëls het donker kroonvere waarby die kenmerkende geel bleskol ontbreek.

Broeigedrag

Nesholte

Thumb
'n Aktiewe nes in 'n dooie tak van wildevyboom in Limpopo
Twee kuikens roep alternerend uit 'n nesholte tydens midsomer

Die spesie maak nes in gate wat hulle sowat 2 tot 5 meter bogronds in dooie boomtakke uithol. 'n Legsel van 2 tot 3 dofwit eiers word op 'n matjie van houtspaanders op die bodem van die neskamer gelê.[2] Die kuikens roep onophoudelik, en word deur albei ouers met vruggies en insekprooi gevoer. 'n Nes hou gewoonlik slegs vir 'n enkele broeiseisoen en word gereeld deur groter houtkapperspesies oorgeneem.[2]

Remove ads

Roepe

'n Bekende roep van die geelblestinker is 'n vinnige tink-tink-tink-tink, wat teen sowat 100 repetisies per minuut gelewer word. Etlike houtkapperspesies sal van 'n oop sitplek roep, maar anders as hul groter verwante, sing tinkers tipies van 'n verskuilde sitplek, en word aldus meer dikwels gehoor as gesien.

Dieet

Die geelblestinker vreet insekte en vrugte. Voëlentvrugte (Tapinanthus- en Viscum-spesies) word heel ingesluk. Die klewerige sade daarvan word later opgebring en aan nabye takke afgevee. Oor hul verspreidingsgebied is geelblestinkers die mees belangrike verspreider van voëlentplante.[3]

Kyk ook

Bronnelys

Verwysings

Eksterne skakels

Loading related searches...

Wikiwand - on

Seamless Wikipedia browsing. On steroids.

Remove ads