Lise Meitner

Oostenryks-Sweedse fisikus (1878 – 1968) From Wikipedia, the free encyclopedia

Lise Meitner
Remove ads

Lise Meitner (Wene, 7 November 1878Cambridge, 27 Oktober 1968)[1] was 'n Oostenryks-Sweedse fisikus wat saam met Otto Hahn en Fritz Strassmann kernsplyting ontdek het, die fundamentele meganisme wat verantwoordelik is vir kernenergie en ook vir kernwapens. Sy word aangehaal as 'n uitstekende voorbeeld van 'n vrou wie se uitsonderlike wetenskaplike prestasies oorskadu is deur dié van 'n manlike kollega toe die Nobelprys aan hom toegeken is.[2][3][4][5] Kort voor haar dood is haar bydrae formeel wetenskaplik erken met die toekenning van die Amerikaanse Enrico Fermi-toekenning in 1966.

Kitsfeite Geboortenaam, Gebore ...

Meitner het in Berlyn gewerk as 'n navorsingswetenskaplike by die voorganger van die Max Planck Instituut. Sy het daar saam met Otto Hahn en assistent Fritz Strassmann in die navorsingsgroep onder leiding van Hermann Emil Fischer gewerk. Hoof van die navorsingsgroep, Max Planck, het geglo dat vroue nie hoër onderwys moet volg nie, maar onder die indruk van haar intelligensie, het hy haar in 1907 as 'n assistent toegelaat.[6] By hierdie bekende wetenskaplike instituut was daar 'n streng skeiding van rolle tussen die geslagte, mans het die goed-betaalde wetenskaplike poste gekry en het aan die hoof van 'n navorsingsgroep gestaan, vroue het as sekretaresses gewerk, al het hulle dieselfde kwalifikasies gehad.[7][8] Meitner het dus aanvanklik in die geheim, in 'n kelder, en onbetaald gewerk as 'n gas van 'n manlike wetenskaplike navorser.[6]

Toe die Nazi-bewind in Duitsland en later in Oostenryk aan bewind gekom het, het dit onmoontlik geword vir die Joodse Meitner om te werk. Sy het met die hulp van Nederlandse kollegas gevlug.[6] Die voortsetting van die samewerking het toe voortgegaan deur intensiewe korrespondensie. ’n Paar maande ná Meitner se vlug, op 17 Desember 1938, het Hahn en Strassmann daarin geslaag om vir die eerste keer ’n atoomkern by die Berlynse laboratorium te splyt. Die eksperiment is vooraf met Meitner in 'n geheime vergadering in Kopenhagen bespreek en volgens haar instruksies uitgevoer.

In Januarie 1939 het Meitner saam met Otto Frisch die eerste teoretiese verduideliking van kernsplyting verskaf. Haar kollega Otto Hahn het die Nobelprys vir Chemie in 1944 ontvang vir hul ontdekking.[9] Die element meitnerium is na Meitner vernoem.[10]

Remove ads

Verwysings

Loading related searches...

Wikiwand - on

Seamless Wikipedia browsing. On steroids.

Remove ads