Gideon Roos
From Wikipedia, the free encyclopedia
Dr. Gideon Daniel Roos (Worcester, 28 Oktober 1909 – Johannesburg, 9 Maart 1999)[1] was ’n akteur, omroeper, direkteur-generaal van die SAUK en stigter (in 1962), voorsitter en besturende direkteur van die Suid-Afrikaanse Musiekregteorganisasie (Samro) en Dramatiese, Artistieke en Letterkundige Regteorganisasie (Dalro, gestig in 1968 of '69).[2][3] So het hy die grondslag vir die beskerming van outeursregte in Suid-Afrika gelê.[4]
Gideon Roos | |
Dr. Gideon Roos, omstreeks 1960. | |
Geboortenaam | Gideon Daniel Roos |
---|---|
Geboorte | 28 Oktober 1909 Worcester |
Sterfte | 9 Maart 1999 Johannesburg |
Nasionaliteit | Suid-Afrika |
Lewensmaat | Esther Mentz |
Kinders | 2 seuns, 1 dogter |
Skool | Paul Roos Gimnasium |
Alma mater | Stellenbosch Oxford Leiden |
Beroep(e) | Direkteur-generaal van die SAUK, hoofbestuurder van Samro en Dalro |
Rolprente | Donker Spore Pinkie se Erfenis Boemerang 11:15 |
Internet-rolprentdatabasis-profiel |
In die Afrikaanse kunsteater veral het Gideon Roos hom onderskei, in die begin van die dertigerjare in Kaapstad en in die veertigerjare in Johannesburg, as toneelspeler en vertaler. Hy en sy eggenote, Esther Mentz, het ook opgetree in die eerste Afrikaanse klankrolprente wat in die veertigerjare gemaak is.[5] Roos word saam met mense soos proff. C.M. van den Heever en T.J. Haarhoff uitgesonder as Afrikaners wat weens die politieke verskille onder lede van dié groep nie op kulturele terrein ten volle aanvaar is nie,[6] al was hy "toneelmens en radioman by uitnemendheid".[7]