Rex Harrison
Britse verhoog- en rolprentakteur (1908–1990) From Wikipedia, the free encyclopedia
Remove ads
Sir Rex Harrison (5 Maart 1908 – 2 Junie 1990) was ’n Britse verhoog- en rolprentakteur. Hy het sy verhoogloopbaan in 1924 begin en sy eerste Tony in 1949 gewen vir sy rol as Hendrik VIII in Anne of the Thousand Days. Hy het sy tweede Tony in 1957 gewen vir die rol van prof. Henry Higgins in My Fair Lady. Hy het weer dié rol gespeel in die rolprentweergawe van 1964 – daarvoor het hy ’n Golden Globe en Oscar vir beste akteur gewen.
Benewens sy verhoogloopbaan het Harrison in verskeie rolprente gespeel, onder meer Anna and the King of Siam (1946), The Ghost and Mrs. Muir (1947), Cleopatra (1963) en Doctor Dolittle (1967). In Julie 1989 het koningin Elizabeth II hom tot ridder geslaan.
Harrison het in 1975 sy eerste outobiografie uitgereik. Sy tweede, A Damned Serious Business: My Life in Comedy, is in 1991 ná sy dood gepubliseer. Hy was ses keer getroud en het twee seuns gehad: Noel en Carey. Hy het op die verhoog verskyn tot kort voor sy dood in Junie 1990 op die ouderdom van 82.
Remove ads
Vroeë lewe
Reginald Carey Harrison is in Derry House in Huyton, Brittanje,[1] gebore en het aan die Liverpool-kollege skoolgegaan.[2] Hy het in 1924 in Liverpool die eerste keer op die verhoog verskyn. Sy loopbaan is tydens die Tweede Wêreldoorlog onderbreek terwyl hy in die Britse lugmag as vlugluitenant gedien het.[3]
Hy het in Londen en New York rolle op die verhoog vertolk in stukke soos Bell, Book and Candle, Venus Observed, The Cocktail Party, The Kingfisher en The Love of Four Colonels. Hy was ook die regisseur van laasgenoemde.[4] Hy het sy eerste Tony in 1949 gewen vir sy rol as Hendrik VIII in Anne of the Thousand Days. Sy tweede Tony en internasionale roem het gevolg met sy rol as prof. Henry Higgins in My Fair Lady, waarin hy saam met Julie Andrews verskyn het.
Latere stukke waarin hy opgetree het, sluit in Henry IV, Aren't We All? en The Admirable Crichton. Hy het in 1981 na die verhoog teruggekeer in die rol van Henry Higgins in My Fair Lady en sy verbinding met die toneelstukke van George Bernard Shaw herbevestig. Hy het Tony-benoemings gekry vir onder meer Heartbreak House, Caesar and Cleopatra en The Devil's Disciple.
Remove ads
Rolprente
Harrison se rolprentdebuut was in 1930 in The Great Game. Daarna het rolle gevolg in The Citadel (1938), Night Train to Munich (1940), Major Barbara (1941), Blithe Spirit (1945), Anna and the King of Siam (1946), The Ghost and Mrs. Muir (1947) en The Foxes of Harrow (1947). Hy is die bekendste vir die rol van prof. Henry Higgins in the 1964-rolprentweergawe van My Fair Lady. Dit was gebaseer op die Broadway-produksie met dieselfde naam en dié was weer gebaseer op die toneelstuk Pygmalion van George Bernard Shaw. Harrison het daarvoor ’n Oscar gewen vir beste akteur. In 1967 het hy ook in Doctor Dolittle gespeel en in 1968 in die komedie The Honey Pot.
Hoewel hy in komedies uitgeblink het, het hy goeie reaksie ontlok in dramas soos Cleopatra (1963) as Julius Caesar en in The Agony and the Ecstasy (1965) as pous Julius II teenoor Charlton Heston as Michelangelo. Hy was ook in die Hindi-prent Shalimar en het die rol vertolk van ’n ouer homoseksueel teenoor Richard Burton as sy minnaar in Staircase (1969).[5]

Remove ads
Latere loopbaan en dood
Hoewel hy uit die rolprentbedryf getree het ná die 1982-prent A Time to Die, het Harrison steeds op Broadway en die Weseinde verskyn tot net voor sy dood. Hy is in 1984 vir nog ’n Tony benoem vir sy rol as kapt. Shotover in George Bernard Shaw se Heartbreak House. Daarna het hy in onder meer The Kingfisher (1985), Aren't We All? (1986) en The Admirable Crichton (1989) verskyn.[6]
Harrison is op 2 Junie 1990 in sy huis in Manhattan dood op die ouderdom van 82. Die verhoogstuk waarin hy toe verskyn het, The Circle (1989–1990), het met sy dood tot ’n einde gekom.[7]
Filmografie
Remove ads
Verwysings
Verdere leesstof
Eksterne skakels
Wikiwand - on
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Remove ads
