Charlton Heston
From Wikipedia, the free encyclopedia
Remove ads
Charlton Heston (gebore as John Charles Carter; 4 Oktober 1923 - 5 April 2008) was ’n Amerikaanse akteur van rolprente, TV en die teater[1] en ’n politieke aktivis. Hy het beroemd geword as hoofrolspeler in verskeie Hollywood-rolprente soos Bybelverhale, wetenskapsfiksie- en aksieprente. Hy het 'n Oscar gewen en is vir drie Golden Globes en drie Emmys benoem. Hy het talle erepryse gewen, onder meer die Jean Hersholt- humanitêre prys in 1978, die Golden Globes se Cecil B. DeMille-prys in 1967, die Screen Actors Guild se prys vir lewenslange prestasies in 1971, die Kennedysentrum-eerbewys in 1997 en die Presidensiële Vryheidsmedalje in 2003.[2][3]

As ’n Hollywood-ster het hy oor 60 jaar in 100 rolprente verskyn. Sy bekendste rolle was in The Ten Commandments (1956); Ben-Hur (1959), waarvoor hy ’n Oscar gewen het; El Cid (1961); Planet of the Apes (1968); Julius Caesar (1970) en Antony and Cleopatra in 1972. Hy het ook verskyn in onder meer The Greatest Show on Earth (1952), Touch of Evil (1958), Airport 1975 (1974), Earthquake (1974) en Hamlet (1996). Van sy tonele wat die beste onthou word, is as Moses wat die Rooisee verdeel in The Ten Commandments en ’n strydwatweegeveg in Ben-Hur.
Sy hoofrolle het hom ’n ernstige, outoritêre persoonlikheid besorg en het verantwoordelikheid, individualisme en manlikheid uitgebeeld; hy het rolle wat nie klem op dié eienskappe gelê het nie van die hand gewys. Dit het ook gewig verleen aan sy politieke stem – Heston was nou by die politiek betrokke.[4] In die 1950's en vroeë 1960's was hy een van 'n handvol Hollywood-akteurs wat rassisme openlik veroordeel het en hy was 'n aktiewe ondersteuner van die burgerregtebeweging. In 1987 het Heston die Demokratiese Party verlaat en 'n Republikein geword. Hy het 'n konserwatiewe politieke-aksie-komitee gestig en Ronald Reagan gesteun. Heston was vir vyf termyne president van die Nasionale Vuurwapenvereniging, van 1998 tot 2003.
Nadat Alzheimer se siekte by hom gediagnoseer is, het Heston in 2003 ophou toneelspeel.[5]
Remove ads
Vroeë jare
Gesin
Heston is as John Charles Carter gebore en was die seun van Russell Whitford Carter, ’n saagmeulbediener, en sy vrou, Lilla.[6] Volgens die meeste bronne is hy in Evanston, Illinois, gebore.[7][8][9][10] In Heston se outobiografie[11] en ander bronne word egter genoem hy is in No Man's Land, Illinois, gebore – dit is nou ’n welgestelde voorstad van Chicago. Heston was van Engelse en gedeeltelike Skotse afkoms.[12] Sy vroegste koloniale voorouers het in die 1600's van Engeland in Amerika aangekom.[13][14]
Hy was 10 jaar oud toe sy ouers geskei is. Sy ma is kort daarna met Chester Heston getroud. Charlton het daarna in ’n ryk buurt van Chicago skoolgegaan.[15] Charlton was sy ouma aan moederskant se nooiensvan,[16] nie sy ma s'n nie. Dit is teenstrydig met ateljeeverwysings en wat Heston self gesê het. Sy vriende het hom "Chuck" genoem. Dit is onseker wanneer Heston se voornaam Charlton geword het. Op sy geboortesertifikaat word sy naam as Charlton aangedui, en volgens die sensus van 1930 was sy naam op sesjarige ouderdom Charlton J. Carter.[17] Latere weergawes en ateleebiografieë dui aan sy geboortenaam was John Charles Carter.
Opvoeding
Heston het dikwels vertel hoe hy as kind in yl beboste gebiede in Noord- Michigan geloop en die karakters "vertolk" het van wie hy in boeke gelees het.[18] Later, in die hoërskool, het hy by 'n dramaprogram aangesluit. Hy was ook aktief in die Winnetka-gemeenskapsteater, waardeur hy 'n dramabeurs aan die Noordwestelike Universiteit in Illinois gekry het.[19][20] Hy was van 1941 tot 1943 aan die universiteit.
Remove ads
Tweede Wêreldoorlog
In Maart 1944 is Heston met 'n medestudent van die Noordwestelike Universiteit, Lydia Marie Clarke, getroud. In dieselfde jaar het hy by die lugmag aangesluit, waar hy twee jaar lank 'n radio-operateur en lugskutter was.[21][22] Hy het die rang stafsersant gehad.
Loopbaan
Ná die oorlog het Heston en Clarke in New York gewoon en as modelle vir kunstenaars gewerk. As ’n manier om by toneelspel betrokke te raak, het hulle in 1947 besluit om ’n teater te bestuur in Asheville, Noord-Carolina.
In 1948 het hulle na New York teruggekeer waar Heston ’n byrol aangebied is in Shakespeare se Antony and Cleopatra op Broadway. Hy het ook ’n paar rolle op TV gekry. Die rolprentvervaardiger Hal B. Wallis het hom in 1950 in ’n TV-produksie van Wuthering Heights gesien en hom ’n kontrak aangebied.
Hollywood

Heston se eerste professionele verskyning in ’n rolprent was in Dark City, ’n film noir van 1950. Sy deurbraak was in Cecil B. DeMille se The Greatest Show on Earth, wat as die beste prent van 1952 aangewys is. In 1956 het Heston ’n ikoon geword vir sy uitbeelding van Moses in die uiters suksesvolle prent The Ten Commandments (1956). Die regisseur, Cecil B. DeMille, het hom vir die rol gekies omdat hy gedink het Heston lyk baie soos Michelangelo se standbeeld van Moses.[23] DeMille het Heston se seun van drie maande oud, Fraser, gekies vir Moses as baba. The Ten Commandments het een van die grootste lokettreffers van alle tye geword. Heston se toneelspel is deur resensente opgehemel. The Hollywood Reporter het hom beskryf as "skitterend, aantreklik en prinslik (en menslik) in die tonele van Moses as jong man, en majestueus en verskriklik wanneer sy rol dit vereis".[24] Volgens die New York Daily News was hy "merkwaardig doeltreffend as beide die jong, prinslike Moses en die Patriargale redder van sy volk".[25] Toe die Egiptiese Teater in Desember 1998 heropen, het dit Cecil B. DeMille se oorspronklike The Ten Commandments vertoon wat 75 jaar tevore sy première daar gehad het. Charlton en Lydia Heston was eregaste by die vertoning.
Die vorige jaar het Heston saam met Jane Wyman in Lucy Gallant gespeel en in 1958 het hy die rol vertolk van ’n Meksikaanse polisie-offisier, Ramon Miguel Vargas, in Orson Welles se hoog aangeskrewe film noir Touch of Evil.

Sterstatus

Nadat Marlon Brando, Burt Lancaster en Rock Hudson[26] die titelrol in Ben-Hur (1959) van die hand gewys het, het Heston die rol aanvaar en die Oscar vir beste akteur gewen – een van die destyds ongeëwenaarde 11 Oscars wat die prent ingepalm het.
Heston het hierna die hoofrolle vertolk in verskeie fiktiewe en historiese epiese prente: El Cid (1961), 55 Days at Peking (1963), as Michelangelo in The Agony and the Ecstasy (1965) en Khartoum (1966). Hy het ook in die western Will Penny (1968) gespeel.
In 1968 het Heston in Planet of the Apes gespeel en in 1970 het hy ’n kleiner byrol gehad in die opvolg, Beneath the Planet of the Apes. Hy het ook in 1970 Markus Antonius gespeel in Shakespeare se Julius Caesar. Die volgende jaar was hy in die wetenskapsfiksieprent The Omega Man te sien.
Heston het sy debuut as regisseur in 1972 gemaak en ook Markus Antonius gespeel in Antony and Cleopatra. Nadat dit negatiewe resensies ontvang het, is die prent nooit uitgereik vir rolprentteaters nie. Dit is ook selde op TV gesien. Dit is eers in Maart 2011 op DVD uitgereik.[27] Daarna het meer geslaagde prente gevolg, soos Soylent Green (1973) en Earthquake (1974).
Van 1973 af is Heston meer dikwels in byrolle en die teater gesien. Hy het saam met sy seun Fraser verskeie TV-prente gemaak, onder meer Treasure Island (1990) en A Man For All Seasons. In 1992 het hy in ’n kort reeks video's verskyn, Charlton Heston Presents the Bible, waarin hy stukke uit die Bybel voorlees. Dit het groot sukses op video en DVD behaal.
Hy het daarna in verskeie rolprente en TV-programme opgetree. Sy laaste filmrol was in 2003 as die berugte Nazi-dokter Josef Mengele in My Father, Rua Alguem 5555.[28]
Remove ads
Politieke sienings


Heston se politieke aktivisme het vier stadiums gehad.[29] In die eerste stadium, van 1955 tot 1961, het hy liberale Demokratiese presidentskandidate ondersteun en petisies vir liberale politieke kwessies onderteken. Van 1961 tot 1972, die tweede stadium, het hy steeds Demokratiese presidentskandidate ondersteun. In 1963 het hy buite die rolprentbedryf sigbaar geword toe hy die wet op burgerregte ondersteun het. Van 1965 tot 1971 was hy die verkose president van die Screen Actors Guild en het hy vasgesit met sy liberale mededinger, Ed Asner. In 1968 het hy gehelp om vuurwapenbeheer bekend te stel toe hy by medesterre van Hollywood aangesluit het ter ondersteuning van die wet op vuurwapenbeheer van 1968.[30]
Die derde stadium het in 1972 begin. Heston het die liberalisme van George McGovern verwerp en die Republikein Richard Nixon in 1972 as president ondersteun.[31](pp192–193) In die 1980's het hy Ronald Reagan gesteun gedurende sy Konserwatiewe presidentskap.
In 1995 het Heston se vierde stadium begin met sy eie politieke-aksie-geldinsamelingskomitee en sy deelname aan die politiek van die Nasionale Vuurwapenvereniging. Hy het die Konserwatiewe siening gesteun en die media en akademici geblameer vir die instelling van regstellende aksie, wat hy beskou het as omgekeerde rassisme.[32]
Kultuuroorlog
"the God-fearing, law-abiding, Caucasian, middle-class Protestant—or even worse, evangelical Christian, Southern—or even worse, rural, apparently straight—or even worse, admitted heterosexuals, gun-owning—or even worse, NRA card-carrying, average working stiff—or even worse, male working stiff—because, not only don't you count, you are a down-right obstacle to social progress. Your voice deserves a lower decibel level, your opinion is less enlightened, your media access is insignificant; and frankly, mister, you need to wake up, wise up, and learn a little something from your new America; and until you do, would you mind shutting up?"
—Heston se "Fighting the Culture War in America"-toespraak (1997) [33]
Heston het uit protes uit Actors Equity bedank en gesê die vakbond se weiering dat 'n wit akteur die Eurasiese rol in Miss Saigon vertolk, was "onbetaamlik rassisties".[34][35] Hy het beweer CNN se telesendings uit Bagdad "saai twyfel" oor die geallieerde aksie in die Golfoorlog van 1990-1991.[26] Tydens die verfilming van The Savage in 1952 is Heston met bloed in die Miniconjou-Lakotavolk geïnisieer. Hy het gesê hy het geen Amerikaanse Indiane-erfenis nie, maar kies om 'n "Amerikaanse boorling" te wees om te keer dat die term eksklusief vir Amerikaanse Indiane gebruik word.[11]
In Heston se toespraak van 1997 wat genoem is "Fighting the Culture War in America", het hy 'n "kultuuroorlog" retories betreur wat volgens hom gevoer word deur 'n generasie mediamense, opvoeders, vermaakkunstenaars en politici. Hy het gesê: "Die grondwet is deur 'n klomp slim ou dooie wit mans wat die land geskep het aan ons nagelaat om ons te lei! Sommige deins terug as ek dit sê, maar dis waar ... hulle was wit mans! Nes die meeste van die mans wat in Lincoln se naam gesterf het omdat hulle in die 1860's teen slawerny was. Hoekom moet ek dus skaam wees vir wit mans? Hoekom is Hispanic Pride of Black Pride 'n goeie ding, maar White Pride roep geskeerde koppe en wit mantelkappe op? Hoekom is die Million Man March in Washington deur baie as vooruitgang gevier, maar die Promise Keepers March in Washington met agterdog en bespotting begroet? Ek sal jou sê hoekom: kulturele oorlogvoering!" In 'n toespraak voor studente by die Harvard-regsfakulteit met die onderwerp "Winning the Cultural War", het Heston gesê: "As Amerikaners in politike korrektheid geglo het, sou ons steeds koning George se ouens gewees het – onderdane wat aan die Britse troon gebind is."[36]

Hy het vir die studente gesê: "Julle is die beste en die slimste. Julle, hier in hierdie vrugbare wieg van Amerikaanse akademia, hier in die kasteel van geleerdheid op die Charlesrivier. Julle is die room. Maar ek sê vir julle julle en julle eweknieë oor die land heen is die sosiaal mees gekonformeerde en polities mees stilgemaakte generasie sedert Concord Bridge. En solank julle dit as reg beskou en dit verdra, is julle lafaards volgens julle oupas se standaarde."[37] In 'n toespraak by die Brandeis-universiteit in Massachusetts het hy gesê: "Politieke korrektheid is tirannie met maniere."[38]
Remove ads
Siekte en dood
In 1996 het Heston ’n heupvervanging ondergaan en in 1998 is prostaatkanker by hom gediagnoseer. Die kanker was ná ’n paar bestralingsessies in remissie. In 2000 het hy bekend gemaak dat hy in dié jaar vir alkoholisme behandel is in ’n kliniek in Utah.[39]
Op 9 Augustus 2002 het hy aangekondig dat hy gediagnoseer is met simptome wat ooreenstem met Alzheimer se siekte.[40] In Julie 2003 het hy die Presidensiële Vryheidsmedalje van pres. George W. Bush ontvang. In Maart 2005 het verskeie koerante berig dat sy toestand vinnig agteruitgaan.[41]
Heston is op 5 April 2008 by sy huis in Kalifornië oorlede met sy vrou van 64 jaar, Lydia, aan sy sy. Die familie het nie die oorsaak van sy dood bekend gemaak nie.[42][43]
Heston se begrafnis was 'n week later, op 12 April 2008. Dit is deur 250 mense bygewoon, onder andere Nancy Reagan, Arnold Schwarzenegger, Olivia de Havilland, Keith Carradine, Pat Boone, Tom Selleck, Oliver Stone en Christian Bale.[44][45][46]
Remove ads
Filmografie
Hier onder volg ’n lys van die rolprente waarin Heston gespeel het:[47]
1941-1959
1961-1970
1971-1980
1982-2003
Remove ads
Bibliografie
Deur Heston:
- In the Arena: An Autobiography (1997) ISBN 1-57297-267-X
- The Courage to be Free (2000), speeches ISBN 978-0-9703688-0-5
- The Actors Life: Journals 1956–1976 (1978) ISBN 0-671-83016-3)
- Beijing Diary (ISBN 0-671-68706-9)
- To Be a Man: Letters to My Grandson (ISBN 0-7432-1311-4)
- Charlton Heston Presents the Bible (ISBN 1-57719-270-2)
- Charlton Heston's Hollywood: 50 Years in American Film saam met Jean-Pierre Isbouts (ISBN 1-57719-357-1)
Remove ads
Verwysings
Verdere leesstof
Eksterne skakels
Wikiwand - on
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Remove ads