90377 Sedna

asteroïde From Wikipedia, the free encyclopedia

90377 Sedna
Remove ads

90377 Sedna (simbool: ⯲)[9] is ’n groot kleinplaneet in die buitewyke van die Sonnestelsel wat in 2015 sowat 86 AE van die Son af was, sowat drie keer so ver as Neptunus. Met spektroskopie is vasgestel Sedna se oppervlaksamestelling is soortgelyk aan dié van sommige ander trans-Neptunus-voorwerpe (TNV's), dus grootliks ’n mengsel van water-, metaan- en stikstofyse. Sy oppervlak is een van die rooistes in die Sonnestelsel. Dit is hoogs waarskynlik ’n dwergplaneet. Van die grootste agt TNV's is Sedna die enigste een wat sover bekend nie ’n maan het nie.[10][11]

Kitsfeite Ontdekking, Ontdek deur ...
Remove ads

Beskrywing

Vir die grootste deel van sy wentelbaan is Sedna verder van die Son af as tans. Sy afelium (grootste afstand van die Son af) word geraam op sowat 937 AE[3] (31 keer so ver as Neptunus), en dit is dus een van die verste bekende voorwerpe in die Sonnestelsel benewens langperiodekomete. Eris, die dwergplaneet met die grootste massa, en 225088 Gonggong, die grootste voorwerp in die Sonnestelsel sonder ’n naam, is tans verder van die Son af as Sedna, teen onderskeidelik 96,4 en 87 AE.[12] Eris is naby sy verste afstand van die Son, terwyl Sedna in 2076 op sy naaste afstand van die Son sal wees.[7] Sedna sal in 2114 die verste bekende voorwerp van die Son af wees.

Sedna het ’n besonder langwerpige wentelbaan – dit neem sowat 11 400 jaar om ’n omwenteling te voltooi en is op 76 AE op sy naaste aan die Son. Hierdie feite het tot groot bespiegeling oor sy oorsprong gelei. Die Kleinplaneetsentrum plaas Sedna tans in die verstrooide skyf, ’n groep voorwerpe wat deur die swaartekraginvloed van Neptunus in hoogs langwerpige wentelbane gestuur word. Hierdie klassifikasie word deur sommige wetenskaplikes betwis, want Sedna kom nooit naby genoeg aan Neptunus dat dit deur die planeet verstrooi kon gewees het nie. Dit laat sommige sterrekundiges informeel daarna verwys as die eerste bekende lid van die binneste Oortwolk. Ander vermoed ’n verbygaande ster het dit in sy huidige wentelbaan geruk – dalk ’n ster in die sterreswerm waarin die Son ontstaan het – of selfs dat dit uit ’n ander sterstelsel aangetrek en vasgevang is. Volgens nog ’n hipotese is sy wentelbaan bewys van die bestaan van ’n groot planeet anderkant Neptunus.[13]

Die sterrekundige Michael Brown, mede-ontdekker van Sedna en die dwergplanete Eris, Haumea en Makemake, dink dit is die wetenskaplik belangrikste TNV wat nog ontdek is, omdat ’n begrip van sy buitengewone wentelbaan lig kan werp op die oorsprong en vroeë evolusie van die Sonnestelsel.[14][15]

Remove ads

Verwysings

Eksterne skakels

Loading related searches...

Wikiwand - on

Seamless Wikipedia browsing. On steroids.

Remove ads