Thomas Sheraton

From Wikipedia, the free encyclopedia

Thomas Sheraton
Remove ads

Thomas Sheraton (1751 - 22 Oktober 1806)[1] was 'n meubelontwerper, een van die 'groot drie' Engelse meubelontwerpers van die 18de eeuse Georgiaanse tydperk, saam met Thomas Chippendale en George Hepplewhite.[2] Sheraton se meubelstyl word deur 'n vroulike verfyning van laat Georgiaanse style gekenmerk, en het die mees invloedryke bron van inspirasie vir die meubels van die laat 18de eeu geword.

Thumb
'n Sheraton-styl stoel met 'n reghoekige rugleuning
Remove ads

Biografie en styl

Sheraton is in Stockton-on-Tees, County Durham, Engeland gebore.[3] Hy was 'n vakleerling by 'n plaaslike kabinetsmaker en het voortgegaan om as 'n vakman-kabinetmaker te werk totdat hy in 1790, op 39-jarige ouderdom, na Londen verhuis het.[1] Daar was hy as professionele konsultant en onderwyser werksaam, en het hy vakmanne onderrig in perspektief, argitektuur, en meubelontwerp.[4] Dit is nie bekend hoe hy die kennis of die ervaring opgedoen het wat hom in staat gestel het om dit te doen nie, maar dit wil voorkom asof hy matig suksesvol was.

Vanaf 1791 publiseer hy Die kabinetmaker en stoffeerder se sketsboek, (The Cabinet Maker's and Upholsterer's Drawing Book) in vier volumes.[3] Ten minste seshonderd kabinetmakers en skrynwerkers het die boeke gekoop, en dit het onmiddellik 'n groot invloed op meubelontwerp gehad. Gedurende hierdie tydperk het hy nie self 'n werkswinkel gehad nie en dit is gevolglik moontlik dat hy self nooit enige van die meubelstukke in sy boeke gemaak het nie. Geen meubelstukke is nog ooit direk na hom nagespoor nie.[4] 'n Meubelstuk wat beskryf word as "deur Sheraton" verwys dus na die ontwerp en nie na die vervaardiger van die stuk as sulks nie.[5]

In 1803 publiseer hy Die kabinetleksikon (The Cabinet Dictionary), ' n kompendium van instruksies oor die tegnieke van meubel- en stoelvervaardiging.[3] 'n Jaar voor sy dood, in 1805, publiseer hy die eerste volume van Die kabinetmaker, stoffeerder en algemene kunstenaar se ensiklopedie (The Cabinet Maker, Upholsterer and General Artist's Encyclopaedia).

Sheraton se naam word met meubelstyle in die 1790's en vroeë 19de eeu geassosieer.[1] Baie van die ontwerpe is op klassieke argitektuur, waarvan kennis 'n wesenlike deel van die tegniese opleiding van 'n ontwerper was, gebaseer. Nie al die tekeninge in sy boek was sy eie ontwerpe nie hy het erken dat sommige van die ontwerpe afkomstig was van meubels wat in die werkswinkels van ander praktiserende kabinetmakers gemaak is.[3] Hy was egter 'n uitstekende tekenaar en sy naam word met die styl van die tydperk geassosieer.

Sheraton-styl meubels het die heersende neo-klassieke ontwerpneigings uitstekend geïnkorporeer, met goeie proporsies, gebalanseerde ontwerp en verfynde ornamentasie. Die meubels was meestal reglynig van aard, met klem op vertikale lyne. Stoele het reghoekige rugleunings en reguit pote gehad. Hoewel reguit lyne oorheersend in die meubels gebruik is, is delikate, grasieuse kurwes op 'n subtiele wyse by arm- en rugleunings gebruik. Sheraton het ook dikwels meubels met geheime meganiese kompartemente ontwerp. Satynhout en mahonie is vir die meeste van Sheraton se meubels gebruik. Fineerwerk en inlegwerk, sowel as geverfde versierings, is algemeen as ornamentasie vir die meubels gebruik.

Remove ads

Verwysings

Loading related searches...

Wikiwand - on

Seamless Wikipedia browsing. On steroids.

Remove ads