Ragnarök
From Wikipedia, the free encyclopedia
In die Noorse mitologie is Ragnarök ("Lotsbestemming van die gode") 'n reeks voorvalle, insluitende 'n groot geveg tussen die gode en reuse, waarin die dood van 'n aantal groot figure voorspel word (soos Odin en ander belangrike gode), asook die ondergang van die wêreld. Ná dié gebeure sal die wêreld weer as nuut en vrugbaar herrys, en die oorlewende en terugkerende gode sal ontmoet. Die wêreld sal opnuut deur twee menslike oorlewendes, Líf en Lífþrasir, bevolk word. Ragnarök is 'n belangrike voorval in die Noorse mitologie en die onderwerp van lewendige besprekings onder geleerdes in Germaanse studies.
Die voorval word hoofsaaklik genoem in die Poëtiese Edda, wat in die 13de eeu saamgestel is uit vroeëre tradisionele bronne, en die Prosaïese Edda, wat in die 13de eeu geskryf is. Daar word 'n paar keer na die voorval verwys as Ragnarøkkr ("Skemering van die gode"), 'n vertaling wat gewild gemaak is deur die 19de-eeuse komponis Richard Wagner met die titel van die laaste van sy Der Ring des Nibelungen-operas, Götterdämmerung (1876), wat "Skemering van die gode" in Duits is.