Wes Anderson
From Wikipedia, the free encyclopedia
Remove ads
Wesley Wales Anderson (gebore 1 Mei 1969) is 'n Amerikaanse rolprentregisseur en -vervaardiger. Die temas van sy rolprente is leed, die verlies van onskuld en disfunksionele gesinne. Vanweë sy prente se eksentrisiteit, besonderse visuele en vertelstyl[1] en die gereelde gebruik van 'n ensemble van topakteurs het resensente Anderson al as 'n auteur ('n kunstenaar met 'n kenmerkende styl) beskryf. Drie van sy prente – Moonrise Kingdom (2012), The Royal Tenenbaums (2001) en The Grand Budapest Hotel (2014) – het op BBC Culture se lys van 100 beste rolprente van die 21ste eeu verskyn.[2]
Anderson het lof ingepalm vir sy vroeë prente Bottle Rocket (1996) en Rushmore (1998). Hy het in dié tyd dikwels saam met die broers Luke en Owen Wilson saamgewerk en sy vervaardigingsmaatskappy American Empirical Pictures gestig.[3] Hy het 'n Oscar-benoeming ontvang vir beste oorspronklike draaiboek vir The Royal Tenenbaums (2001). Sy volgende prente het ingesluit The Life Aquatic with Steve Zissou (2004), The Darjeeling Limited (2007) en Fantastic Mr. Fox (2009), sy eerste stopraampie-animasieprent ('n tegniek waarin voorwerpe fisiek effens gemanipuleer word tussen individueel gefotografeerde raampies). Hy is vir laasgenoemde benoem vir 'n Oscar vir die beste animasierolprent. Daarna het Moonrise Kingdom (2012) gevolg, waarvoor hy sy tweede Oscar-benoeming vir beste oorspronklike draaiboek gekry het.
Vir sy prent The Grand Budapest Hotel (2014) het hy sy eerste Oscar-benoeming gekry vir beste regisseur en beste rolprent, asook sy derde benoeming vir beste oorspronklike draaiboek. Hy het ook 'n Bafta vir beste oorspronklike draaiboek gewen.[4] Latere werke sluit in sy tweede stopraampie-animasieprent, Isle of Dogs (2018), waarvoor hy die Silwerbeer (op die Berlinale) vir beste regisseur gewen het, asook 'n benoeming vir beste animasierolprent.[5] Dit is gevolg deur The French Dispatch (2021), Asteroid City (2023) en The Phoenician Scheme (2025). Anderson het ook die Oscar vir beste kortfilm gewen vir The Wonderful Story of Henry Sugar (2023).
Remove ads
Vroeë lewe en opvoeding
Wesley Wales Anderson is op 1 Mei 1969 in Houston, Texas, gebore as die seun van Melver Leonard Anderson, wat in advertensies en openbare betrekkinge gewerk het,[6][7] en Texas Anne Anderson (gebore Burroughs),[8] ’n eiendomsagent en argeoloog.[9] Sy ouers is geskei toe hy agt jaar oud was.[10]
Hy het in 1987 aan St. John's School in Houston gematrikuleer, wat hy later as ’n prominente ligging in die rolprent Rushmore gebruik het.[11] As kind het Anderson stilrolprente met sy pa se Super 8-kamera gemaak waarin sy broers en vriende gespeel het, hoewel sy eerste ambisie was om ’n skrywer te word.[10][12] Anderson het deeltyds as ’n bioskoopprojeksionis by die Hogg-gedenkouditorium gewerk terwyl hy die Universiteit van Texas in Austin bygewoon het, waar hy in 1989 sy kamermaat[13] en toekomstige medewerker Owen Wilson ontmoet het.[10][14] In 1991 het hy met ’n Baccalaureus artium met ’n hoofvak in filosofie gegradueer.[15][12]
Remove ads
Loopbaan
1990’s
Anderson se eerste rolprent was Bottle Rocket (1996), gebaseer op ’n kortfilm met dieselfde naam wat hy saam met Luke en Owen Wilson gemaak het. Dit is ’n misdaadfliek oor ’n groep jong Texane wat groot rooftogte wil uitvoer. Dit het goeie resensies gekry, maar het swak by die loket gevaar.[16][17][18]
Sy volgende rolprent was Rushmore (1998), ’n eienaardige komedie oor ’n hoërskoolleerling se verliefdheid op ’n laerskoolonderwyseres, met Jason Schwartzman, Bill Murray en Olivia Williams in die hoofrolle. Dit was ’n finansiële sukses.[19] Murray het in baie van Anderson se daaropvolgende rolprente verskyn. By die Independent Spirit Awards van 1999 het Anderson die prys vir beste regisseur gewen en Murray die prys vir beste manlike byspeler. Murray is ook benoem vir die Golden Globe vir beste manlike byspeler in 'n rolprent. In 2000 het die rolprentvervaardiger Martin Scorsese Bottle Rocket en Rushmore geprys.[20] Sedert die uitreiking het Rushmore kultusstatus bereik, en in 2016 is die rolprent gekies vir bewaring deur die Library of Congress in die Verenigde State se nasionale rolprentregister.[21]
2000’s
Anderson se volgende komediedrama, The Royal Tenenbaums, is in 2001 uitgereik. Dit fokus op ’n suksesvolle, artistieke New Yorkse familie en hulle verstoteling-patriarg, gespeel deur Gene Hackman. Anjelica Huston is die eksvrou en Ben Stiller, Luke Wilson en Gwyneth Paltrow die kinders. Die rolprent was ’n sukses by die loket en het goeie resensies gekry. Dit was Anderson se grootste finansiële sukses tot Moonrise Kingdom, en het meer as $50 miljoen in plaaslike loketontvangste verdien. The Royal Tenenbaums is vir ’n Oscar benoem en is deur ’n peiling van die rolprenttydskrif Empire as die 159ste beste rolprent nóg aangewys.[22]

Anderson se volgende vollengterolprent was The Life Aquatic with Steve Zissou (2004), oor die Jacques Cousteau-agtige vervaardiger van dokumentêre rolprente, gespeel deur Bill Murray. In die rolprent is ook Owen Wilson, Cate Blanchett, Willem Dafoe, Jeff Goldblum, Anjelica Huston en Michael Gambon te sien. Die ontvangs was minder gunstig as vir The Royal Tenenbaums.[23][24]
The Darjeeling Limited (2007) handel oor drie emosioneel vervreemde broers wat saam per trein deur Indië reis. Dit weerspieël die dramatieser toon van The Royal Tenenbaums, maar het soortgelyke resensies ontvang as The Life Aquatic with Steve Zissou. Anderson het erken hy is na Indië om die rolprent te verfilm deels as ’n huldeblyk aan die Indiese rolprentmaker Satyajit Ray, wie se “flieks my ander rolprente ook op verskillende maniere geïnspireer het”. (Die rolprent is aan hom opgedra.)[25] Ook in die rolprent te sien is Jason Schwartzman, Owen Wilson, Adrien Brody, en die draaiboek is deur Anderson, Schwartzman en Roman Coppola geskryf.[26]
2010's

In 2012 is Anderson se prent Moonrise Kingdom uitgereik. Sy debuut was op die Cannes-rolprentfees, waar dit om die Palme d'Or meegeding het.[27] Die fliek is ’n grootwordkomedie wat op ’n fiktiewe dorp in New England afspeel. Dit bevat ensemble-optredes deur Bill Murray, Edward Norton, Bruce Willis, Frances McDormand en Tilda Swinton. Die prent is kenmerkend van Anderson se styl en het vir hom nog ’n Oscar-benoeming vir sy draaiboek besorg. Die film was ook ’n finansiële sukses en het $68,3 miljoen by die loket verdien, terwyl sy begroting slegs $16 miljoen was.

In 2014 is Anderson se volgende prent, The Grand Budapest Hotel, uitgereik. Die akteurs daarin is Ralph Fiennes, Tony Revolori, Saoirse Ronan, Jeff Goldblum, Willem Dafoe, F. Murray Abraham en verskeie van Anderson se gereelde medewerkers, onder andere Murray, Owen Wilson, Swinton en Schwartzman.[28] Dit speel hoofsaaklik in die 1930’s af en volg die avonture van M. Gustave, die hotel se consierge, wat ’n "wonderlike bespotting van die geskiedenis maak, en die gruwels daarvan verdraai met ’n reeks grappies en skelm gebare”, volgens The New York Times.[29] Die prent is een van Anderson se grootste suksesse. Dit het wêreldwyd 'n bruto inkomste van byna $175 miljoen gehad en is vir tientalle pryse benoem, insluitend nege Oscars. Dit het vier daarvan gewen: vir beste produksie-ontwerp, beste kostuumontwerp, beste grimering en beste oorspronklike musiek.[30] Een van die benoemings was Anderson se eerste vir beste regisseur.
Die regisseur het daarna teruggekeer na stopraampie-animasie met Isle of Dogs.[31] Dit is in Maart/April 2018 uitgereik.[32][33] Die prent is vir Oscars benoem vir beste animasieprent en beste oorspronklike musiek.[34]
2020's
Anderson se rolprent The French Dispatch speel in die naoorlogse Frankryk af. Die akteurs Benicio del Toro, Jeffrey Wright, Bill Murray, Frances McDormand, Owen Wilson, Willem Dafoe, Adrien Brody, Tilda Swinton en Timothée Chalamet speel daarin. Die uitreiking daarvan is vertraag weens die covid-19-pandemie, en die première was eindelik op 12 Julie 2021 op die Cannes-rolprentfees. Dit is op 22 Oktober 2021 in die VSA uitgereik.[35]
In November 2021 het Anderson die verfilming van Asteroid City voltooi, maar min besonderhede is aan die pers bekend gemaak.[36] ’n Groot deel van die prent is geskiet in die Spaanse stad Chinchón, waar ’n reusestel gebou is wat Monument Valley naboots.[37][38]
Van heel links: Jason Schwartzman, Tilda Swinton en Adrien Brody is van die akteurs in Asteroid City. Hulle verskyn ook in baie van Anderson se ander flieks.
Die akteurs is onder andere Tom Hanks, Scarlett Johansson, Adrien Brody, Tilda Swinton, Bryan Cranston, Jeff Goldblum, Hope Davis en Jeffrey Wright.[39] Sy première was op die Cannes-rolprentfees van 2023, en op 16 Junie is dit in die VSA uitgereik. Dit het oor die algemeen positiewe resensies ontvang.
Anderson het daarna ’n verfilming van Roald Dahl se kortverhaalbundel The Wonderful Story of Henry Sugar and Six More vir Netflix geregisseer. Die kortfilm van 41 minute getiteld The Wonderful Story of Henry Sugar se première was op die Venesiese Internasionale Rolprentfees van 2023. Dit het goeie resensies gekry. Dit is gevolg deur ’n beperkte uitreiking in die VSA op 20 September en ’n Netflix-première op 27 September 2023. Die akteurs is onder andere Benedict Cumberbatch, Dev Patel, Ralph Fiennes en Ben Kingsley.[40][41]
Anderson het ook drie ander kortfilms in 2023 op Netflix uitgereik wat op Dahl se werk geskoei is: The Swan, The Rat Catcher en Poison.[42] Hulle is elk 16 minute lank. The Wonderful Story of Henry Sugar het 'n Oscar gewen; wat Anderson se eerste een was.[43] Die vier kortfilms is gekombineer in een antologieprent met die titel The Wonderful Story of Henry Sugar and Three More, wat op 15 Maart 2024 op Netflix uitgereik is.[44]
Anderson se mees onlangse prent, getiteld The Phoenician Scheme, is op 30 Mei 2025 in die VSA uitgereik nadat die première vroeër die maand op die Cannes-rolprentfees was. Die akteurs sluit in Benicio del Toro, Mia Threapleton, Riz Ahmed, Tom Hanks, Michael Cera, Bryan Cranston en Mathieu Amalric. Die prent is oor die algemeen gunstig deur resensente ontvang. Dit is ook vir 'n Palme d'Or benoem.[45]
Remove ads
Styl en regietegnieke
Rolprentinvloede
Anderson se rolprentinvloede sluit in Pedro Almodóvar,[46] Satyajit Ray,[25] Hal Ashby,[47] Roman Polanski[48] en Elem Klimov.[49]
In ’n onderhoud op die Amerikaanse televisieprogram Today het die akteur Bryan Cranston insig gegee in Anderson se proses. Cranston het gesê:[50]
Al die akteurs bly in dieselde hotel. Ons eet elke aand saam aan een tafel met Wes en al die gaste; dit is soos 'n akteurskamp ... Op ’n Wes Anderson-fliek is daar geen woonwaens, geen kleedkamers nie ... daar is geen hiërargie, geen roeplys nie – jy is net gereed om omstreeks 9:30, 10:00 in die oggend te begin. Jy spring saam met hom in sy gholfkarretjie of in ’n minibus en jy ry stel toe ... jy kuier saam met almal sodat jy nooit weet of jy in ’n toneel ingeroep gaan word nie. Hy het so ’n vriendelike en vrygewige gees ... ook in sy persoonlike lewe. Almal verdien dieselfde hoeveelheid geld. Jy daag net op en daar gaan jy. Soms het jy dalk ’n klein ondersteunende rol in ’n toneel, en ander kere weer vertolk jy die hoofrol in ’n rolprent.
Anderson het ’n unieke regiestyl wat daartoe gelei het dat verskeie resensente hom as ’n auteur beskou.[51][52] Hy word beskou as ’n sentrale figuur in die Amerikaanse eksentrieke rolprentbedryf.[53] ’n Groot aantal ooreenkomste is opgemerk tussen Anderson se werk en die 1984-rolprent The Hotel New Hampshire, ’n eksentrieke komediedrama geskryf en geregisseer deur Tony Richardson wat ’n ensemblerolverdeling bevat het, insluitend Jodie Foster, Beau Bridges, Rob Lowe, Nastassja Kinski, Amanda Plummer, Matthew Modine en Seth Green in sy rolprentdebuut.[54]
Die Sowjetkomedierolprent Welkom, of Toegang Verbode deur Elem Klimof (1964) is uitgewys as een belangrike bron van inspirasie vir Anderson, spesifiek sy “kamerawerk, storieverteltegnieke en bekorende wispelturigheid”.[55]
Temas en stories

Anderson se werk word as postmodernisties geklassifiseer vanweë sy nostalgiese aandag aan detail, sy ondermyning van hoofstroomkonvensies van narratief, sy verwysings na verskillende genres binne dieselfde prent en sy liefde vir eksentrieke karakters met komplekse seksuele identiteite.[56][57]
Hy het meestal komedies met 'n vinnige tempo geregisseer wat gekenmerk word deur ernstiger of melancholiese elemente. Temas is dikwels gesentreer op rou, die verlies van onskuld, disfunksionele gesinne, ouerlike verlating, egbreuk, wedywering tussen sibbes, gekompliseerde romanse en onwaarskynlike vriendskappe. Sy rolprente is ongewoon karaktergedrewe en word bespot én geprys met terme soos “literêre geek chic”.[58][59] Hulle storielyne bevat dikwels diefstalle en onverwagte verdwynings, met ’n neiging om ruim uit die rooftoggenre te leen.[60]
Visuele styl
Volgens Alex Buono[61] is Anderson bekend vir die uitgebreide gebruik van platruimtekamerabewegings (wat tonele tweedimensioneel laat lyk),[62] simmetriese komposisies, die vinnige, skudderige zoem op onderwerpe,[63] stadige aksie-stap-skote, ’n doelbewus beperkte kleurpalet en 'n handgemaakte kunsrigting wat dikwels miniatuurmodelle gebruik. Hierdie stilistiese keuses gee sy rolprente ’n kenmerkende voorkoms wat al uitgebreide besprekings, kritiese studie en parodie ontlok het.
Baie skrywers, resensente en Anderson self het al opgemerk dat dit sy rolprente die gevoel van “selfstandige wêrelde” of ’n “skaalmodelhuishouding” gee.[64] In 2019 het die maatskappy Murals Wallpaper ’n reeks muurpapier bekendgestel wat geïnspireer is deur die visuele ontwerp van Anderson se rolprente.[65]
Sedert The Life Aquatic with Steve Zissou maak Anderson meer staat op stopraampie-animasie en miniatuurmodelle, en het hy selfs al volledige rolprente met stopraampie-animasie gemaak, soos Fantastic Mr. Fox en Isle of Dogs.[66]
Klankbane
Anderson gebruik dikwels popmusiek uit die 1960’s en 1970’s op die klankbane van sy rolprente, en een groep of musikant is geneig om elke klankbaan te oorheers, soos Cat Stevens in Rushmore, die Duitse sanger Nico in The Royal Tenenbaums, David Bowie in The Life Aquatic with Steve Zissou en die Beach Boys in Fantastic Mr. Fox.
In The Grand Budapest Hotel, wat hoofsaaklik in die 1930’s afspeel, word popmusiek vermy ten gunste van musiek deur Alexandre Desplat. Dié het vir die klankbaan 'n Oscar vir beste oorspronklike musiek, 'n Bafta vir beste rolprentmusiek en 'n World Soundtrack Award vir beste oorspronklike musiek van die jaar gewen.
Herhaalde medewerkers
Anderson se rolprente bevat dikwels oor en oor dieselfde akteurs, insluitend die Wilson-broers (Owen, Luke en Andrew), Bill Murray, Jason Schwartzman, Anjelica Huston, Willem Dafoe, Jeff Goldblum, Edward Norton, Adrien Brody, Bob Balaban, Tony Revolori en Tilda Swinton.[67][68] Mark Mothersbaugh het Anderson se eerste vier rolprente gekomponeer en Alexandre Desplat die volgende ses.[69] Randall Poster dien sedert Rushmore as musiektoesighouer vir al Anderson se rolprente. Anderson het draaiboeke saam met Noah Baumbach, Roman Coppola en Hugo Guinness geskryf. Sy rolprente word dikwels deur Steven Rales gefinansier deur sy produksiemaatskappy Indian Paintbrush.[70]
Remove ads
Filmografie
Remove ads
Verwysings
Skakels
Wikiwand - on
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Remove ads
