Rugby Australia
From Wikipedia, the free encyclopedia
Remove ads
Rugby Australia (Rugby AU), tot 2017 bekend as die Australiese Rugbyunie (Engels: Australia Rugby Union, afgekort “ARU”), is die bestuursliggaam wat rugby en sewesrugby in Australië beheer. Die beheerliggaam is in 1949 gestig en in Sydney gesetel. Sedertdien verteenwoordig dit Australië by Wêreldrugby en sedert 2000 ook by Oseanië Rugby (“OR”).
Remove ads
Geskiedenis
In 1874 is die Suidelike Rugbyunie gestig wat vanuit Twickenham in Engeland beheer is. In 1881 is die administrasie aan Nieu-Suid-Wallis oorhandig en in 1892 het die Suidelike Rugbyunie van Nieu-Suid-Wallis en die Noordelike Rugbyunie van Queensland (gestig in 1883) die Nieu-Suid-Wallis Rugbyunie en die Queensland Rugbyunie geword.
Omdat Nieu-Suid-Wallis die ouer unie was, was hy ook verantwoordelik vir die administrasie van al die toere en vir die verteenwoordiging van Australië op die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby). In 1947 het die staatsunies ooreengekom dat dit beter vir die toekoms van rugby in Australië sou wees om deur een administratiewe liggaam beheer te word. In 1948 het die IRVR ’n uitnodiging aan Australië gerig (eerder as aan ’n verteenwoordiger van Nieu-Suid-Wallis) om ’n setel op die raad in te neem.
Die eerste vergadering is gehou op 25 November 1949 met elf afgevaardigdes van Nieu-Suid-Wallis, Queensland, Suid-Australië, Wes-Australië, Tasmanië en Victoria, waartydens die Australiese beheerliggaam onder die naam Australiese Rugbyvoetbalunie gestig is.[1] In dieselfde jaar het die Australiese beheerliggaam saam met sy Nieu-Seelandse en Suid-Afrikaanse eweknieë volle lede geword van die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) wat voorheen slegs uit verteenwoordigers uit Engeland, Ierland, Skotland en Wallis bestaan het.[2][3][4] Daarbenewens was die Australiese beheerliggaam in 2000 ’n stigtingslid van die Vereniging van Oseaniese Rugbyunies (Federation of Oceania Rugby Unions, FORU; nou Oseanië Rugby).[5] Rugby Australia bestaan uit agt plaaslike beheerliggame, wat elkeen ’n deelstaat of gebied verteenwoordig.[6] In 1972 het die Australiese Hoofstadgebied ’n lid geword en in 1978 het Noord-Australië ’n buitengewone lid geword. In 2004 het die AHG-unie sy naam verander na die AHG en Suidelike NSW Rugbyunie nadat twee streeksunies in suidelike Nieu-Suid-Wallis ’n verbintenis met die AHG aangegaan het.
In 1985 is die Australiese Rugbyvoetbalunie as ’n maatskappy geïnkorporeer en in 1997 het die naam verander na Die Australiese Rugbyunie Bpk. Die naam het in 2017 weer verander na Rugby Australia Ltd. (Rugby Australië Bpk.)
Remove ads
Taak

Rugby Australia organiseer verskeie nasionale spanne, insluitend Australië se nasionale seniormansrugbyspan (die Wallabies), vroue (die Wallaroos) en jeug. Naas die amptelike nasionale span roep Rugby Australia ook ander keurspanne byeen. Daarbenewens bestuur die beheerliggaam kinder- en jeugrugby in Australië. Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting. Australië beskik oor ’n nasionale span vir studente, die Australian Schoolboys, wat as ’n voorbereiding op die Australiese nasionale rugbyspan dien. Die Junior Wallabies is die o/20-nasionale span en hulle neem aan die o/20-Rugbykampioenskap en die Wêreldrugby o/20-kampioenskap deel.[7][8] Hulle bestuur saam met die Argentynse Rugbyunie, Nieu-Seeland Rugby en die Suid-Afrikaanse Rugbyunie as ’n gesamentlike onderneming SANZAAR, die beheerliggaam van beide Superrugby en Die Rugbykampioenskap, die vernaamste rugbytoernooie in die Suidelike Halfrond. Rugby AU hou ook toesig oor sewesrugby in Australië en aangesien dit ’n Olimpiese sportsoort is, werk hulle met die Australiese Nasionale Olimpiese Komitee saam.
Die beheerliggaam reël ook die plaaslike kompetisies. Die belangrikste rugbyliga in Australië is Superrugby wat saam met spanne uit Nieu-Seeland en een elk uit beide Fidji en die Stille Oseaan-eilande (feitlik die Cookeilande, Fidji, Samoa en Tonga) beslis word.[9] Die belangrikste vrouerugbyliga is Superrugbyvroue, waaraan vyf Australiese spanne en een uit Fidji deelneem.[10]
Rugby Australia organiseer ook gereeld internasionale toernooie. Die Australiese en Nieu-Seelandse rugbyunies was toonaangewend by die invoering van die rugbywêreldbekertoernooi, waarvolgens beide Australië en Nieu-Seeland die eerste Rugbywêreldbeker 1987 aangebied het.[11] Daarbenewens is die Rugbywêreldbeker 2003 in Australië (alleenlik) beslis. Hulle sal ook beide die Rugbywêreldbeker 2027 en Vrouerugbywêreldbeker 2029 aanbied.[12] Daarbenewens word die Australië Sewes jaarliks in Australië beslis.
Remove ads
Bestuur

Die bestuurstrukture van die ARU is in Desember 2012 hersien na ’n oorsig van die voormalige federale senator en Minister van Sport, Mark Arbib.[13]
Lidmaatskap
Die lede van die ARU (aandeelhouers) sluit die unies in wat Australië se deelstate en gebiede verteenwoordig, tesame met die Superrugbykonsessies in dié land, en die Rugbyuniespelersvereniging (RUPA).[14] Lede oefen hul stemreg uit op die ARU se jaarlikse algemene vergadering. Volgens die grondwet wat in 2012 aanvaar is, het elk van die agt bestaande lidunies en RUPA ’n afgevaardigde met een toegewese stem. Daarnaas het elke Superrugbykonsessie ’n afgevaardigde met een stem. Soos dit tans staan word slegs die Rebels en die Waratahs onafhanklik geadministreer, wat beteken dat die stemme van die ander drie spanne effektief deur die onderskeie lidunies wat die spanne besit, bepaal. Laastens kry lidunies met meer as 50 000 geregistreerde spelers ’n bykomende stem. Slegs Nieu-Suid-Wallis en Queensland voldoen aan hierdie vereiste. Dit bring die totale aantal stemme op sestien.[14] Die ARU het ook ’n aantal geaffilieerde groepe wat nie stemreg het nie.[14]
Remove ads
Heldesaal
Rugby Australia het ’n heldesaal. Elke jaar word twee of meer noemenswaardige Australiese rugbyspelers van alle eras van die internasionale spel in die Wallaby-heldesaal ingelyf. Ingelyfdes kom uit al die toetsspanne sedert die Wallabies vir die eerste keer in 1899 gespeel het. Oorweging word geskenk aan spelers se rugbyloopbaan maar inlywing rus nie alleen op statistiese prestasies nie.
Om in aanmerking te kom vir insluiting in die Wallaby-heldesaal moes ’n speler:
- Ten minste een toets vir Australië gespeel het
- Vir ten minste tien jaar reeds uitgetree wees
- ’n Groot bydrae tot die sport gemaak het
- Uitstaande vaardighede, sportmangees, toewyding, karakter en persoonlike bydrae tot hul span en die spel in hul era getoon het.
Lede van die Heldesaal
- Trevor Allan
- Jock Blackwood
- Eddie Bonis
- Wylie Breckenridge
- David Brockhoff
- Cyril Burke
- David Campese
- Ken Catchpole
- Bill Cerutti
- Des Connor
- Greg Cornelsen
- Greg Davis
- Edward “Weary” Dunlop
- John Eales
- Charlie Eastes
- Mark Ella
- Nick Farr-Jones
- Jack Ford
- Tim Gavin
- George Gregan
- John Hipwell
- Tim Horan
- Peter Johnson
- Phil Kearns
- Stephen Larkham
- Tom Lawton, Snr
- Mark Loane
- Michael Lynagh
- Paul McLean
- Wally Meagher
- Tony Miller
- Herbert Moran
- Simon Poidevin
- Tom Richards
- Alex Ross
- Geoff Shaw
- Tony Shaw
- Nicholas Shehadie
- Andrew Slack
- John Solomon
- John Thornett
- Johnnie Wallace
- Jon White
- Colin Windon
Remove ads
Sien ook
Verwysings
Eksterne skakels
Wikiwand - on
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Remove ads