Olive Schreiner OIG (* 24 Maart 1855, † 11 Desember 1920) was 'n Suid-Afrikaanse skrywer, pasifis, feminis en intellektuele. Sy is by die Wittebergen-sendingstasie naby Herschel, in Kaapland gebore.

Thumb

Olive Schreiner

Suid-Afrikaanse skrywer,
pasifis en feminis


Literêre genres
Romans


Beduidende werke

The Story of an African Farm (1883)
Woman and Labour (1911)

Sy was die eerste skryfster uit Suid-Afrika wie se werk in die hele Engelssprekende wêreld gunstige kritiek ontvang het. Sy was die dogter van 'n sendeling van die Londense Sendinggenootskap, Gottlob Schreiner, en sy het haar onderrig van haar moeder ontvang. Van 1874 tot 1881 was sy goewernante op verskeie plase in die Karoo.

Sy het veral bekendheid verwerf met haar half-outobiografiese roman The Story of an African Farm (1883) – die eerste literêre werk uit Suid-Afrika wat internasionale sukses behaal het en waarin sy nie net die lewe in 'n koloniale grensgebied beskryf nie, maar ook op 'n moedige wyse omgaan met etlike brandende vraagstukke van haar era, naamlik agnostisisme, eksistensiële onafhanklikheid, indiwidualisme en die beroepsaspirasies van vroue.

In hierdie tyd het sy ook Undine geskryf. Sy het self na Engeland gegaan om 'n uitgewer te soek en in 1883 het The story of an African farm onder die skrywersnaam Ralph Iron verskyn. Die boek het onmiddellik in letterkundige kringe teenstrydige reaksies uitgelok, maar oor die algemeen is dit in Brittanje en die VSA hoog aangeprys. Schreiner het in Engeland agtergebly en met haar mediese studie begin.

Sy het ook ʼn vriendskap gesluit met H. Havelock Ellis, wat tot wedersydse beïnvloeding gelei het. Om gesondheidsredes het sy na 6 jaar, in 1889, na Suid-Afrika teruggekeer met die verwagting dat die klimaat haar asma-aanvalle sou verlig. Sy het Cecil John Rhodes ontmoet en hulle was aanvanklik goeie vriende, hoewel haar politieke siening van syne verskil het.

Sy was veral ʼn kampvegter vir die regte van Swartmense, en na die Jameson-inval het sy ook 'n openlike kampvegter vir die twee Boererepublieke geword. Sy is in 1894 met Samuel Cronwright getroud, en hulle het in 1896 saam 'n politieke pamflet, The political situation, uitgegee. Haar allegoriese roman Trooper Peter Halket of Mashonaland, wat in 1897 verskyn het, kan beskou word as 'n bedekte aanval op haar eertydse vriend Rhodes.

Nog 'n politieke pamflet, An English South African's view of the situation, het in 1899 net voor die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in Engeland verskyn. Hierin het Schreiner die Boere se kant van die oorlog gestel. Later het Olive Schreiner 'n sterk kampvegter vir vroueregte geword, en haar werk oor die onderwerp, Woman and labour, is in 1911 gepubliseer.

Ander werke wat uit haar pen verskyn het, is Man and woman, A letter on the Jew (1906) en Closer Union (1908). Van 1913 tot 1920 het sy hoofsaaklik deur Europa gereis, maar in 1920 het sy na Suid-Afrika teruggekeer. Sy is in dieselfde jaar oorlede. Na haar dood het daar benewens 'n groot aantal artikels en briewe onder meer haar heel eerste roman, Undine, verskyn. 'n Ander belangrike werk, Thoughts on South Africa (1923), wat as haar belangrikste politieke werk beskou word, Stories, dreams and allegories (1923) en From man to man (1926) het ook na haar dood verskyn.

Onlangse ondersoeke verwys na haar rol as kampvegter vir etniese en sosiale groepe wat deur die kragte van Britse imperialisme gemarginaliseer is, soos Afrikaners en later ook swartes, Jode en Indiërs – om maar enkele voorbeelde te noem. Alhoewel sy ook belang gestel het in onder meer sosialisme, pasifisme, vegetarianisme en feminisme, is dit moeilik om haar ware oortuigings suiwer te kategoriseer.

In haar gepubliseerde werke en ander dokumente, wat bewaar gebly het, pleit Schreiner vir waardes soos matigheid, vriendskap, begrip en verdraagsaamheid tussen alle volke, maar vermy bewustelik enige ideologiese of politieke radikalisering.

Alhoewel sy ten opsigte van haar Victoriaanse agtergrond as lewenslange vrydenker beskryf kan word, in teenstelling met die Christelike hoofstrominge van haar tyd, het sy steeds in die gees van die Christelike Bybel geleef en 'n sekulêre weergawe van wêreldbeskouings ontwikkel wat haar ouers as sendelinge aangehang het – met enkele mistieke elemente.

Sy is in Februarie 1894 op Middelburg, Kaap getroud met die boer en latere politikus Samuel Cronwright, wat tot vier jaar ná haar dood as Samuel Cronwright-Schreiner bekend gestaan het.

Haar broer was William Philip Schreiner, eertydse eerste minister van die Kaapkolonie.

Luisterboek

"In a far off world"
  • Story of an African Farm[1]

Keur uit haar werk

  • The Story of an African Farm, 1883 (as "Ralph Iron")
  • Dreams, 1890
  • Dream Life and Real Life, 1893
  • The Political Situation in Cape Colony, 1895 (met S. C. Cronwright-Schreiner)
  • Three Dreams in a Desert. Under a Mimosa-Tree, 1897
  • Trooper Peter Halket of Mashonaland, 1897
  • The South African Question. By an English South African, 1899
  • An English South African Woman's View of the Situation, kritiek op die destydse senutergende situasie in Transvaal vanuit die Boere se oogpunt, 1899
  • So Here Then are Dreams, 1901
  • A Letter on the Jew, 1906
  • Closer Union: a Letter on South African Union and the Principles of Government, 1909
  • Woman and Labour, 1911
  • Woman and War, 1914
  • Who Knocks at the Door?, 1918
  • The Dawn of Civilisation, 1921
  • Thoughts on South Africa, 1923. Postuum
  • Stories, Dreams and Allegories, 1923. Postuum
  • From Man to Man or Perhaps Only, 1926. Postuum
  • Undine, 1929. Postuum

Sien ook

Bronnelys

  • Wêreldspektrum, 1982, ISBN 0908409664, volume 25, bl. 23, 24
  • Horton, Susan R. Difficult Women, Artful Lives: Olive Schreiner and Isak Dinesen, In and Out of Africa, Drukpers van Johns Hopkins-universiteit, 1995.
  • Schoeman, Karel. Olive Schreiner - 'n lewe in Suid-Afrika, 1855-1881, Kaapstad: Human & Rousseau, 1989.
  • Ruth First & Ann Scott. Olive Schreiner, Londen: Andre Deutsch, 1980.
  • Hobman, D. L. Olive Schreiner: Her Friends and Times, Londen: Watts & Co., 1955.
  • Buchanan-Gould, Vera. Not Without Honour: The Life and Writings of Olive Schreiner, Londen: Hutchinson, 1948.

Verwysings

Eksterne skakels

Wikiwand in your browser!

Seamless Wikipedia browsing. On steroids.

Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.

Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.