Paul Newman
Amerikaanse akteur From Wikipedia, the free encyclopedia
Remove ads
Paul Leonard Newman (26 Januarie 1925 – 26 September 2008)[1] was ’n Amerikaanse akteur, rolprentregisseur en professionele renjaer. Hy het verskeie pryse gewen, onder meer ’n Oscar vir beste akteur sy rol in The Color of Money en nog agt Oscar-benoemings,[2] ses Golden Globes (insluitende drie erepryse), ’n Bafta, Screen Actors Guild-prys, Cannes-rolprentfees-prys, Emmy en nog talle erepryse. Hy het ook as renjaer verskeie nasionale kampioenskappe gewen.
Remove ads
Vroeë lewe
Newman is in Shaker Heights, Ohio, gebore as die seun van Arthur Sigmund Newman, eienaar van ’n sportwinkel,[3][4] en Theresa Fetzer of Fetsko. Sy pa was Joods; sy ouers was immigrante uit Hongarye en Pole. Sy ma was die dogter van ’n Slowaakse egpaar van Homonna in Hongarye (nou Humenné in Slowakye).[5][6] Newman het ’n broer, Arthur, gehad wat later ’n vervaardiger en produksiebestuurder geword het.[7]
Newman het vroeg al belangstelling getoon in die teater en op sewe het hy sy debuut in ’n skoolopvoering van Robin Hood gemaak. Ná die voltooiing van sy skoolloopbaan aan die Hoërskool Shaker Heights in 1943 het hy vir ’n kort ruk aan die Ohio-universiteit in Athens, Ohio, studeer.[7]
Tydens die Tweede Wêreldoorlog het Newman diens gedoen as radio-operateur en skutter. Hy wou ’n vlieënier word, maar hy is nie toegelaat nie toe uitgevind is hy is kleurblind.[7][8]
Ná die oorlog het hy sy BA-graad in drama en ekonomie in 1949 aan die Kenyon-kollege in Gambier, Ohio, voltooi.[9] Daarna het hy drie maande lank saam met die Woodstock Players getoer.[10] Hy het later ook aan die Yale School of Drama studeer voor hy New York toe is om onder Lee Strasberg te studeer.[7]
Remove ads
Loopbaan

Sukses
Newman het in 1951 in New York aangekom saam met sy eerste vrou, Jackie Witte.[11] Hy het sy debuut op Broadway in 1953 gemaak in William Inge se Picnic en het in 1955 in die oorspronklike Broadway-produksie van The Desperate Hours gespeel. In 1959 was hy in die oorspronklike Broadway-produksie van Sweet Bird of Youth saam met Geraldine Page en drie jaar later saam met haar in die rolprentweergawe. Hy het in dié tyd ook in TV-programme opgetree.
In Februarie 1954 het Newman ’n skermtoets gedoen saam met James Dean vir East of Eden (1955). Dean het sy rol gekry, maar Newman nie. In dieselfde jaar het Newman saam met Eva Marie Saint en Frank Sinatra gespeel in ’n lewende TV-uitsending van Our Town, ’n musikale verwerking van Thornton Wilder se verhoogstuk. Newman het James Dean op die nippertjie vervang.[12] Newman het ná James Dean se noodlottige motorongeluk nog twee keer rolle vertolk waar Dean die eerste keuse was: Billy the Kid in The Left Handed Gun en Rocky Graziano in Somebody Up There Likes Me.
Newman se eerste fliek vir Hollywood was The Silver Chalice (1954). Die prent het misluk.[13] In 1956 het hy groter aandag getrek vir sy rol as die bokser Graziano in Somebody Up There Likes Me. Teen 1958 was hy een van die warmste sterre in Hollywood. Later in dié jaar het hy saam met Elizabeth Taylor in Cat on a Hot Tin Roof gespeel. Die prent was ’n groot sukses en Newman het sy eerste Oscar-benoeming gekry. Hy het in dié jaar ook in The Long, Hot Summer gespeel saam met Joanne Woodward, wat hy toe weer gesien het nadat hulle mekaar in 1953 die eerste keer ontmoet het. Hy het by die Cannes-rolprentfees van 1958 die prys vir beste akteur gewen vir dié rol.
Grootste rolprente
Newman was een van die min sterre wat die oorgang gemaak het van die 1950's na die 1960's en 1970's. Sy rebelse persona was gewild by die volgende generasie. Hy het in Exodus (1960), The Hustler (1961), Hud (1963), Harper (1966), Hombre (1967), Cool Hand Luke (1967), The Towering Inferno (1974), Slap Shot (1977) en The Verdict (1982) gespeel. Hy het saam met sy mede-akteur Robert Redford en die regisseur George Roy Hill gewerk aan Butch Cassidy and the Sundance Kid (1969) en The Sting (1973).
Hy het saam met sy vrou, Joanne Woodward, gespeel in The Long, Hot Summer (1958), Rally 'Round the Flag, Boys!, (1958), From the Terrace (1960), Paris Blues (1961), A New Kind of Love (1963), What a Way to Go! (1964), Winning (1969), WUSA (1970), The Drowning Pool (1975), Harry & Son (1984) en Mr. and Mrs. Bridge (1990).

Benewens Harry & Son waarin hy gespeel en waarvan hy die regisseur was, het hy nog vier prente geregisseer waarin hy nie gespeel het nie, maar sy vrou wel: Rachel, Rachel (1968), The Effect of Gamma Rays on Man-in-the-Moon Marigolds (1972), die TV-weergawe van die toneelstuk The Shadow Box (1980) en ’n rolprentweergawe van Tennessee Williams se The Glass Menagerie (1987).
Altesaam 25 jaar ná The Hustler het Newman weer die rol van "Fast" Eddie Felson vertolk in die regisseur Martin Scorsese se The Color of Money (1986). Hy het daarvoor die Oscar vir beste akteur gewen.
Laaste werk
In 2003 het hy in ’n Broadway-herhaling van Wilder se Our Town gespeel en ’n Tony-benoeming gekry. ’n Opgeneemde weergawe is op TV vertoon en Newman is benoem vir ’n Emmy.[14]
Sy laaste rol was as ’n bendeleier in die 2002-prent Road to Perdition saam met Tom Hanks, waarvoor hy vir ’n Oscar benoem is vir beste manlike byspeler. Hy was daarna die verteller in die prent Dale (2007) en in die dokumentêr The Meerkats (2008).
Newman het op 25 Mei 2007 aangekondig dat hy finaal aftree.[15]
Remove ads
Persoonlike lewe

Newman was van 1949 tot 1958 getroud met Jackie Witte.[7] Hulle het twee dogters, Stephanie Kendall en Susan,[7] en ’n seun, Scott, gehad. Scott, ook ’n akteur, is in 1978 weens ’n oordosis dwelms dood.[16] Paul Newman het die Scott Newman-sentrum vir die voorkoming van dwelmmisbruik ter nagedagtenis van sy seun gestig.[17]
Newman het die aktrise Joanne Woodward in 1953 ontmoet. Kort ná die verfilming van The Long, Hot Summer in 1957 is hy van Witte geskei. Hy is vroeg in 1958 met Woodward getroud. Hulle was 50 jaar lank getroud tot met sy dood in 2008.[18] Hulle het drie dogters gehad: Nell, Melissa en Claire.
Newman was bekend vir sy toewyding aan sy gesin.[19]

Newman het in motorresies begin belangstel tydens die verfilming van Winning (1969). Hy het later ’n groot geesdriftige geword en het in 1971 sy eerste TV-program Once Upon a Wheel aangebied oor die geskiedenis van die sportsoort.[20][21] Newman het in 1972 aan sy eerste resies as ’n professionele jaer deelgeneem, in Thompson, Connecticut. Hy het eindelik vier nasionale kampioenskappe gewen. In 1979 het hy aan die 24-uur-ren van Le Mans deelgeneem in ’n Porsche 935 en tweede geëindig.[22]
Van die middel 1970's tot die vroeë 1990's het hy vir die Bob Sharp-renspan gejaag, hoofsaaklik in Datsuns en later Nissans in die Trans-Am-reeks. Op 70 het hy die oudste jaer geword wat deel was van ’n wenspan ’n groot resies;[23] hy het in sy klas gewen op 1995 se 24-uur-ren van Daytona.[24] Onder sy laaste resiese was die Baja 1000 in 2004 en weer die 24-uur-ren van Daytona in 2005.[25]
Newman het ook saam met Bill Freeman van die Porsche-renspan deelgeneem aan S.C.C.A.- en I.M.S.A.-byeenkomste, onder meer die Sebring 12-uur-sportmotoruithouren.
Siekte en dood

In Junie 2008 is berig dat Newman longkanker het en in die Sloan-Kettering-hospitaal in New York behandel word.[26] Die skrywer A.E. Hotchner, wat saam met Newman die maatskappy Newman's Own gestig het, het aan Associated Press vertel Newman het hom 18 maande tevore van die siekte vertel.[27] Newman se woordvoerder het daarna gesê dit gaan goed met hom, maar het nie die gerugte van sy siekte bevestig of ontken nie.[28] In Augustus, nadat hy volgens berigte klaar was met sy chemoterapie, het Newman vir sy familie gesê hy wil tuis sterf.
Hy is op 26 September 2008 op die ouderdom van 83 oorlede, omring deur sy familie en goeie vriende.[29] Hy is veras op ’n privaat begrafnisdiens naby sy huis in Westport.[30]
Remove ads
Filmografie, pryse en benoemings
As akteur
As regisseur of vervaardiger
Remove ads
Erepryse
- Newman het ook in 1986 ’n ere-Oscar ontvang en in 1994 die Jean Hersholt- Humanitêre Prys vir sy welsynwerk.
- Hy het in 1992 saam met sy vrou, Joanne Woodward, die Kennedy Center Honors ontvang.
- Hy het die prys Golden Globe vir nuwe ster van die jaar vir The Silver Chalice (1957) gekry, die Henrietta-prys as rolprentgunsteling — manlik (1964 en 1966) en die Cecil B. DeMille-prys vir sy lewenslange bydrae (1984).
- Newman is nadoods opgeneem in die Connecticut Hall of Fame.
Remove ads
Gepubliseerde werk
- Newman, Paul; Hotchner, A.E. Newman's Own Cookbook. Simon & Schuster, 1998. ISBN 0-684-84832-5.
- Newman, Paul; Hotchner, A.E. Shameless Exploitation in Pursuit of the Common Good. Doubleday Publishing, 2003. ISBN 0-385-50802-6.
Verwysings
Bronne
Verdere leesstof
Eksterne skakels
Wikiwand - on
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Remove ads