Jaco Jacobs

Suid-Afrikaanse kinderboekskrywer From Wikipedia, the free encyclopedia

Jaco Jacobs
Remove ads

Jaco Jacobs (gebore 22 Februarie 1980) is ’n Suid-Afrikaanse kinderboekskrywer wat reeds meer as 260 boeke gepubliseer het.[1] Sy boeke het al meer as 1 miljoen eksemplare verkoop en is in Engels, Nederlands, Sloweens, Spaans en Italiaans vertaal.[1]

Kitsfeite Gebore, Beroep ...

Hy is onder meer bekend as skrywer van die topverkoper-jeugroman Suurlemoen! (wat in 2014 verfilm is). Hy publiseer ook verskeie verhale onder skuilname. As Tania Brink publiseer hy liefdesverhale vir meisies en as Lize Roux publiseer hy die Stalmaats-reeks.

Remove ads

Biografie

Jaco Jacobs is op 22 Februarie 1980 op Carnarvon in die Karoo gebore. Hy het op skool reeds begin om vir tydskrifte soos Sarie kortverhale te skryf, hy neem ook al in sy skooldae aan skryfkompetisies deel. In 1998, in sy matriekjaar is hy die hoofseun van Hoërskool Carnarvon. In matriek het hy onder meer die Poortprys vir Prosa en die Poortprys vir Poësie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang.[2]

Hierna studeer hy vanaf 1999 verder aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat waar hy in 2001 die B.A.-graad in Kommunikasiekunde met lof verwerf. In hierdie jaar verwerf hy die dekaansmedalje as die beste voorgraadse student in die Fakulteit Geesteswetenskappe en in 2002 kry hy erekleure in letterkunde op grond van die publikasie van sy jeugboeke. In 2001 het sy eerste kinderboek, Troetelgedrog, by Lapa-uitgewers verskyn.

In 2002 behaal hy die B.A. Honneursgraad in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van die Vrystaat en skryf daarna in vir 'n M.A.-graad in Taalstudies. In Bloemfontein werk hy vir ’n ruk as boekeredakteur van Volksblad en ook redakteur van hierdie koerant se Jip-bylae en die naweekbylae Joernaal. In 2004 word hy kinderboekuitgewer by Lapa-uitgewers, waar hy verantwoordelik is vir die keuring en proeflees van nuwe manuskripte vir publikasie, terwyl hy ook talle oorsese boeke vertaal om in Afrikaans uit te gee. Op gereelde basis besoek hy skole waar hy kinders en tieners aanmoedig om te lees.

Jacobs skryf vir kinders in ’n verskeidenheid genres – van prenteboeke vir kleuters tot jeugromans vir tieners. Daar het ook ’n hele aantal reeksboeke uit sy pen verskyn, waaronder die Zackie Mostert-reeks, die Professor Fungus-reeks en die Stalmaats-reeks. Laasgenoemde is geskryf onder die skuilnaam Lize Roux. Hy het ook ’n aantal jeugverhale onder die skuilnaam Tania Brink geskryf.[2]

Humor is ’n baie sterk kenmerk van sy werk. In ’n onderhoud met Books Live[3] sê hy: “Hulle sê die pad na ’n man se hart loop deur sy maag; maar ek het geleer die pad na ’n leser se hart loop dikwels deur sy lagspiere. Moet nooit ooit die waarde van humor onderskat nie. Selfs al onthou ’n leser niks van ’n storie nie, is die kans goed dat hy die gevoel sal onthou as ’n boek hom kon laat glimlag terwyl hy dit gelees het.”

’n Rolprent gegrond op sy gewilde jeugboek Suurlemoen! is in 2014 vrygestel, gevolg deur Nul is nie niks nie in 2017, ’n filmweergawe van Jacobs se jeugroman Oor ’n motorfiets, ’n zombiefliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word. Van sy kleuterverse is ook in 2012 deur die sangeres Anna Davel getoonset en opgeneem as ’n kinderalbum getiteld In die land van Kammalielie.

Benewens sy skryfwerk is hy ook ’n rubriekskrywer, vryskutjoernalis, blogger en vertaler. Hy het oor die jare reeds meer as 250 kinderboeke in Afrikaans vertaal, insluitend boeke van skrywers soos Julia Donaldson en Chris Riddell.

Jacobs woon in Bloemfontein saam met sy vrou, Elize, en twee dogters, Mia en Emma. Hy het ’n suster wat drie jaar jonger is as hy.

Remove ads

Skryfwerk

Op sewejarige ouderdom skryf hy sy eerste “prenteboek”, wat hy self illustreer en met ’n kramdrukker bind. Sy jonger sussie is nie beïndruk nie, waarna hy die skrywery vir eers los. Op dertienjarige ouderdom in graad sewe begin hy weer skryf en voltooi sy eerste boek in matriek, wat later as Pretpark gepubliseer word. Op skool neem hy deel aan die skryfkompetisie van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging en die ATKV se poësie- en kortverhaalwedstryde en wen eerste pryse in almal. As resultaat word sy stories in die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se kompetisiebundel Inkvars opgeneem en as prys van die ATKV kan hy die herfsskool in Potchefstroom bywoon. Steeds op skool ontvang hy ook die Poortprys vir prosa en poësie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. In sy matriekjaar verkoop hy sy eerste tydskrifstories aan Sarie, waarna die verhaalredakteur, Francois Bloemhof, hom aanmoedig om kinderverhale te skryf. In sy studentejare wen hy verskeie pryse vir sy skryfwerk, waaronder die Gerhard Beukes-prys vir kreatiewe skryfwerk in 1999, 2000 en 2001. In 1999 is hy die naaswenner in ’n liefdesverhaalwedstryd van Sarie. Hy stel die bloemlesing Toulopers saam, waarin hy nuwe gedigte van verskeie digters wat spesifiek vir tieners geskryf is, opneem.

Van sy werk word in verskeie versamelbundels opgeneem, insluitende Poort ‘98, Vir tieners deur tieners, Douspoor, Die boek van spoke, Afrikaans-is-lekker-verhale, Van spoke gepraat, Spekskiet, Susie Veer en ander verhale, Sweef, 13 Spookstories, Skreeu, Verlief en Toulopers,[4] terwyl kortverhale van hom ook in Sarie en Rooi Rose verskyn. Van sy gedigte verskyn ook in Mirror Images, die publikasie van die Poetry Institute of South Africa.

Jeugboeke

Dit is met sy kinder- en jeugboeke wat hy sy grootste bydrae maak. Pretpark is ’n spanningsverhaal waarin die Zomna-pretpark die vrede in die dorpie Rustenvrede bedreig. ’n Paar dae voor die opening van die pretpark besoek ’n klompie kunstenaars die skool om ’n voorskou te gee van al die lekker dinge wat die kinders te wagte kan wees. Johan en Anton het egter reeds die vorige middag met die ongeskikte ou sigeunerin kennis gemaak. Nou sit hulle hier op die verhoog van die skoolsaal en sy is besig om hulle te hipnotiseer. Sy sê dit is net ’n onskuldige ou toertjie, maar dan begin die kinders siek word.[5] Pretpark word in 2004 bekroon met ’n ATKV Kinderboektoekenning vir graad 6-7.

Suurlemoen! vertel van twee seuns, Tiaan en Zane, wat sonder veel sukses ’n rockorkes wil stig. Hulle vind egter uit dat daar altyd iemand is wat jou raaksien. Die titel van die boek is ook die naam van hulle rockorkes.[6][7] Hierdie boek word in 2008 deur die Suid-Afrikaanse tak van IBBY (The International Board on Books for Young People) as ereboek aangewys in die Afrikaanse kategorie en word later ook verwerk in ’n vollengte rolprent.

Virus is ’n riller vir die jeug, met strippe wat plek-plek die verhaal oorneem.

Verneukpan word in 2007 aangewys as die wenner van die Maskew Miller Longman kompetisie vir jeugletterkunde. Twee graad elf-leerlinge pak in die vakansie voor hulle laaste skooljaar onder valse voorwendsels ’n reis na ’n afgeleë plek in die Karoo aan, sonder dat een van hulle oor ’n rybewys beskik. Hulle doel is om ’n groot ondergrondse rave wat by Verneukpan gehou gaan word, by te woon. Hier kom hulle in aanraking met ’n ouer vrou en gebruik dwelms en sterk drank, maar word wreed ontnugter aan die einde. Letterlik word hulle verneuk by Verneukpan.[8]

Oor 'n motorfiets, 'n zombiefliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word se hoofkarakter is die dertienjarige Martin Retief, ’n eenkantkind wat die geselskap van sy leghornhoenders geniet en Wiskunde gebruik om sin te maak van die lewe. Die nuwe buurseun Drikus is geweldig passievol oor zombieflieks en hy oorreed vir Martin om ’n zombiefliek saam met hom te maak. Chris is die mooiste en kwaaiste meisie in die skool, en sy help ook met die fliek en bied ’n stem van rede aan die twee seuns se weghol-idees. Dit is die begin van ’n spannende verhaal, met talle humoristiese voorvalle. Deur Martin se eenvoudige en byna naïewe lewensbeskouing word moeilike onderwerpe en lewensvrae uitstekend verwoord en hanteer en ’n fyn balans word tussen die positiewe en negatiewe gehandhaaf, terwyl steeds ruimte gelaat word vir ’n leser se eie mening. Die illustrasies word knap aangewend en wys byvoorbeeld vir die leser wat die verteller sien, soos die zombiefliek se plakkaat. Dít versterk die leser se betrokkenheid by die verhaal.[9] Hierdie boek is in 2014 een van die boeke op ’n langlys deur skrywers in verskeie tale wat om die nuutgestigte Found In Translation-prys meeding. Hierdie kompetisie is ingestel deur die Britse literêre agentskap Rights People, wat kinderboeke wêreldwyd verteenwoordig. Die doel is om belowende internasionale fiksie wat nie oorspronklik in Engels verskyn het nie, vir kinders te vind en die wenboeke word deur vertaling en internasionale verteenwoordiging aan ’n breër gehoor bekendgestel. Die boek is in 2014 ook op die kortlys vir die toekenning van die KykNet-Rapport-prys in die rolprentkategorie.

′n Goeie dag vir boomklim vertel van Marnus se groot geleentheid om raakgesien te word. Hy is die middelste van drie broers, met sy ouer en jonger broer wat gereeld die kalklig steel met hulle uitsonderlike prestasies. Wanneer Leila aan sy deur klop om te vra dat hy ’n petisie teken, begin sy avontuur. Voordat hy mooi weet wat aangaan, sit hy saam met Leila in ’n boom in ’n desperate poging om te keer dat dit afgekap word. In die proses ontmoet hy ’n klomp kleurryke karakters.

Perfek is ’n tiener liefdesverhaal wat in 2010 aangewys word as die wenner van die ATKV Kinderboektoekenning vir graad 6-7.

Duskant die doodlyn is ’n jeugroman oor rugby, waar die stryd om die ligabeker in felheid toeneem wanneer iemand slaappille in die hoofkarakter se waterbottel gooi.[10]

Kinderboeke

Net aliens eet spinasie is in 2006 op die kortlys vir die toekenning van die M.E.R.-prys vir kinderlektuur. Dit bevat sewe grilstories oor vampiere, spoke en ander gedrogte.[11]

Superheroes vlieg net saans se hoofkarakter is Miek. Hy kleur die witmuis van die Natuurwetenskapklas groen sodat hy nie gedissekteer kan word nie en dieselfde dag kry hy ’n “superhero” in sy agterplaas. In hierdie verhaal kom Miek tot die insig dat alles nie altyd is soos dit op die oog af lyk nie.[12]

In 2005 wen My ouma is 'n rock-ster (geïllustreer deur Frans Groenewald) die ATKV Kinderboektoekenning vir Graad 1-3. Hierdie boek beleef agt herdrukke en word dan in 2015 opgevolg met My ouma is 'n filmster. Rikus se ouma is as hoofsanger van die groep Ouma weer in die nuus. Sy gaan optree in die fliek “Opskop” en nooi Rikus en sy vriend Puleng om byspelers te wees. Op die stel is die twee maar bra verveeld terwyl hulle wag dat die fliek geskiet moet word, maar skielik verskyn ’n pienk teddiebeer langs Rikus. Hy dreig om hom dood te maak as sy ouma nie afsien van haar rol in die fliek nie.[13]

In Bertie Blikbrein is Nico se pa ’n uitvinder, wat al baie vreemde dinge ontwerp het, soos haarjel wat van kleur verander, ’n stoel wat jou kielie as jy aan die slaap raak en sandale wat jou toonnaels knip. Sy nuutste uitvinding is ’n regte robot en Bertie Blikbrein kan praat, somme doen en selfs grappies vertel. Toe Nico en sy beste vriend baklei, besluit Nico om Bertie saam skool toe te vat.

Suzie se superdoepersjampoe vertel van Suzie wat almal se hare kam en duidelik bestem is om haarkapper te word. Oupa het egter geen hare nie en Suzie moet ’n plan maak.

Middernagfees is ’n riller waarin vampiere, weerwolwe, ’n zombie-poedel, besoekers uit die buitenste ruim en ’n monstertoilet almal optree om vrees aan te wakker. Hierdie boek verower in 2010 die ATKV Kinderboektoekenning vir graad 4-5.

In Koebaai, gorilla sal Hein Venter enigiets doen vir sy vriend Enrico se heerlike toebroodjies, selfs ’n asblik op sy kop dra en belowe om ’n hele week lank nie sy tande te borsel nie. Sy slegte asem maak hom egter ongewild by sy grootouers se huis en by die skool. ’n Gorilla ontsnap uit sy hok in die dieretuin en Enrico se lewe word bedreig, maar nou kom Hein se slegte asem tot sy redding.

Harlekyn is in 2010 die wenverhaal in die kinderverhaalkompetisie van Tafelberg Uitgewers en Klein-Burger en wen in 2011 die ATKV Kinderboektoekenning vir graad 4-5. Werner se grootste vrees in die lewe is narre. Sy suster Sunet koop ’n harlekynpop by ’n oudhedewinkel en daarna begin vreemde dinge in hulle huis gebeur.

Op dramagebied skryf hy Kaptein Blitz en die skool vir superheroes, ’n drama vir die jongspan. Soos die titel aandui, is hierdie stuk vol superhelde, super-gadgets en superskurke. Dit debuteer in 2012 op Aardklop, met die bekende akteur Frank Opperman wat die rol van Kaptein Blitz speel.

Reeksboeke

Grille en goeters

Troetelgedrog, Tande, Nag van die monsters, Nagvlerke en Voelers is boeke in die Grille en Goeters-reeks.

In Troetelgedrog koop die hoofkarakter by ’n nuwe winkel ’n speelgoedgedroggie. Die volgende dag is die winkel weg en die gedroggie glad nie meer onskuldig nie.

Tande is ’n weerwolfverhaal met onverwagte kinkels, wat die spanning enduit volhou. Wanneer die wolke voor die maan wegtrek sien Rikus vir die eerste keer die weerwolf, wat voor hom op sy agterpote orent kom en dan bloedstollend grom.[10] Aanvanklik is die nuwe onderwyseres, juffrou Lupus, die hoofverdagte, maar dan kry die verhaal ’n onverwagte kinkel.

In 2005 wen Nag van die monsters die ATKV Kinderboektoekenning vir Graad 4-5.

’n Kas vol monsters

Die reeks ’n Kas vol monsters is gemik op laerskoolkinders. Die reeks  bestaan uit Die groen hand, Vampierfoto’s, Hollywood mummie, Weerwolf-probleme, Die perfekte monster en Kinderspeletjies.

In Die groen hand hoor Denver in die middel van die nag iemand aan sy kasdeur klop, maar niemand gaan hom glo as hy vertel wat hy gesien het nie. Die kas in Denver se kamer is die geheime ingang na ’n kasteel vol monsters en in Vampierfoto's gaan Denver en Meyer weer hiernatoe. Hulle vind uit dat om foto’s van ’n vampier te neem ’n pyn in die nek kan wees.

Kinderspeletjies wen in 2013 die ATKV Kinderboektoekenning vir graad 1 tot graad 3.

Zackie Mostert

Die Zackie Mostert-reeks is vir kinders van ongeveer nege jaar. Zackie Mostert en sy beste vriend, Vincent, is gedurig besig met kattekwaad wat sorg vir skreeusnaakse avonture.

In Zackie Mostert en die gemaskerde groen gevaar besluit Zackie en Vincent dat hulle superhelde wil word wat mooi meisies uit gevaar red, skurke vastrap en misdaad uitroei. Dit lyk egter nie of Granaatstraat genoeg werk het vir twee superhelde nie, totdat hulle in ’n regte skelm vasloop.

In Zackie Mostert en die spokerige storie besluit Zackie en Vincent om ’n spookstorie-aand te hou. Hulle kamp in die tuin uit en lees stories wat hulle hare laat rys. Dan gebeur daar onverwags iets wat die hele skool laat dink dat hulle twee bangbroeke is.

In Zackie Mostert en die ongelooflike kulkunsie ontdek Zackie ’n ou boks in die buitekamer, wat propvol dinge is waarmee jy ongelooflike kulkunsies kan doen. Hy en Vincent besluit om ’n vertoning by die skool aan te bied. Een van Zackie se fantastiese toertjies loop skeef en hy en Vincent is in groot moeilikheid.

In Zackie Mostert en die wriemelende wurmkoekies het Zackie en Vincent dringend geld nodig om na die opening van die nuwe pretpark te gaan. Zackie besluit om koekies te bak en by die skool te verkoop, maar ongelukkig is daar ’n sappige, wriemelende wurm in die koekiedeeg.

Bastian Blom

 Bastian Blom is ’n fantasiereeks vir kinders van nege jaar en ouer. Bastian is mal oor outydse goed, omdat sy pa al jare lank ’n antiekwinkel het. Die winkel se naam is Optelgoed. Dit is op die onderste verdieping van ’n groot ou huis geleë en Bastian en sy pa bly op die boonste verdieping. Bastian versamel graag vreemde goed, soos valstande, ou brille, posseëls met vlermuise op (hy het nog net dertien – daar is nie baie seëls met vlermuise op nie), skilderye van katte (hiervan hou Cheddar, sy troetelrot, glad nie), porselein-uile en boeke met spookstories. Die vreemde en fantastiese goed in die antiekwinkel lei Bastian en sy vriendin Lindi keer op keer na allerlei ongelooflike avonture.

 In Bastian Blom en die gillende geraamte is Bastian al gewoond aan vreemde besoekers in sy pa se antiekwinkel. Dis egter die eerste keer dat ’n geraamte by die winkel kom inloer. Hy probeer ook om uit te vind wie die geheimsinnige Max Beekman is, wat laatnag in die winkel opdaag en sulke treurige liedjies op sy saksofoon speel. Bastian moet ’n beenafgeraamte help om die meisie van sy drome, die pragtige Patella du Preez, se hart te wen.

 In Bastian Blom en die woedende weerwolf kry die antiekwinkel ’n harige besoeker wat vir die volmaan tjank. Bastian moet help om die raaisel op te los rondom twee families wat al jare lank in ’n geveg gewikkel is.

Professor Fungus

Die Professor Fungus-reeks is ’n fantasiereeks vir laerskoolkinders. Professor Fungus is ’n eksentrieke wetenskaplike wat gereeld eienaardige uitvindsels maak, waarmee hy die tweeling Bennie en Jenny vermaak. Elke boek word afgesluit met ’n eksperiment wat kinders kan doen.

Professor Fungus en die zombie-tamaties is ’n eksperiment om groente sappiger te maak, maar daar is groot fout met die tamaties in die kweekhuis. Die tweeling vind uit dat hierdie tamaties nie sommer aan hulle laat eet nie.

In Professor Fungus en die ongelooflike miniatuur-avontuur is die professor se nuwe uitvinding, die K.R.I.M.P. 3000, fantasties, want dit kan enige ding piepklein maak. Die tweeling het egter nie verwag dat hulle slagoffers sal word nie.

In Professor Fungus en die jelliemonsters van mars is Professor Fungus se jongste uitvindsel die H.A.L.L.O., ’n toestel om na lewe in die buitenste ruimte te soek en dit op te spoor. ’n Vreemde vlieënde voorwerp land dan in hul tuin en drie ruimtewesens wat lyk soos jelliebabas klim uit. Hulle is afkomstig van die rooi planeet en is gevaarlik en mal oor suur eetgoed. Die kinders dra net aan, terwyl hulle saam met die professor ’n asyn-en-koeksoda-mengsel berei wat dalk van hierdie gevaarlike kreature ontslae kan raak.[13][14]

Professor Fungus en die skrikwekkende Snotzilla wen ATKV Kinderboektoekenning vir graad 1-3 in 2010.

Professor Fungus en die breindrein-eksperiment speel af by ’n wetenskap-expo waarheen professor Fungus die tweeling nooi. Die mense by die expo begin egter skielik vreemd optree en gevries raak. Bennie dink dat die rede iets te doen het met die badkamer en hy ontdek vreemde masjiene in elke toilet. Mario Peyper noem dit sy brein-drein-eksperiment, waarmee hy mense op ’n afstand kan beheer en in brein-zombies verander.[13][14]

Kleuterboeke

Jaco lewer ook werk vir kleuters.

Liewe land, 'n olifant! is ’n kinderprenteboek gemik op die baie jong lesers, waar klein Sonja ’n eiesoortige troeteldier wil hê.[15] Hierdie boek word in 2009 bekroon met die ATKV Kinderboektoekenning vir 3-6 jaar.

In Bertus soek 'n boek gaan Bertus teensinnig biblioteek toe, want hy haat boeke. Die bibliotekaresse wys hom egter die Rooihuide, dinosourusse, vampiere en ander opwindende goed wat in die blaaie van die boeke op die vaal rakke skuil.

Madelief, moenie is ’n verhaal waar Madelief baie anders is as ander prinsesse. Sy dra nie graag rokke nie, sy het vreemde troeteldiere, sy hou nie van bad nie en sy spring op haar bed.

Danie Dreyer se dinosouruseier is ’n prenteboek vir die heel kleintjies en verower in 2008 die ATKV Kinderboektoekenning vir 3-6 jaar.

Die prenteboek Slaaptyd, Matilda vertel van die belangrike en prettige dinge wat Matilda eers moet doen voordat sy gaan slaap.

Waarvoor is seerowers bang? wen in 2013 die ATKV Kinderboektoekenning vir 3-6 jaar, terwyl die illustreerder Chris Venter vir hierdie boek die illustrasieprys wen.

Feiteboeke

’n Aantal van sy boeke is nie-fiksie boeke gerig op die kinders en jeug.

Rugbypret is ’n aktiwiteitsboek, goed geïllustreer met rugbyfeite en -raaisels, saamgebind met die storie Duskant die doodlyn.

Saam met Jacques Rudolph, bekende krieketspeler, skryf hy ’n soortgelyke boek oor krieket onder die titel Krieketpret, wat ook die storie Gevaarlike lopies insluit.

Hoe hoog kan 'n sprinkaan spring? bevat interessante feite oor Suid-Afrikaanse goggas.

Hoe wyd kan 'n seekoei se bek ooprek? is ’n volkleur boek propvol foto’s, illustrasies en feite oor Suid-Afrikaanse soogdiere.

Wat weeg 'n walvis? bevat interessante feite oor haaie, dolfyne, visse, robbe, jellievisse en ander Suid-Afrikaanse seelewe.

Onverklaarbaar beantwoord vrae oor vreemde goed soos drake, monsters, vampiere, meerminne en verlore stede en vertel die storie agter die storie op boeiende wyse.

Rympieboeke

Verskeie bundels met kinderversies en rympies van hom sien die lig.

Wurms met tamatiesous bevat meer as vyftig prettige, grillerige en snaakse rympies en word in 2007 bekroon met die Alba Bouwer-prys.[16]

Oempakadoempa is ’n rympieboek vir kleuters, vergesel van aksies en aktiwiteite om die leeservaring interaktief te maak. Hy volg dit op met My boetie dink hy's Batman en ander rympies.

Haasmoles wen in 2012 die ATKV kinderboektoekenning vir voorlees vir 3-6 jaar.

Holderstebolder: rympies vir rakkers is ’n rympieboek vir kleuters. Hierin is daar rympies van alles en nog wat, soos opstaantyd, ’n borrelbadfees en ’n teddiebeer wat sy goeienagsoen wil hê.

Kougom in my hare en ander rympies is vir beginnerlesers en bevat meer as veertig rympies vol humor. Van sy kinderverse is deur Anna Davel getoonset en in die kinderalbum In die land van Kammalielie opgeneem.

Vertaler en samesteller

As vertaler in Afrikaans lewer hy ook ’n belangrike bydrae en hy vertaal meer as tweehonderd boeke, van kinderboeke tot tegnologie-boeke. Van sy vertalings sluit in A bear in a cave van Michael Rosen as ′n Beer in ’n grot en Alex Smith se Grietjie en die baie honger leeu.[17] Vir sy vertaling van Chris Riddel se Ottoline and the yellow cat as Willemien en die geel kat kry hy in 2009 die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut se prys vir die vertaling van kinderboeke en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Elsabé Steenbergprys vir vertaalde kinder- en jeugliteratuur.

As samesteller sorg hy vir Verlief, ’n bundel met elf kortverhale oor jeugdige verhoudings, wat benewens sy eie ook verhale insluit van skrywers soos Fanie Viljoen, Nelia Engelbrecht, Christine Neser, Elmarie Botes en Solet Scheeres[18]

Remove ads

Skuilname

Tania Brink

Hy skryf ook liefdesverhale vir meisies onder die skuilnaam Tania Brink.

Liefde laat jou Rice Krispies anders proe is ’n liefdesroman waarin die bekende drama van William Shakespeare, Romeo en Juliet, as interteks ’n belangrike rol speel. Die hoofkarakter is ’n geswore feminis en joernalis by die dorpskoerant, met die onbekende romantiese held ’n Internet-digter wat almal bekoor met sy mooi gedigte. In 2002 word hierdie boek met ’n ATKV Kinderboektoekenning vir 13-15 jaar bekroon.

Ouens is nie pizzas nie word in 2007 bekroon met die ATKV Kinderboektoekenning vir graad 8-10. Hierin werk Anja en Zanelle vir die Desembervakansie by ’n pizzeria by die see. Hulle ontmoet die twee boeties Markus en Abrie. Zanelle vermoed dat al twee boeties op Anja verlief is, maar dan gebeur iets wat Anja en Zanelle woedend maak vir die twee broers.[19]

My hart is vol graffiti wen in 2012 die ATKV kinderboektoekenning vir graad 6-7.

Al die meisies hou van Divan Louw wen in 2013 die ATKV Kinderboektoekenning vir graad 6 tot graad 7.

Wian Verwey het 'n crush op my wen in 2015 die ATKV-Kinderboektoekenning vir graad 6-7.

Lize Roux

Onder die naam Lize Roux skryf hy die Stalmaats-reeks vir die jeug. Hierdie reeks wentel om Anri Marais en haar maats, Megan en Karen, en hulle wedervaringe by die Dagbreek-ryskool. Hulle het allerhande verantwoordelikhede by die ryskool en maak ook kennis met oneerlike perdekopers en ander bose mense. Natuurlik is daar ook die perde, wat diep in hulle harte kruip.

Totsiens, Sugerplum wen in 2007 die ATKV-Kinderboektoekenning vir graad 4-5 [20] en dieselfde prys vir dieselfde ouderdomsgroep word in 2008 gewen deur Die spookperd en in 2014 met Rivierperde.

Eerbewyse en toekennings

Eerbewyse

Volksblad vereer hom in 2005 met die Hennie van Deventer-trofee vir joernalistiek. In 2006 kry hy deur die Vrystaat-jeugkommissie ’n premiers-eerbewys vir die tweede plek behaal in die kuns en kultuurafdeling, terwyl hy in dieselfde jaar tydens die jaarlikse Mondi-toekennings eervol vermeld word vir sy rubriek in Rapport. In 2011 word hy benoem vir die Bloemfonteiner van die Jaar wedstryd wat geborg word deur Ons Stad, die Mimosa-filmgroep en Absa, terwyl Radio Rosestad in dieselfde jaar aan hom die Rooseerbewys gee vir sy bydrae tot jeuglektuur.

Toekennings

Jacobs se skryfwerk is onder meer bekroon met die Alba Bouwerprys (twee maal), die C.P. Hoogenhoutprys, die MML-letterkundeprys en 35 ATKV-kinderboektoekennings. Sy vertaling van Chris Riddell se Ottoline and the Yellow Cat (Willemien en die Geel Kat) het aan hom die Elsabe Steenbergprys vir Vertaalde Kinder- en Jeugliteratuur in Afrikaans (2009) asook die SAVI-prys vir kinderboekvertaling (2009) besorg. In 2016 wen hy die kykNet-Rapport-boekprys van R100,000 met sy boek 'n Goeie dag vir boomklim in die filmkategorie.[21]

Remove ads

Publikasies[22]

Nie-reeks boeke

Meer inligting Jaar, Titel van publikasie ...

Bastian Blom-reeks

Meer inligting Jaar, Titel van publikasie ...

Grille en Goeters-reeks

Meer inligting Jaar, Titel van publikasie ...

’n Kas vol monsters-reeks

Meer inligting Jaar, Titel van publikasie ...

Professor Fungus-reeks

Meer inligting Jaar, Titel van publikasie ...

  Zackie Mostert-reeks

Meer inligting Jaar, Titel van publikasie ...

Vertalings

Meer inligting Jaar, Titel van publikasie ...

Samesteller

Meer inligting Jaar, Titel van publikasie ...

Tania Brink

Meer inligting Jaar, Titel van publikasie ...

Lize Roux

Stalmaats-reeks

Meer inligting Jaar, Titel van publikasie ...

Reënboogrant-reeks

Meer inligting Jaar, Titel van publikasie ...
Remove ads

Bronne

Boeke

  • Wybenga, Gretel en Snyman, Maritha (reds.) Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom. Lapa-Uitgewers Eerste uitgawe Tweede druk 2005

Tydskrifte en koerante

  • Anoniem. Drie bekende skrywers maak aspirante touwys op BSV-slypskool. Volksblad, 25 Julie 2006
  • Anoniem. Jeugskrywer stap met meeste veertjies weg. Beeld, 8 September 2008
  • Anoniem. Skrywers en ander bekroon vir vertalings. Plus, 7 Oktober 2009
  • Beeton, Marisa. Jaco is ’n lekker ou! Rapport, 27 Mei 2007
  • De Kock, Anita. Jaco Jacobs se lugkastele vol fantasieë en superheroes. Kakkerlak. Uitgawe 2, 2005
  • Dempers, Adéle. Talent én boeke vir Afrika(ans). Volksblad, 22 Maart 2010
  • Diedericks-Hugo, Carina. Die wêreld van ’n kind. Rapport, 6 Februarie 2011
  • Engelbrecht, Theunis. Die swart gat in Afrikaanse letterkunde. Rapport, 7 November 2004
  • Gericke, Marietjie. Bekroonde jeugskrywer benoem. Ons Stad, 16 Junie 2011
  • Jacobs, Jaco en Viljoen, Fanie. Twee skryfmeesters bymekaar. Taalgenoot, Februarie 2009
  • Jacobs, Jaco. Boeke is my speelplek. Rapport, 6 April 2014
  • Marais, Annemarie. Halfgebakte skryfsels… werk eenvoudig nie vir kinders. Beeld, 27 April 2007
  • Nieuwoudt, Stephanie. Jaco Jacobs ryg pryse in vir eie en vertaalwerk. Die Burger, 24 Oktober 2009
  • Oosthuizen, Mia. Die wonder van die reeksboek. Rapport, 2 Februarie 2014
  • Torr, Donnay. Vergeet en begin skryf. Jip, 23 Mei 2005

Ongepubliseerde dokumente

Remove ads

Verwysings

Eksterne Skakels

Loading related searches...

Wikiwand - on

Seamless Wikipedia browsing. On steroids.

Remove ads