Nerina Ferreira
Suid-Afrikaanse aktrise en vertaler From Wikipedia, the free encyclopedia
Remove ads
Nerina Ferreira (1921–2012) was 'n Afrikaanse aktrise en vertaler van meer as honderd letterkundige werke in Afrikaans.

Lewe en werk
Nerina Helene du Toit is in Seepunt in Kaapstad gebore as die dogter van die oogarts dr. J.S. du Toit en Emmie Steyn (12 Januarie 1898 – 27 September 1997), die jongste dogter van president M.T. Steyn en sy vrou, Rachel, algemeen bekend as Tibbie. Nerina het twee susters en ’n broer, maar die broer is op tienjarige ouderdom oorlede. Haar skoolopleiding ontvang sy in Kaapstad aan die Laerskool Jan van Riebeeck en in die Paarl aan die Hoër Meisieskool La Rochelle. Op sestienjarige ouderdom begin sy studeer aan die Universiteit van Kaapstad, waar sy ’n M.A.-graad in Afrikaans behaal. Hierna leer sy tik en snelskrif aan en word ’n joernalis. Na die Tweede Wêreldoorlog is sy na Engeland, waar sy aan die London Foot Hospital haar bekwaam as ’n voetheelkundige. In Londen saai sy vir die uit. Terug in Kaapstad gee sy klas by privaat skole, bedryf in die middag haar voetheelkunde-praktyk en speel toneel in die aand. Haar betrokkenheid by die teater begin toevallig wanneer sy een aand by die Klein Teater in die Kompanjiestuin in Kaapstad verbyloop en gaan kyk wat daar aangaan. Dit was die Kaapstadse Afrikaanse Toneelgeselskap wat met repetisies besig was en hulle bied haar daardie aand haar eerste rol aan. Later word sy aktrise van beroep en sluit in 1965 heeltyds by Kruik (die Kaapse Raad vir Uitvoerende Kunste) aan.
Sy tree in verskeie toneelstukke op, waarna sy ook ’n bekende regisseur word. Dit is veral in komiese rolle waarin sy uitblink en van die toneelstukke waarin sy speel sluit in “Hond se gedagte”, “Soetwater se mense”, “Die ryk weduwee”, “Ons hou konsert”, “Anastasia”, “Cyrano de Bergerac”, “Dokter teen wil en dank”, “Die proponentjie”, “Richard III”, “Tartuffe”, “A flea in her ear” en “Die dame met die Kamelias”. Rolprente waarin sy rolle vertolk sluit in “Die spook van donkergat”, “Next stop Makouvlei”, “Dingetjie en Idi”, “My liedjie van verlange”, “Die troudag van Tant Ralie” en “Eendag op ’n reëndag”. Sy neem ook deel aan verskeie programme vir die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK), onder meer aan “Kaapse Kaperjolle”, waarvoor sy vir langer as ’n jaar die teks skryf. Ander radioprogramme waaraan sy deelneem sluit in “Die Kaap is Hollands” en “Praat van die duiwel”. As aktrise vertolk sy ook talle rolle vir die radio, onder meer in die radiodrama “Blindemol” van Chris Barnard, terwyl sy ook per geleentheid rolle op televisie vertolk, onder andere in die televisiereeks “Geraldina die tweede”. Vir die SAUK vertaal sy ook baie programme. Sy is kortstondig getroud met dr. A.B. Ferreira, op sy dag hoof van die Departement Oogkunde aan die Universiteit van Stellenbosch, ’n huwelik waaruit ’n seun, Anton, gebore word. Anton word later narkotiseur vir die hartspan in Kaapstad. Sy woon in ’n woonstel in Groenpunt in Kaapstad. Na ’n langdurige siekte word sy in April 2012 na die hoësorgeenheid van Palm Garden in Seepunt verskuif. Hier is sy op 11 Junie 2012 oorlede.
Remove ads
Skryfwerk
Haar hoorspel “Eva se Krismiskat” word opgeneem in die versamelbundel “Debuut”, wat versorg is deur Ciska en Francois Marais. Dit is ’n blyspel wat die lief en leed van alledaagse mense as tema het en is op versoek spesiaal vir Oujaar geskryf.
Sy vertaal verskeie boeke in Afrikaans, onder andere “Pippie Langkous” van Astrid Lindgren, “Waar die waters slaap” van Angela C. Ionescu en ook werke van Shakespeare en Ibsen. Haar vertaling van Feydeau se drama “A flea in her ear” as “Hond se gedagte” is deel van die openingsaanbiedinge by die Nico Malanteater (nou Kunstekaap) in Kaapstad. Sy vertaal meer as vyftig dramas in Afrikaans (waaronder “Amadeus” van Peter Shaffer, “Die tou” van Aristophanes en “Begeerte”, Eugene O’Neill se “Desire under the elms”) en vertaal ook operas, waaronder Otto Nicolai se “Die vrolike vroue van Windsor”. Haar vertaling van Marguerite Poland se “Die vuurkoolsterre” en Paul Biegel se “Die rooi prinses” word in onderskeidelik 1984 en 1992 eervol vermeld tydens die toekenning van die C.P. Hoogenhout-prys.[1] Sy is vele tale magtig, wat benewens Afrikaans en Engels insluit Duits, Esperanto, Fins, Frans, Hongaars, Italiaans, Nederlands, Noors, Portugees, Spaans, Sweeds en Yslands.
Remove ads
Eerbewyse
In 1992 word sy met die Fleur du Cap Lewenslange Toekenning vereer vir haar bydrae tot die toneelbedryf. By die Klein Karoo Nasionale Kunstefees van 2006 word sy met ’n Afrikaans Onbeperk Kanna bekroon vir haar lewensbydrae tot Afrikaans, terwyl haar vertaling van Eugene O’Neill se “Desire under the elms” (“Begeerte”) die prys vir beste aanbieding op dieselfde fees wen. Margot Luyt stel ’n hoorbeeld van haar op, wat in 2012 onder die titel “Nerina Ferreira 90” uitgesaai word.
Publikasies
Remove ads
Bronnelys
Boeke
- Marais, Francois en Marais, Ciska (samestellers) “Debuut” Nasionale Boekhandel Bpk. Kaapstad Eerste uitgawe 1966
Tydskrifte en koerante
- Booyens, Hannelie “Formidabele Nerina se lewe lees soos ’n roman” “Die Burger” 10 Augustus 2002
- Botha, Amanda “Ikoon uit teater se ‘goue era’ is 90” “Beeld” 10 September 2011
- Nieuwoudt, Stephanie “Uit haar dop gekruip” “Plus” 22 November 2007
- Van Deventer, Linda “Vertaler het al 13 tale gepak” “Die Burger” 23 Februarie 1982
- Van Wyk, Pauli “Pippie Langkous se Afrikaanse ‘ma’ sterf” “Beeld” 12 Junie 2012
Internet
Remove ads
Verwysings
Wikiwand - on
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Remove ads