Rugbywêreldbeker 2011

From Wikipedia, the free encyclopedia

Rugbywêreldbeker 2011
Remove ads

Die Rugbywêreldbeker 2011 (Engels: 2011 Rugby World Cup; Maori: Ipu o te Ao Whutupōro 2011) is van 9 September tot 23 Oktober 2011 in Nieu-Seeland beslis. Dit was die sewende rugbywêreldbekertoernooi van die vierjaarlikse rugbywêreldkampioenskap wat deur die Internasionale Rugbyraad (IRR; nou Wêreldrugby) aangebied word en die vierde in die Suidelike Halfrond. Nieu-Seeland het saam met Australië die eerste Rugbywêreldbeker 1987 gehuisves. Nieu-Seeland se bod om die toernooi aan te bied is in 2005 bo Japan en Suid-Afrika s’n verkies.

Thumb
Die Webb Ellis-beker waarom meegeding is
Kitsfeite Toernooibesonderhede, Gasheer ...

Die toernooi se formaat van 2003 en 2007 het onveranderd gebly en 20 nasionale rugbyspanne het aan die Rugbywêreldbeker 2011 deelgeneem: die twaalf regstreekse kwalifiseerders van die 2007-toernooi (Argentinië, Australië, Engeland, Fidji, Frankryk, Ierland, Italië, Nieu-Seeland, Skotland, Suid-Afrika, Tonga en Wallis), saam met die agt beste spanne van die kwalifisering (Georgië, Japan, Kanada, Namibië, Roemenië, Rusland, Samoa en die Verenigde State). Tydens die Rugbywêreldbeker 2011 is 48 wedstryde gespeel, waaronder 40 tydens die groepfase en agt tydens die uitklopfase, insluitende die eindstryd. Die spanne is in vier groepe van vyf elk verdeel, waarvan elke span een keer teen al die ander spanne in die groep gespeel het. Die twee beste spanne van elke groep het hierna vir die kwarteindrondte gekwalifiseer, terwyl die drie beste spanne van elke groep – altesaam twaalf spanne – regstreeks vir die volgende Rugbywêreldbeker 2015 in Engeland en Wallis gekwalifiseer het.

Voor die afskop van die Rugbywêreldbeker 2011 is Nieu-Seeland, Australië, Suid-Afrika, Engeland en Frankryk as gunstelinge op die titel beskou.[3][4] Die gasheer Nieu-Seeland het die eindstryd op Edenpark in Auckland teen Frankryk met 8–7 gewen en sodoende sy tweede wêreldtitel ná 1987 ingepalm. Dit is die derde keer wat die gasheer die rugbywêreldbekertoernooi kon wen, ná Nieu-Seeland in 1987 en Suid-Afrika in 1995. Daarbenewens het Nieu-Seeland die eerste rugbyland geword wat die rugbywêreldbekertitel vir beide mans en vroue op dieselfde tydstip gehou het, nadat die vrouespan die 2010-wêreldbekertoernooi kon wen. Edenpark het die eerste rugbystadion geword wat die rugbywêreldbekereindwedstryd vir meer as een keer – ná die 1987-toernooi – gehuisves het.[5] Australië het in die derde en Wallis in die vierde plek geëindig. Interessant genoeg het in die laaste vier wedstryde – die bronseindstryd en die eindstryd – dieselfde vier lande verskyn as tydens die erste Rugbywêreldbeker 1987, wat ook in Nieu-Seeland beslis is. Die verdedigende kampioen Suid-Afrika is in die kwarteindrondte deur Australië met 11–9 uitgeskakel. Namibië is ná vier nederlae reeds in die groepfase uitgeskakel. Die Russiese nasionale rugbyspan het vir die eerste keer aan ’n rugbywêreldbekertoernooi deelgeneem.

Die toernooi was die grootste sportgebeurtenis wat ooit in Nieu-Seeland aangebied is,[6] groter as die Rugbywêreldbeker 1987, Statebondspele 1990, Krieketwêreldbeker 1992, America's Cup 2003 en die toer van die Britse en Ierse Leeus na Nieu-Seeland in 2005.[7] Die organiseerders het 95 000 oorsese besoekers verwag wat na Nieu-Seeland vir die aangeleentheid sou reis.[8][9] Ná die toernooi is beraam dat sowat 133 200 toeriste Nieu-Seeland ten einde van die 2011-toernooi besoek het.[10] Met sowat 3,9 miljard televisiekykers wêreldwyd was die Rugbywêreldbeker 2011 een van die mees gesiene rugbywêreldbekertoernooi tot dusver. Altesaam is daar amper 1,5 miljoen kaartjies vir die 48 wedstryde verkoop, waarmee elke wedstryd gemiddeld 30 777 toeskouers gelok het;[11] die wedstryde het ’n bywoning van 87% gehad.[12]

Die wedstryde het op 9 September 2011 begin en is oor sewe weke geskeduleer. Die eindstryd het op Sondag, 23 Oktober 2011 op Edenpark in Auckland plaasgevind. Dié dag is gekies omdat dit op ’n lang naweek in Nieu-Seeland geval het (24 Oktober is werkersdag in Nieu-Seeland).[13] Daar is ’n 10-ure verskil in tyd tussen Nieu-Seeland en Suid-Afrika, gevolglik is al die wedstryde vroegoggend in Suid-Afrika gebeeldsend. Die Rugbywêreldbeker 2011 is tot dusver die toernooi met die minste geelkaarte sedert die instelling van die 10-minuut-tydstraf.[14]

Remove ads

Toewysing

Thumb
Kaart van die kandidaatlande vir die Rugbywêreldbeker 2011
Thumb
Vlae in die strate van Nieu-Seeland tydens die Rugbywêreldbeker 2011. Van links na regs: Die vlag van Skotland, ’n swart vlag met die silwervaring (kenteken van die Nieu-Seelandse nasionale span), die vlag van Australië en die vlag van die Ierse nasionale rugbyspan

Die wêreldbeheerliggaam Internasionale Rugbyraad het tot op 31 Januarie 2005 vir botte van belangstellende lande wat die Rugbywêreldbeker 2011 wou aanbied tyd gegee. Tot op hierdie datum was slegs ’n formele verklaring sonder gedetailleerde planne voldoende. Die tenderdokument vir die 2005-aansoekproses moes teen 13 Mei 2005 ingedien word.[15] Drie lande het aangebied om die Rugbywêreldbeker 2011 te huisves: Nieu-Seeland, Japan en Suid-Afrika.[16]

Nieu-Seeland het saam met Australië die eerste Rugbywêreldbeker 1987 aangebied en is oorspronklik saam met Australië as medegasheer van die Rugbywêreldbeker 2003 aangewys, maar ’n kontraktuele dispuut oor grondtekenregte tussen die Nieu-Seelandse Rugbyunie en die IRR het tot gevolg gehad dat Nieu-Seeland van sy gasheerregte ontneem en Australië as alleenlike gasheer aangewys is.[17] Nieu-Seeland sou oorspronklik 23 van die 48 wedstryde huisves, maar Nieu-Seeland se aandringing op die wysiging van die bepalings rakende stadionadvertensies was onaanvaarbaar vir die IRR.[18] Die Nieu-Seelandse Rugbyvoetbalunie het die bod in 2005 saam met die Nieu-Seelandse regering ingedien en onder andere beklemtoon dat Nieu-Seeland een van die min lande wêreldwyd is waar rugby die hoofsport is.[19] Nieu-Seeland se bod vir 2011 het planne ingesluit om Edenpark en ander stadions uit te brei en sodoende die kommersiële lewensvatbaarheid van die toernooi te verhoog. Vir Edenpark se opknapping is ook fasiliteite beplan vir ’n moontlike toekomstige Statebondspelebod deur Auckland.[20]

Japan wou die eerste Asiatiese land en daarmee buite die “tradisionele tuiste” van rugby word om ’n rugbywêreldbekertoernooi aan te bied. Al die vorige rugbywêreldbekertoernooie is afwisselend in lande van óf die destydse Drienasiesreeks (nou die Rugbykampioenskap) of die Sesnasiestoernooi gehou.[21] Japan het al oor die nodige infrastruktuur beskik, nadat dié land saam met Suid-Korea as gashere van die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2002 opgetree het. In sy bod het die Japannese Rugbyvoetbalunie ook op Japan se ervaring as gasheer van groot toernooie soos die Olimpiese Somerspele 1964, Olimpiese Winterspele 1972 en Olimpiese Winterspele 1998 verwys.[22] Die Internasionale Rugbyraad was egter van mening dat Japan nie volle stadions sou kon waarborg nie.[23] Japan het later wel die Rugbywêreldbeker 2019 aangebied en kon met ’n 99% bywoning spog, die hoogste in die rugbywêreldbekergeskiedenis.[24]

Suid-Afrika het die Rugbywêreldbeker 1995 gehuisves en voor sy bodindiening die Krieketwêreldbeker 2003 aangebied.[25] Die Suid-Afrikaanse bod vir 2011, gelei deur die voormalige Springbokkaptein Francois Pienaar, het ’n sterk ondersteuning deur die nasionale regering geniet.[26] Intussen is die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2010 aan Suid-Afrika toegewys.[27] Tydens ’n parlementêre komitee op 19 Januarie 2005 het die South African Rugby Union hul voorneme aangekondig om stadions van die sokktertoernooi ook tydens die rugbytoernooi een jaar later te gebruik.[28]

Tydens die IRR-raadsvergadering op 17 November 2005 in Dublin is die Rugbywêreldbeker 2011 ná die IRR-inspeksies van elke gasheerland van die botte gedurende Junie en Julie 2005 aan Nieu-Seeland toegeken, bo Japan en Suid-Afrika.[29][30] Daarmee het dit ná die Rugbywêreldbeker 1995 in Suid-Afrika en die Rugbywêreldbeker 2003 in Australië die derde rugbywêreldbekertoernooi geword wat geheel en al in een land aangebied is. Daarbenewens het Nieu-Seeland in terme van bevolking die kleinste land ooit geword om ’n rugbywêreldbekertoernooi aan te bied. Die koste vir die aanbieding van die toernooi het sowat 310 miljoen NZD beloop. Die inkomste is op sowat 280 miljoen NZD beraam, met die Nieu-Seelandse regering en die Nieu-Seelandse rugbybeheerliggaam wat die tekort vergoed het.[31]

Remove ads

Deelnemers

Kwalifisering

Die IRR het dit aanvanklik oorweeg om die aantal spanne op 16 nasionale spanne (en daarmee 32 wedstryde) te reduseer, soos dit in 1995 laas die geval was. Die hoofrede was om ’n wanverhouding tussen die spanne met professionele en amateurspelers, waarvan party nie hul spelers kon betaal nie, te vermy. Die wêreldbeheerliggaam wou ná die Rugbywêreldbeker 2007 oor dié kwessie vergader en het ’n deeglike hersiening van die toernooi aangekondig.[32] In November 2008 is eindelik op 20 deelnemende spanne besluit. Die IRR se verteenwoordigers het agtergekom, dat baie van die spanne wat tydens die 2007-toernooi aanvanklik as “aanvullers” beskou is, die grootste entoesiasme onder die toeskouers ontketen het en dat baie wedstryde nie so eensydig was as wat dit eers gevrees is nie.[33]

Die drie beste spanne in elke groep van die Rugbywêreldbeker 2007 – Argentinië, Australië, Engeland, Fidji, Frankryk, Ierland, Italië, Nieu-Seeland, Skotland, Suid-Afrika, Tonga en Wallis – het almal regstreeks gekwalifiseer terwyl die res van die spanne moes kwalifiseer tydens ’n reeks kompetisies wat regoor die wêreld gehou is. Sewe van die twintig posisies wat in die toernooi beskikbaar was, is gevul deur streekskwalifiseerders, terwyl die oorblywende posisie deur heruitdunning gevul is. Die kwalifiseringstoernooi is in vyf streeksgroepe verdeel: Afrika, Amerikas, Asië, Europa en Oseanië. Twee plekke elk is vir die nasionale spanne van die Amerikas en Europa gereserveer en een elk vir Afrika, Asië en Oseanië. Die oorblywende plek is tydens ’n interkontinentale kwalifiseringsrondte beslis.[34] As die regstreekse klassifiseerders getel word, het 92 spanne in aanmerking gekom vir kwalifisering vir die finale toernooi in Nieu-Seeland.[35]

In Julie 2009 het Kanada as Amerikas 1 gekwalifiseer toe hulle die Verenigde State met ’n algehele telling van 47–30 verslaan het.[36] Een week later is Samoa bevestig as kwalifiseerder van Oseanië as Oseanië 1.[37] Amerikas 2 is in November gevul toe die Verenigde State Uruguay met ’n algehele telling van 54–28 geklop het.[38] In dieselfde maand het Namibië vir sy vierde agtereenvolgende rugbyêreldbekertoernooi gekwalifiseer toe die span Tunisië oor twee seksies geklop het.[39] In Maart 2010 het Georgië as Europa 1 gekwalifiseer en Rusland as Europa 2.[40] Twee maande later het Japan die enigste Asiatiese toekenning gewen.[41] Roemenië het deur heruitdunning gekwalifiseer nadat die span Uruguay met ’n algehele telling van 60–33 geklop het.[42]

Kwalifiserende spanne

Die volgende 20 spanne het vir die finale toernooi gekwalifiseer. Rusland, wat Portugal vervang het, is die enigste verandering in die 20-span-lys van die Rugbywêreldbeker 2007.

Thumb
Spanne wat aan die kwalifiseringstoernooi deelgeneem en die wat regstreeks gekwalifiseer het; altesaam 92 spanne het deelgeneem.

 Afrika

 Amerikas

 Asië

 Europa

 Oseanië

 Nie deelgeneem nie

Thumb
Uitslag van die kwalifisering:

 Gasheer

 Twaalf beste spanne van die 2007-toernooi

 Wenner van die plaaslike kwalifisering

 Versuim om te kwalifiseer

 Nie deelgeneem nie

Meer inligting Span, Kwalifiseringmetode ...
Remove ads

Stadions

Thumb
’n Lugfoto van Lancasterpark in Christchurch ná die 2011-aardbewing

Die 13 stadions vir die Rugbywêreldbeker 2011 is op 12 Maart 2009 bevestig.[43] Van die stadions is met die oog op dié toernooi ten einde van meer kapasiteit opgeknap. Die regering het dit oorweeg om ’n wet goed te keur om die toestemmingsproses te omseil om toe te laat dat van die stadions se herontwikkeling betyds voltooi sou word.[44] Agt wedstryde is in Wellington aangebied, vier elk in Dunedin en North Shore City, drie elk in Hamilton, Invercargill, Nelson, Nieu-Plymouth en Rotorua, asook twee elk in Napier, Palmerston North en Whangarei.[45]

As gevolg van skade aan die Christchurchstadion en die ander fasiliteite in Christchurch, die land se tweede grootste stad, ná die aardbewings in Februarie 2011, het die verantwoordelike minister Murray McCully op 16 Maart die wedstryde se verskuiwing aangekondig. Die twee kwarteindwedstryde is na Auckland verskuif, terwyl die vyf groepwedstryde na ander stede verskuif is.[46]

Op 10 November 2006 het die Nieu-Seelandse regering planne vir die “Stadion Nieu-Seeland” in Auckland bekend gemaak. Volgens dié voorstel sou die nuwe stadion met 60 000 sitplekke aan die waterfront gebou word.[47] Ná protes deur die bevolking en ’n gebrek aan ondersteuning deur die Aucklandse Streekraad is die voorstel ten gunste van Edenpark se opknapping geskrap. Die herontwikkeling van Edenpark se suidelike en suidwestelike pawiljoens was gedurende 2010 klaar. Edenpark met ’n kapasiteit van 60 000 het die eindstryd, die bronseindstryd die twee halfeindstryde, twee kwarteindstryde en vyf groepwedstryde gehuisves.[48]

Die bouwerk aan Dunedin se Forsyth Barr-stadion (tydens die toernooi bekend as Otagostadion) was 'n bron van kommer aangesien dié projek in ’n nou tydraamwerk beplan is. Volgens ’n vorderingsverslag in April 2010 sou die projek betyds klaar wees voor die rugbywêreldbekertoernooi, hoewel daar ’n gemiddelde risiko was met sekere belangrike en potensieel skadelike bekommernisse.[49] As die projek nie betyds voltooi sou gewees het nie, sou organiseerders op Carisbrook as die rugsteunopsie teruggekeer het. Op 6 Augustus 2011 is die Forsyth Barr-stadion amptelik geopen.[50] Vervolgens is Dunedin se nuwe Forsyth Barr-stadion in Augustus 2011 voltooi en pleks van Carisbrook gebruik.[51]

Meer inligting Auckland, Noordeiland, Wellington, Noordeiland ...
Remove ads

Formaat

Thumb
’n Tradisionele Māori-waka word as deel van die vieringe rondom die Rugbywêreldbeker 2011 in die Aucklandse Viaduct-hawe geroei

Die Rugbywêreldbeker 2011 is oor 44 dae tussen 20 verskillende spanne oor 48 wedstryde beslis. Dit het op 9 September 2011 afgeskop op Edenpark met die openingswedstryd tussen die gasheer Nieu-Seeland en Tonga. Die toernooi het geëindig by dieselfde stadion op 23 Oktober met die eindstryd tussen Nieu-Seeland en Frankryk, waartydens die All Blacks die Webb Ellis-beker ingepalm het.

Kalender

Die volgende tabel dui die Rugbywêreldbeker 2011 se daaglikse program aan. ’n Rooi blokkie dui op beide die openings- en sluitingseremonie, ’n pers blokkie op wedstryde tydens die groepfase, ’n groen blokkie op wedstryde tydens die uitklopfase, ’n blou blokkie op die bronseindstryd en ’n geel blokkie op die eindstryd.

Meer inligting Groepfase September/Oktober, Vr 9 ...

Groepe

Thumb
Die loting vir die Rugbywêreldbeker 2011 het op 1 Desember 2008 by die Londense Tower Bridge plaasgevind
Thumb
Stede in Nieu-Seeland waar wedstryde plaasvind het

Die eerste rondte, of die groepfase, het 20 lande wat in vier groepe van vyf spanne gedeel is met dieselfde formaat as wat in 2003 en 2007 gebruik is. Die regstreekse kwalifiseerders se plasing was vir die eerste keer gebaseer op hul posisie op die IRR-ranglys.[52] Aan die vier beste spanne van die Rugbywêreldbeker 2007 (Suid-Afrika, Engeland, Argentinië en Frankryk) is dus nie topgroepplekke toegeken nie, maar “die ranglys is nou baie goed gevestig en gee ons ’n geloofwaardige en bondige manier om spanne vir die trekking van die Rugbywêreldbekergroep te plaas”, het die destydse Rugbywêreldbeker Bpk-voorsitter Syd Millar gemeen.[53]

Die loting is op 1 Desember 2008, gedurende die kwalifisering, by die Londense Tower Bridge gehou en was gebaseer op die IRR-ranglys op dié dag,[54] ná die Noordelike Halfrond se 2008 eindjaarrugbytoetsreeks.[55]

Die lootstelsel van vorige rugbywêreldbekertoernooie is behou met die twaalf regstreekse kwalifiseerders uit 2007 wat op die lotingsdag aan hul onderskeie groepe toegewys is, gebaseer op hul plek op die IRR-ranglys op 1 Desember 2008:[56]

  • Groep 1: Die vier beste gekeurde spanne
  • Groep 2: Die vier naasbeste gekeurde spanne
  • Groep 3: Die vier laagste regstreekse kwalifiseerders

Die twee oorblywende groepe bestaan uit die agt bykomende spanne, met die toewysing in elke groep gebaseer op die vorige Rugbywêreldbekertoernooi:

  • Groep 4: Amerikas 1, Europa 1, Europa 2, Oseanië 1
  • Groep 5: Afrika 1, Amerikas 2, Asië 1 en uitspeelwedstrydwenner

Die groepe is soos volg (in hakies is die ranglysplasing vóór die loting):[57]

Meer inligting Groep 1, Groep 2 ...

Die volledige groepe en plekke vir die toernooi is op 12 Maart 2009 aangekondig.[58] Ná die loting op 1 Desember 2008 lyk die groepe soos volg:[59]

Groepfase

Thumb
Virtuo, die amptelike rugbybal van die Rugbywêreldbeker 2011
Thumb
Maoridanser voor die wedstryd tussen Suid-Afrika en Fidji

Soos in die rugbywêreldbekertoernooie van 2003 en 2007 is die 20 spanne wat vir die Rugbywêreldbeker 2011 gekwalifiseer het in vier groepe verdeel. Die groepe is verdeel van Groep A tot Groep D en elke groep het bestaan uit vyf spanne. Elke groep het drie regstreekse kwalifiseerders van die Rugbywêreldbeker 2007 bevat, met die ander twee plekke wat deur die kwalifiseringstelsel gevul is. Elke land het een keer teen elke ander span in sy groep gespeel: elke land het dus vier wedstryde tydens die groepfase gespeel.

Klassifisering binne elke groep was gegrond op die volgende puntestelsel:

  • vier wedstrydpunte vir ’n oorwinning;
  • twee vir ’n gelykopuitslag;
  • geen vir ’n nederlaag;
  • Een bonuspunt vir die druk van vier of meer drieë, of ’n nederlaag met sewe punte of minder.[60]

Bonuspunte wat bydra tot spanne se versamelde wedstrydpuntetelling is toegeken in elkeen van die volgende omstandighede (een wedstrydpunt vir elke geval):

  • ’n span druk vier of meer drieë (ongeag van die wedstryduitslag);
  • ’n span verloor met sewe punte (’n verdoelde drie) of minder.[60]

Aan die einde van die groepfase is die spanne gerangskik van die eerste na die vyfde posisie, gegrond op versamelde wedstrydpunte, met die twee beste spanne wat na die kwarteindrondte deurgedring het. As twee of meer spanne ewe veel punte behaal het, is ’n kriteriastelsel gebruik om te bepaal watter span ’n hoër rang gehad het. Die kriteriastelsel het berus op ’n gedetailleerde analise van die wedstryde waaraan die spanne deelgeneem het. As geen uitslag met die stelsel bereik kon word nie, is die span wat die hoër rang op die amptelike ranglys van die IRR gehad het (soos gepubliseer op 3 Oktober 2011) die hoër rang toegeken.[60]

Uitklopfase

Van die begin van dié fase af het die toernooi ’n uitklopformaat aangeneem wat uit agt wedstryde bestaan het: vier kwarteindstryde, twee halfeindstryde, ’n derdeplekwedstryd en die eindstryd.

Die wenner en naaswenner van elk van die groepe het na die uitklopfase deurgedring. Groepwenners het teen naaswenners in ander groepe in die kwarteindstryde gespeel, byvoorbeeld: die wenner van Groep A het teen die naaswenner van Groep B en die wenner van Groep B teen die naaswenner van Groep A gespeel. Spanne van dieselfde groep sou dus eers in óf die klein finale óf die eindstryd kon herontmoet het.

Elke wedstryd in die uitklopfase moes met ’n oorwinning vir een van die spanne eindig. As daar ná tagtig minute van gewone spel ’n gelykopuitslag was, is daar verder gespeel om te bepaal wie die wenner is. Aanvanklik is daar twee periodes van ekstra tyd gespeel, tien minute in elke rigting: as daar dan steeds geen wenner was nie, is daar vir tien minute gespeel in ’n uitklopformaat, waar die eerste span wat daarin geslaag het om punte aan te teken, gewen het. As daar steeds nie ’n wenner was ná 110 minute nie is die wenner bepaal deur ’n stelskopkompetisie.[60]

2011-effek op 2015-kwalifisering

Soos tydens die Rugbywêreldbeker 2007 het die drie beste spanne in elke groep regstreeks vir die volgende Rugbywêreldbeker 2015 in Engeland en Wallis gekwalifiseer. Hulle was Argentinië, Australië, Engeland, Frankryk, Ierland, Italië, Nieu-Seeland, Samoa, Skotland, Suid-Afrika, Tonga en Wallis.

Remove ads

Kaartjies en borgskappe

Thumb
Amptelike 2011 Rugbywêreldbeker-winkel in Auckland
Thumb
’n Emirates A380-800 adverteer vir die Rugbywêreldbeker 2011

Kaartjies vir die Rugbywêreldbeker 2011 is in drie fases verdeel. Die eerste-fase-kaartjies is in April 2010 vrygestel toe die wêreldwye publiek die geleentheid gebied is om verskeie kaartjiepakkette vir die groepfase, kwarteindrondte en die bronseindstryd aan te skaf. Aan die einde van 2010 is individuelle kaartjies vir alle wedstryde behalwe die halfeindrondte en die eindstryd vrygestel. Die oorblywende kaartjies is tydens die derde fase vrygestel: dié kaartjies was individuele kaartjies na die halfeindrondte en die eindstryd.[61] Aan die begin van Julie 2011 is daar aangekondig dat daar reeds 900 000 van die 1,35 miljoen kaartjies verkoop is.[62] Altesaam is daar 1,6 miljoen kaartjies verkoop, minder as die 2007-toernooi se 2,25 miljoen en die 2015-toernooi se 2,42 miljoen.[63]

Die wêreldwye vennote van die toernooi was Emirates, Mastercard en Heineken.[64] Gilbert het die rugbyballe vir die toernooi verskaf en die Virtuo-wedstrydbal is deurgaans in die toernooi gebruik. Dit sit Gilbert se betrokkenheid by rugbywêreldbekertoernooie voort nadat die maatskappy die Barbarian- (1995), Revolution- (1999), Xact- (2003) en Synergie-balle (2007) vir vorige toernooie verskaf het.[65] Saam met Gilbert was die amptelike verskaffers Russell McVeagh, Canterbury, KPMG, Coca-Cola, Dole en TAG Heuer.[66]

Remove ads

Betrokkenes

Wedstrydbeamptes

’n Paneel van tien skeidsregters en elf lynregters is vir die groepfase ingespan. Vir die uitkloprondte het die tien skeidsregters as skeidsregters, lynregters en televisieskeidsregters opgetree.[67]

Skeidsregters

Lynregters

Spanne

Elke land kon 30 spelers vir die toernooi kies. Die spanne moes teen 22 Augustus 2011 aan die Internasionale Rugbyraad voorgelê word.[68] Nadat die span voorgelê is, kon ’n beseerde speler vervang word, maar so ’n speler is nie toegelaat om weer by die span aan te sluit nie.

Remove ads

Wedstryde

Kitsfeite

Die wedstryde is in twee fases opgedeel, naamlik die groep- en die uitklopfase.

Groepfase

20 spanne het aan die groepfase deelgeneem. Die twee beste spanne in elke groep het na die uitklopfase deurgedring, terwyl die drie beste spanne regstreeks vir die volgende toernooi gekwalifiseer het.

Groep A

Thumb
Wedstryd van 2 Oktober, Nieu-Seeland verslaan Kanada met 79–15
Thumb
Wedstryd van 17 September, Suid-Afrika verslaan Fidji met 49–3
Meer inligting Span, S ...

Groep B

Thumb
Wedstryd van 10 September, Engeland verslaan Argentinië met 13–9
Meer inligting Span, S ...

Groep C

Thumb
Wedstryd van 23 September, Australië verslaan die Verenigde State met 67–5
Meer inligting Span, S ...

Groep D

Thumb
Wedstryd van 30 September, Suid-Afrika verslaan Samoa met 13–5
Meer inligting Span, S ...

Uitklopfase

Thumb
Die All Blacks nadat hulle in 2011 as die wêreldkampioen gekroon is
Thumb
Vieringe in Nieu-Seeland
Kwarteindrondte Halfeindrondte Finale
                   
8 Oktober – Wellington        
 Ierse Rugbyvoetbalunie-vlag  Ierland  10
15 Oktober – Auckland
 Vlag van Wallis Wallis  22  
 Vlag van Wallis Wallis  8
8 Oktober – Auckland
   Vlag van Frankryk Frankryk  9  
 Vlag van Engeland Engeland  12
23 Oktober – Auckland
 Vlag van Frankryk Frankryk  19  
 Vlag van Frankryk Frankryk  7
9 Oktober – Wellington
   Vlag van Nieu-Seeland Nieu-Seeland  8
 Vlag van Suid-Afrika Suid-Afrika  9
16 Oktober – Auckland
 Vlag van Australië Australië  11  
 Vlag van Australië Australië  6 Uitspeel om derde plek
9 Oktober – Auckland
   Vlag van Nieu-Seeland Nieu-Seeland  20   21 Oktober – Auckland
 Vlag van Nieu-Seeland Nieu-Seeland  33
   Vlag van Wallis Wallis  18
 Vlag van Argentinië Argentinië  10  
 Vlag van Australië Australië  21

Kwarteindrondte

Halfeindrondte

Bronseindstryd

Eindstryd


Rugbywêreldkampioen 2011
Vlag van Nieu-Seeland Nieu-Seeland
Remove ads

Statistiek

Finale puntestand

Hierdie tabel toon die finale puntestand van al 20 deelnemende nasionale rugbyspanne in die Rugbywêreldbeker 2011.[91]

Thumb
Uitslag van die Rugbywêreldbeker 2011:

 Kampioen

 Naaswenner

 Derde plek

 Vierde plek

 Kwarteindrondte

 Groepfase

 Nie deelgeneem nie

Meer inligting Rang, Span ...

Meeste punte en drieë

Meer inligting Naam, Punte ...
Remove ads

Sien ook

Notas

  1. Regstreekse kwalifiseerder (drie beste spanne van elke groep in 2007).
  2. Benewens regstreekse kwalifisering as gevolg van sy prestasie in 2007 is Nieu-Seeland die gasheer en sou die land op grond daarvan gekwalifiseer het.

Verwysings

Verdere leesstof

Eksterne skakels

Loading related searches...

Wikiwand - on

Seamless Wikipedia browsing. On steroids.

Remove ads