Visarend
From Wikipedia, the free encyclopedia
Remove ads
Die visarend of witkop[2] (Haliaeetus vocifer) is 'n groot en bekende roofvoël met 'n treffende wit, kastaiingbruin en swart verekleed. Benewens hul sierlike en kragtige voorkoms, is hulle ewe bekend om hul stem. Die uitbundige, klinkende roep, wat baie vrylik van wagposte of tydens vlug geuiter word,[2] is deel van hul territoriale sowel as paringsgedrag.[3] Hul groot neste word in bome reg langs die waterkant geplaas, en word jaar op jaar herbenut. Dit is die enigste van die visvretende arende in Afrika, waar dit baie wydverspreid voorkom. Dit is die nasionale voël van lande soos Namibië, Malawi, Zambië, Suid-Soedan en Zimbabwe. Die visarend mag wel op die Amerikaanse arend lyk, maar alhoewel hulle verwant is, is hulle tot verskillende kontinente beperk, waar hulle by verskillende habitatte aangepas is.
Remove ads
Identifikasie
Dit het 'n opvallende spierwit kop en bors met bruin pens en vlerkdekvere. Hierdie arend het swart en bruin ondervlerke en 'n wit stert. Behalwe vir die kenmerkende roep, is die volwasse visarend bekend vir sy uitkenbare kleure soos pas genoem. Volwasse voëls word 63 tot 73 cm lank van snawel- tot stertpunt. Soos dit by roofvoëls die reël is, word die wyfie effens groter as die mannetjie. Anders as die volwassenes het jongvoëls aanvanklik donker koppe. Hulle is ook bruin geveerd aan die bokant, en baie gestreep oor die borskant.[2]
Remove ads
Verspreiding
Die visarend is 'n algemene standvoël in Afrika suid van die Sahara, insluitende die oorgrote deel van Suid-Afrika. In die Wes-Kaap het dit etlike jare te Zeekoevlei gebroei.[2]
Habitat
Groot riviere, riviermondings met oewerbome,[2] damme en mere en ook aan kusgebiede.
Gewoontes
Hulle voed op vis wat van die wateroppervlak af gegryp word, maar hulle sal ook vis by ander voëls roof.[2] Hulle hou ook daarvan om paddas te vang.[2]
Roep
'n Kenmerkende lang "kyeow-kou-kou"-roep.
Broeigedrag
Hul groot neste word in bome reg op die waterkant geplaas, en word jaar op jaar herbenut.[2] Twee spierwit eiers word gelê.
Nasionale embleem
Die visarend is een van Namibië se wapendiere, asook Suid-Soedan en Zambië se wapendier. Beide die nasionale krieketspan en nasionale rugbyspan van Namibië vertoon dié wapendier in hul embleme en die Namibiese nasionale krieketspan se bynaam "Arende" is aan die visarend ontleen.
Ander name
Weens die spesie se wye verspreiding het dit volksname in baie tale.[4] Voorbeelde van name in ander tale is: nkwazi in Chewa, African fish eagle in Engels, aigle pêcheur in Frans,[5] ntšhu in Noord-Sotho, hungwe in Shona en inkwazi in Zoeloe.
Fotogalery
Sien ook
Verwysings
Bron
Eksterne skakels
Wikiwand - on
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Remove ads