Rigel
From Wikipedia, the free encyclopedia
Remove ads
Rigel, ook bekend onder sy Bayer-naam, Beta Orionis (β Ori, β Orionis), is die helderste ster in die sterrebeeld Jagter (Orion) en die sewende helderste ster aan die naghemel, met ’n skynbare magnitude van 0,13. Dit is eintlik ’n drie- of vierdubbele sterstelsel; die primêre ster (Rigel A) is ’n blou-wit superreus met ’n geraamde ligsterkte van tussen 120 000 en 279 000 keer dié van die Son, na gelang van die metode wat in die berekening gebruik word. Die waterstof in sy kern is uitgeput en die ster het uitgeswel tot tussen 79 en 115 keer die Son se radius. Dit pulseer van tyd tot tyd en word geklassifiseer as ’n Alpha Cygni-ster.

’n Metgeselster, Rigel B, is 500 keer dowwer as die superreus Rigel A en is net met ’n teleskoop sigbaar. Rigel B is self ’n dubbelster wat uit twee blou-wit hoofreekssterre van spektraaltipe B9V bestaan waarvan die massa na raming onderskeidelik 3,9 en 2,9 keer dié van die Son is. Dit lyk of Rigel B ook ’n baie nabygeleë visuele metgesel, Rigel C, het wat feitlik nes hy lyk.
Remove ads
Sigbaarheid
Rigel se skynbare magnitude is 0,13 en dit is die sewende helderste ster buiten die Son. Dit is ’n onreëlmatig pulserende ster met ’n visuele speling van tussen magnitude 0,05 en 0,18. Hoewel Rigel die Bayer-naam "beta" het, is dit feitlik altyd helderder as Alpha Orionis (Betelgeuse). Die ster se spektrum dien sedert 1943 as een van die stabiele ankerpunte waarvolgens ander sterre geklassifiseer word.[11] Rigel is die derde mees inherente helder eerste-magnitude-ster ná Deneb en Betelgeuse. Dit het ’n B-V-kleurindeks van -0,03, wat beteken dit lyk wit of effens blou-wit.[12]
Op 12 Desember om middernag en 24 Januarie om 21:00 is Rigel die sigbaarste in die somernaglug van die Suidelike Halfrond en die winternaglug van die Noordelike Halfrond.[13] In die Suidelike Halfrond is dit die eerste helder ster van die Jagter wat sigbaar word.[14]
In sterrenavigasie is Rigel een van die belangrikste sterre omdat dit helder is, asook maklik opspoorbaar en ekwatoriaal, wat beteken dit kan op al die wêreld se oseane gesien word (met uitsondering van streke binne 8° van die Noordpool af).
Remove ads
Eienskappe

Moravveji en kollegas het Rigel A se helderheid op 120 000 keer dié van die Son geraam.[1] Sy oppervlaktemperatuur is omtrent 12 100 K. Dit is ’n blousuperreus wat al die waterstof in sy kern opgebrand en die hoofreeks verlaat het. Dit het uitgesit en verhelder namate dit oor die Hertzsprung-Russell-diagram beweeg het. Przybilla het geraam dit het sowat drie sonmassas verloor sedert dit sewe miljoen tot nege miljoen jaar gelede sy bestaan as ’n ster van 24 ± 3 sonmassas begin het.[15] Dit sal ’n rooisuperreus word en eindelik as ’n tipe II-supernova ontplof.[9] Dit is een van die naaste bekende potensiële supernova-voorlopersterre aan die Aarde.[1]
Rigel se veranderlikheid is ingewikkeld en word veroorsaak deur sterpulserings soortgelyk aan dié van Deneb, die prototipe van Alpha Cygni-sterre.[16] Omdat dit helder is en ook deur ’n streek van newelagtigheid beweeg, verlig Rigel verskeie stofwolke naby hom, veral IC 2118 (die Heksekopnewel).[17]
Rigel word ook verbind met die Orion-newel wat, hoewel in dieselfde rigting van die Aarde af, amper twee keer so ver van die Aarde af is. Ondanks die groot afstandsverskil, bring ’n projeksie van Rigel se baan deur die ruimte vir sy verwagte ouderdom hom na aan die newel. Daarom word die ster soms geklassifiseer as ’n buitekantse lid van die Orion OB1-assosiasie.
Dit lyk of die metgeselle Rigel Ba, Bb en C almal van dieselfde Klas B-hoofreekssterre met ’n massa van drie tot vier sonmassas is, maar hul eienskappe is nie goed bekend nie.[2]
Remove ads
Name
Johann Bayer het die naam "Beta Orionis" in 1603 aan die ster gegee. Hoewel beta gewoonlik die tweede helderste ster van ’n sterrebeeld is, is Rigel feitlik altyd helderder as Alpha Orionis (Betelgeuse).[13] Die sterrekundige James B. Kaler meen Bayer het Rigel waargeneem op ’n seldsame tyd toe Betelgeuse helderder was.[18]
Die ster se tradisonele naam, "Rigel", kom van die Arabies vir been of voet (van Orion). In 2016 het die Internasionale Astronomiese Unie se sternaamwerkgroep (WGSN) dié naam vir die ster goedgekeur.[19]
Verwysings
Eksterne skakels
Wikiwand - on
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Remove ads