MXit
From Wikipedia, the free encyclopedia
Remove ads
MXit was 'n kitsboodskap-toepassing wat in Suid-Afrika ontwikkel is en wat hoofsaaklik op GPRS- of 3G-bevoegde selfone gebruik is. MXit het beperkte versoenbaarheid gebied met meer gevorderde kitsboodskappers soos Windows Live Messenger, ICQ, en Google Talk deur van die nie-verwante Jabber-poort gebruik te maak. Die koste aan MXit verbonde sluit in die prys vir internettoegang soos deur die gebruiker se sellulêre diensverskaffer bepaal, asook ander betaaldienste soos kletskamers wat op die program beskikbaar was. MXit se amptelike uitspraak is die Engelse "mix it" (meng dit), alhoewel die naam ook algemeen in Engels uitgespel word.
Ongeveer 11 miljoen rekeninge is in MXit se gebruikerdatabasis geregistreer, en daar het daagliks 17 miljoen intekeninge plaasgevind, so ook meer as 250 miljoen boodskapversendings. Alhoewel die program grotendeels in Suid-Afrika en Indonesië gebruik is, was dit daagliks in ongeveer 120 lande gebruik.[1] Naspers het in Januarie 2007 'n 30%-aandeel in die MXit-maatskappy vir 'n onbekende bedrag gekoop.[2]
Die maatskappy het sy sluiting in 'n verklaring aangekondig op 23 Oktober 2015.[3] Al die maatskappy se intellektuele eiendom en tegnologiebates is aan The Reach Trust, 'n onafhanklike openbare weldaadsorganisasie, geskenk. Terwyl die organisatoriese veranderinge nie die mobiele sosiale netwerk beïnvloed het nie, en gebruikers nog steeds toegang tot al sy dienste kon verkry en gebruik, is in September 2016 aangekondig dat die diens op 30 September gesluit word.
Remove ads
Omstredenheid
MXit het aan enigeen toegang tot die verspreiding en ontvangs van pornografie gebied en pedofiele in staat gestel om met minderjariges in die ongesensorde kletskamers te kommunikeer.[4] Op 30 Julie 2006 het M-Net se aktualiteitsprogram Carte Blanche ontbloot hoe 'n jong meisie met 'n pedofiel gekommunikeer het deur haar persoonlike gegewens met hom te deel.[5] Die skeppers van MXit het sedertdien begin om met die Suid-Afrikaanse regstoepassing saam te span om minderjariges se veiligheid op MXit te beskerm.[6]
Menige nuusagentskappe en koerante het artikels gepubliseer oor hoe ouers hul kinders toelaat om MXit te misbruik en hoe eksamenuitslae gevolglik verswak. Ouers sit met hul hande in hul hare omdat hul kinders na bewering nie meer openlik kan kommunikeer nie en hulle hulself glo in hul eie wêreld van internetkletskamers bevind. Dit het daartoe gelei dat al hoe meer ouers hul kinders se selfone konfiskeer.[7]
Op MXit se webwerf het sy veiligheidsmaatreëls versterk en probeer om die verspreiding van pornografie, bekruipery (Engels: stalking), laster en ander vorme van misbruik te bekamp, alhoewel dit fisies byna onmoontlik was om toe te pas.
Remove ads
Verwysings
Eksterne skakels
Wikiwand - on
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Remove ads