Tsai Ing-wen

From Wikipedia, the free encyclopedia

Tsai Ing-wen
Remove ads

Tsai Ing-wen (Chinees: 蔡英文; pinyin: Cài Yīngwén; gebore 31 Augustus 1956 in Taipei, Republiek China) is 'n Taiwannese politikus en akademikus wat van 20 Mei 2016 tot 20 Mei 2024 as president van die Republiek China gedien het. Sy was die eerste vrou wat tot die amp verkies is, die sewende president van die Republiek China onder die grondwet van 1947 en die tweede president van die Demokratiese Progressiewe Party (DPP), deel van die regerende Pangroenkoalisie.

Kitsfeite Vise, Eerste minister ...
Remove ads

Biografie

Tsai is op 31 Augustus 1956 in die Mackay-gedenkhospitaal in die Zhongshan-distrik van Taipei-stad gebore.[1][2][3] Sy is die jongste van elf kinders.[4][5][6] Haar vader Tsai Chieh-sheng (1918–2006), was 'n sakeman wat 'n motorherstelwinkel bestuur het, terwyl haar moeder Chang Chin-fong (1925–2018) 'n huisvrou was.[7][8]

Haar voornaam, Ing-wen (英文), is volgens genealogiese naampraktyke bepaal. Terwyl dit die spelling 瀛文 voorgestel het, het haar vader gevoel dat die karakter 瀛 te veel lyne gehad het en hy het daarom besluit om dit met die karakter 英 te vervang.[9] Sy het by die Taipei Munisipale Hoër Meisieskool Zhongshan skoolgegaan.[10] Sy het weens haar vader se opdrag regte gaan studeer. Sy het in 1978 van die Kollege van Regsgeleerdheid van die Nasionale Universiteit van Taiwan gegradueer. In 1980 het sy haar meestersgraad in die regte van Cornell Universiteit ontvang. Daarna het sy regte aan die London School of Economics studeer en haar doktorsgraad in die regte in 1984 van die Universiteit van Londen ontvang.[11][12] Met haar terugkeer na Taiwan, het sy regte aan die Skool vir Regte van Soochow Universiteit en die Nasionale Chengchi Universiteit, albei in Taipei, gedoseer.[13][14]

In die 1990's is Tsai ook tot die Billike Handelskommissie en die Kopieregkommissie aangestel. Sy was 'n konsultant vir die Raad vir Vastelandsake en die Nasionale Veiligheidsraad. Sy het ook die opstelspan gelei oor die Statuut vir Betrekkinge met Hongkong en Macau (Chinees: 港澳關係條例).[15][16]

Remove ads

Politieke loopbaan

Tsai het in 2000 voorsitter van die Vastelandsakeraad geword. Sy het daarna in 2004 by die Demokratiese Progressiewe Party aangesluit. As lid van die DPP, is sy in daardie jaar se verkiesing tot die Wetgewende Yuan verkies.[3] Op 25 Januarie 2006 is Tsai as vise-president van die Uitvoerende Yuan aangewys wat haar die adjunkpremier van Taiwan gemaak het.[17][18] Sy het terselfdetyd as die voorsitter van die Verbruikersbeskermingskommissie gedien.

Ná haar bedanking as adjunkpremier in Mei 2007 het Tsai as voorsitter van TaiMedBiologics, 'n biotegnologiemaatskappy wat in Taiwan gebaseer is, gedien.

Tsai is op 19 Mei 2008 tot die leierskap van die Demokratiese Progressiewe Party verkies en het gevolglik die heel eerste vrou geword om 'n Taiwanese politieke party te lei.[19] Tsai het in 2012 as DPP-voorsitter bedank nadat sy daardie jaar se presidentsverkiesing teen Ma Ying-jeou verloor het.[20] Sy is weer in 2014 tot die leierskap van die DPP verkies voordat sy van die amp in 2018 bedank het.[21][22][23] Tsai was toe weer vanaf 2020 tot 2022 leier van die DPP.[24][25][26]

Remove ads

President van Taiwan

Tsai het die presidentsverkiesing van 2016 gewen en is op 20 Mei 2016 as die eerste vroulike president van die Republiek China ingehuldig.[27] Sy is in 2020 vir 'n tweede termyn herverkies.[28]

Verwysings

Eksterne skakels

Loading related searches...

Wikiwand - on

Seamless Wikipedia browsing. On steroids.

Remove ads