dubbelster in die sterrebeeld Lier From Wikipedia, the free encyclopedia
Beta Lyrae (afgekort as β Lyr) is ’n veelvoudige ster in die sterrebeeld Lier (Lyra). Volgens parallaksmetings is dit sowat 960 ligjare van die Son af.
Beta Lyrae
| ||||
Die ligging van Beta Lyrae (in die rooi sirkel). | ||||
Sterrebeeld | Lier | |||
Spektraaltipe | B7 Ve[1] + B[2] + ? + B7 V + ? + B2 + K3 V + G5 + G5 | |||
Soort | Veelvoudige ster | |||
Waarnemingsdata (Epog J2000) | ||||
Regte klimming | 18h 50m 04.79525s[3] | |||
Deklinasie | +33° 21′ 45.6100″[3] | |||
Skynmagnitude (m) | 3,52[2] (3,25-4,36[4]) | |||
B-V-kleurindeks | +0,00[5] | |||
U-B-kleurindeks | -0,56[5] | |||
Besonderhede | ||||
Komponent 1 | β Lyr Aa1 | |||
Massa (M☉) | 13,16 ± 0,3 | |||
Radius (R☉) | 6 ± 0,2 | |||
Ligsterkte (L☉) | 26 300 | |||
Temperatuur (K) | 30 000 ± 2 000 | |||
Komponent 2 | β Lyr Aa2 | |||
Massa (M☉) | 2,97 ± 0,2 | |||
Radius (R☉) | 15,2 ± 0,2 | |||
Ligsterkte (L☉) | 6 500 | |||
Temperatuur (K) | 13 300 | |||
Eienskappe | ||||
Ouderdom (jaar) | 23 miljoen | |||
Veranderlikheid | β Lyr[4] | |||
Ander name | ||||
Sheliak, WDS 18501+3322[6] β Lyrae A: 10 Lyrae, AAVSO 1846+33, BD+33 3223, FK5 705, HD 174638, HIP 92420, HR 7106, SAO 67451/2 β Lyrae B: HD 174664, BD+33 3224, SAO 67453 | ||||
|
Die stelsel bestaan uit drie komponente: ’n driedubbele sterstelsel (Beta Lyrae A) en twee enkelstermetgeselle (Beta Lyrae B en C). Hulle is ook die A-, B- en C-komponente van ’n groter stelsel, wat WDS J18501+3322 genoem word. Dié het bykomende komponente bekend as WDS J18501+3322D, E en F.[6][7][8][9][10][11] Beta Lyrae A self bestaan uit ’n verduisterende dubbelster (Beta Lyrae Aa) en ’n enkelster (Ab). Die dubbelster se komponente word Beta Lyrae Aa1 (amptelik bekend as Sheliak, die stelsel se tradisionele naam)[12] en Aa2 genoem.
Die stelsel se Bayer-naam is "Beta Lyrae" en sy Flamsteed-naam "10 Lyrae". Die tradisionele naam, "Sheliak", kom van die Arabiese الشلياق šiliyāq of Al Shilyāk, een van die name van die sterrebeeld Lier in Islamitiese sterrekunde.[13]
In 2016 het die Internasionale Astronomiese Unie se sternaamwerkgroep (WGSN) die naam "Sheliak" vir die ster Beta Lyrae Aa1 goedgekeur[14] omdat hulle eiename aan individuele sterre toegeken het eerder as aan stergroepe.
Beta Lyrae Aa bestaan uit ’n primêre ster van klas B7 II en ’n sekondêre metgesel wat ook waarskynlik van klas B is. Die primêre, dowwer ster was aanvanklik die ster met die grootste massa en dit het eerste uit die hoofreeks beweeg en ’n reusester geword. Dit het toe sy Roche-lob oorskry en baie van sy massa aan sy metgesel begin afstaan. Die sekondêre ster, wat nou ’n groter massa het, word omring deur ’n akkresieskyf vanweë dié materieoordrag.[2] Die skyf blokkeer die sekondêre ster van die Aarde af gesien en verlaag so sy skynbare magnitude, en daarom is dit moeilik om die spektraaltipe daarvan te bepaal. Die hoeveelheid massa wat tussen die twee sterre oorgedra word, is sowat 2 × 10-5 sonmassas per jaar, gelykstaande aan die Son se massa elke 50 000 jaar. Dit veroorsaak ’n toename in die wentelperiode van sowat 19 sekondes per jaar.[2] Die spektrum van Beta Lyrae toon emissielyne wat deur die akkresieskyf geskep word. Die skyf sorg vir sowat 20% van die helderheid van die stelsel.[2]
Die wentelvlak van die dubbelster is naby die gesigslyn van die Aarde af, en daarom verduister die twee sterre mekaar periodiek. Beta Lyrae se skynbare magnitude verander dus van 3,2 tot 4,4 oor ’n periode van 12,941 4 dae. Die sterre is so naby mekaar dat hulle nie deur optiese teleskope onderskei kan word nie en daarom vorm hulle ’n spektroskopiese dubbelster. In 2008 is die primêre ster en die akkresieskyf van die sekondêre ster vir die eerste keer apart waargeneem in die naby-infrarooi-H-band.[2]
Benewens die gereelde verduisterings toon die stelsel al hoe kleiner en stadiger wisselings in helderheid. Dit word vermoedelik veroorsaak deur veranderings in die akkresieskyf en gaan gepaard met wisselings in spektraallyne, veral emissielyne. Die wisselings is nie gereeld nie, maar vind plaas met ’n periode van 282 dae.[15]
Benewens die spektroskopiese dubbelster is verskeie ander metgeselle van Beta Lyrae aangeteken. Beta Lyrae B, op ’n hoekafstand van 45,7 boogsekondes, is van spektraalklas B7 V en het ’n skynbare magnitude van 7,2. Sy ligsterkte is sowat 80 keer dié van die Son en dit is ook ’n spektroskopiese dubbelster, met ’n periode van 4,348 dae.[16] Beta Lyrae C het ’n skynbare magnitude van 9,9 en ’n skeiding van 86 boogsekondes. Die Washington Double Star Catalog noem nog drie dowwe metgeselle met ’n skeiding van 2 boogminute.[17]
Komponente B en F is vermoedelik lede van ’n groep sterre om Beta Lyrae wat op dieselfde afstand is en saam beweeg. Die ander is toevallig in dieselfde gesigslyn.[18] Komponente E en F is albei chemies uitsonderlike sterre;[19] albei word in katalogusse as Ap-sterre aangedui, maar komponent F is vermoedelik ’n Am-ster.[18] Komponent C se helderheid wissel volgens waarnemings met meer as ’n magnitude, maar die soort veranderlikheid is nie bekend nie.
Die Gaia-ruimtetuig het die volgende data vir verskeie metgeselle verskaf:
Komponent[20] | Spektraalklas | Magnitude (G) | Eiebeweging | Radiale snelheid (km/s) | Parallaks (mas) | Simbad | |
---|---|---|---|---|---|---|---|
RK (mas/jr.) | δ (mas/jr.) | ||||||
A[21] | B7 Ve | 3,25-4,36 | 1,569 ± 0,582 | -2,523 ± 0,594 | 2,20 ± 0,7 | 1,0851 ± 0,3398 | [6] |
B[21] | B7 V | 7,19 | 4,373 ± 0,087 | -0,982 ± 0,098 | -14 ± 5 | 3,0065 ± 0,0542 | [7] |
C[21] | B2 | 13,07 | -1,936 ± 0,024 | -1,824 ± 0,030 | ? | 0,2384 ± 0,0151 | [8] |
D[21] | K3 V | 14,96 | -0,108 ± 0,062 | -17,792 ± 0,074 | ? | 0,8378 ± 0,0368 | [9] |
E[21] | G5 | 9,77 | 1,649 ± 0,051 | 0,719 ± 0,053 | 1,4 | 1,6209 ± 0,0339 | [10] |
F[21] | G5 | 10,10 | 1,258 ± 0,047 | -3,793 ± 0,052 | -16,83 ± 1,41 | 3,5222 ± 0,0307 | [11] |
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.