Rugbywêreldbeker 2031
From Wikipedia, the free encyclopedia
Remove ads
Die Rugbywêreldbeker 2031 (Engels: 2031 Rugby World Cup) word van September tot Oktober 2031 in die Verenigde State beslis. Dit is die twaalfde rugbywêreldbekertoernooi van die vierjaarlikse rugbywêreldkampioenskap wat deur Wêreldrugby aangebied word en die sewende in die Noordelike Halfrond. Verder is dit die eerste rugbywêreldbekertoernooi wat in die Amerikas aangebied word.
![]() |
Die artikel beskryf ’n sportgebeurtenis wat in die toekoms gaan plaasvind. Die inligting is moontlik spekulatief en kan vinnig verander soos data beskikbaar raak. |
![]() |
Soos tydens die 2027-toernooi sal 24 nasionale rugbyspanne vanuit verskeie lande aan die Rugbywêreldbeker 2031 kan deelneem.[1]
Die Rugbywêreldbeker word gewoonlik tussen September en Oktober beslis. In die Verenigde State sal dit met die 2031-seisoene van die National Football League (NFL) en die Major League Soccer (MLS) oorvleuel. Aangesien baie van die voorgestelde plekke NFL- en MLS-stadions is, bestaan die moontlikheid dat die toernooi gedurende die somermaande (Junie–September) aangebied sal word om botsings met die twee ligaseisoene te voorkom.[2] ’n Bepaling oor skedulering sal egter nog geneem moet word.[3][4]
Remove ads
Toewysing
Wêreldrugby het die gasheerlande van beide die 2027- en 2031-manstoernooie en beide die 2025- en 2029-vrouetoernooie op 12 Mei 2022 aangekondig. Die proses om met voornemende lande te onderhandel het in Februarie 2021 begin en die formele kandidaatproses drie maande later. Die oorblywende gasheerlande is in Februarie 2022 aangekondig.[5]
Wêreldrugby se destydse voorsitter Bill Beaumont het in laat 2018 voorgestel dat die gasheer van die Rugbywêreldbeker ná die 2023-toernooi in Frankryk ’n opkomende land behoort te wees.[6] Wêreldrugby se hoof- uitvoerende beampte Brett Gosper het in 2019 ook voorgestel dat Wêreldrugby beide die 2027- en 2031-toernooie saam sal toewys (soos hulle met Engeland 2015 en Japan 2019 gedoen het), waardeur hulle “’n dapper besluit en ’n tradisionele besluit” sal kan maak.[7] Gosper het verder voorgestel dat “2031 tyd sal gun vir ’n Amerikaanse bod om baie geloofwaardig en sterk te wees.”[7] Die gashere vir die 2027- en 2031-toernooie is in Mei 2022 bekend gemaak.[8]
Vermoede het bestaan dat beide die Verenigde State en Suid-Afrika beplan het om die toernooi te huisves, maar die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (SARU) het bekend gemaak dat hulle nie beplan om vir nóg die 2027- nóg die 2031-toernooi aansoek te doen nie.[9] Op 10 Junie 2021 is VSA Rugby amptelik aanvaar as ’n kandidaat vir beide die 2027- en 2031-toernooie, asook die Vrouerugbywêreldbeker 2029.[10] Die Verenigde State het op 20 Oktober 2021 hul amptelike bod ingedien met sekere belangstellende stede met groot Amerikaanse voetbal-stadions.[11][12] In Februarie dieselfde jaar het Engeland, Ierland, Skotland en Wallis ’n gesamentlike bod vir die 2031-toernooi oorweeg, maar hul planne is nie verder gespesifiseer nie.[13] Destyds was die Verenigde State die enigste kandidaat vir die Rugbywêreldbeker 2031 en die volgende maand (November 2021) was hulle in ’n “eksklusiewe doelgerigte dialoog” met Wêreldrugby oor die aanbieding van die 2031-toernooi.[14] In April 2022 het die President van die Verenigde State, Joe Biden, ’n brief aan Wêreldrugby geskryf om sy ondersteuning vir die Amerikaanse bod te wys.[15] Tydens ’n spesiale vergadering van Wêreldrugby wat op 12 Mei 2022 in Dublin gehou is, het Wêreldrugby die toernooie van 2025 tot 2033 toegewys met die Vrouerugbywêreldbeker 2025 wat aan Engeland toegeken is, Australië as gasheer van beide die Rugbywêreldbeker 2027 en Vrouerugbywêreldbeker 2029 benoem is en beide die Rugbywêreldbeker 2031 en Vrouerugbywêreldbeker 2033 aan die Verenigde State toegewys is.[16][17]
Die Rugbywêreldbeker 2031 is een van vyf groot internasionale sporttoernooie wat die Verenigde State binne een dekade sal aanbied, saam met die T20I-wêreldbeker 2024 (saam met Wes-Indië), die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2026, die Olimpiese Somerspele 2028 en die Vrouerugbywêreldbeker 2033.[18][19][20] Daarmee is dit ná die Rugbywêreldbeker 1995 in Suid-Afrika, die Rugbywêreldbeker 2003 in Australië, die Rugbywêreldbeker 2011 in Nieu-Seeland, die Rugbywêreldbeker 2019 in Japan, die Rugbywêreldbeker 2023 in Frankryk en die Rugbywêreldbeker 2027 in Australië die sewende rugbywêreldbekertoernooi wat geheel en al in een land aangebied word.
Remove ads
Deelnemers
24 spanne mag aan die Rugbywêreldbeker 2031 deelneem. Die gasheer Verenigde State is regstreeks vir die toernooi gekwalifiseer.
Stadions
Altesaam 24 Amerikaanse stede is op die kortlys vir die Rugbywêreldbeker 2031 geplaas. Van die stede op die kortlys sluit in Atlanta, Austin, Baltimore, Birmingham, Boston, Charlotte, Chicago, Dallas, Denver, Houston, Kansas City, Los Angeles, Miami, Minneapolis, Nashville, New York, Orlando, Philadelphia, Pittsburgh, Phoenix, San Diego, San Francisco, Seattle en Washington, D.C. Die meeste van die stede beskik oor NFL-stadions, terwyl ander oor MLS-stadions beskik.[21][22][23] Van die 24 stede wat vir die 2031-toernooi beoog word, is elf as gasheerstede vir die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2026 aangewys.
Sien ook
Verwysings
Eksterne skakels
Wikiwand - on
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Remove ads