Galileo Galilei
Italiaanse fisikus, wiskundige, sterrekundige en filosoof From Wikipedia, the free encyclopedia
Remove ads
Galileo di Vincenzo Bonaiuti de' Galilei (15 Februarie 1564 - 8 Januarie 1642), algemeen bekend as Galileo Galilei of slegs Galileo, was 'n Italiaanse sterrekundige, fisikus en ingenieur, en word soms beskryf as 'n alweter. Hy is gebore in die stad Pisa, toe deel van die Hertogdom Florence.[1] Galileo is al genoem die vader van waarnemingsterrekunde,[2] moderne klassieke fisika,[3] die wetenskaplike metode[4] en moderne wetenskap.[5]

Galileo het spoed en snelheid, swaartekrag en vrye val bestudeer, asook die beginsel van relatiwiteit, inersie en voortdrywende beweging. Hy was een van die vroegste Renaissance-ontwikkelaars van die termoskoop[6] en die uitvinder van verskeie militêre kompasse. Met 'n verbeterde teleskoop wat hy gebou het, het hy die sterre van die Melkweg waargeneem, asook die fases van Venus, die vier grootste mane van Jupiter, Saturnus se ringe, maankraters en sonvlekke. Hy het ook 'n vroeë mikroskoop gebou.
Galileo se ondersteuning van Copernikus se heliosentrisme (die teorie dat die Son in die middel van die Sonnestelsel is en nie die Aarde, soos destyds geglo is, nie) het teenstand van die Katolieke Kerk en sommige sterrekundiges ontlok. Die saak is in 1615 deur die Romeinse Inkwisisie ondersoek en hulle het tot die gevolgtrekking gekom sy opinies weerspreek aanvaarde Bybelse vertolkings.[7][8][9]
Galileo het later sy sienings verdedig in Dialoog oor die Twee Belangrikste Wêreldstelsels (1632), wat dit laat lyk het of hy pous Urbanus VIII aanval en bespot, en dit het die pous en die Jesuïete, wat Galileo almal voorheen ondersteun het, vervreem.[7] Hy is deur die Inkwisisie verhoor en hulle het hom "sterk verdink van kettery". Hy is gedwing om sy dwaling te erken. Hy het die res van sy lewe onder huisarres deurgebring.
Remove ads
Vroeë lewe en familie
Galileo is op 15 Februarie 1564 in Pisa (toe deel van die Hertogdom Florence) gebore.[10] Hy was die oudste van die ses kinders van Vincenzo Galilei, 'n leidende luitspeler, komponis en musiekteoretikus; en Giulia Ammannati, die dogter van 'n vooraanstaande handelaar. Galileo het later self 'n ervare luitspeler geword en het vroeg van sy pa geleer om skepties te wees oor gevestigde gesag.[11]
Drie van Galileo se vyf sibbes het hulle babadae oorleef. Die jongste een, Michelagnolo, het ook 'n luitspeler en komponis geword en het vir die res van Galileo se lewe tot sy finansiële laste bygedra.[12] Michelangelo het soms geld by Galileo geleen vir sy musiekondernemings. Dié finansiële laste kon bygedra het tot Galileo se vroeë begeerte om uitvindings te ontwikkel wat hom 'n bykomende inkomste kon gee.[13]
Toe Galileo Galilei agt jaar oud was, het sy gesin na Florence verhuis, maar hy is vir twee jaar in die sorg van Muzio Tedaldi gelaat. Toe hy 10 jaar oud was, het hy by sy gesin in Florence aangesluit, waar Jacopo Borghini sy onderwyser geword het.[10]
Naam
Galileo het geneig om net onder sy eerste naam na homself te verwys. In dié tyd was vanne opsioneel in Italië, en sy eerste naam het dieselfde oorsprong gehad as sy van, Galilei. Beide sy naam en van is dalk afgelei van 'n voorouer, Galileo Bonaiuti, 'n belangrike dokter, professor en politikus in die 15de eeu in Florence.[14]
Dit was egter ook algemeen vir 16de-eeuse Toskaanse families om die oudste seun na die ouers se van te noem.[15] Die Italiaanse naam Galileo en van Galilei verwys albei na die Latynse "Galilaeus", wat beteken "van Galilea".[16][14]

Kinders
Al was hy 'n ware vroom Katoliek,[17] het Galileo drie buite-egtelike kinders by Marina Gamba gehad. Hulle het twee dogters, Virginia (gebore 1600) en Livia (gebore 1601), en 'n seun, Vincenzo (gebore 1606), gehad.[18] Albei dogters is vir die res van hulle lewe na die Klooster van San Matteo in Arcetri.[19]
Virginia het die naam Maria Celeste aangeneem toe sy na die klooster is. Sy is op 2 April 1634 oorlede en is saam met Galileo in Florence begrawe. Livia het bekend geword as suster Arcangela en was vir die grootste deel van haar lewe siek. Vincenzo is later gelegitimiseer as die wettige erfgenaam van Galileo en het met Sestilia Bocchineri getrou.[20]
Remove ads
Loopbaan en wetenskaplike bydraes
Hoewel Galileo dit ernstig oorweeg het om 'n priester te word, het hy in 1580 op aanbeveling van sy pa by die Universiteit van Pisa ingeskryf vir 'n mediese graad.[21] In 1581, terwyl hy medies studeer het, het hy 'n swaaiende kandelaar gesien wat deur lugstrome in kleiner en groter sirkels laat swaai is. Dit het vir hom gelyk of die kandelaar, in vergelyking met sy hartklop, dieselfde tyd geneem het om heen en weer te swaai, ongeag die grootte van die sirkels. Tuis het hy twee pendulums van dieselfde lengte laat swaai, een met 'n klein en die ander met 'n groot boog. Hy het gevind hulle hou saam tyd. Dit was eers met die werk van Christiaan Huygens, feitlik 100 jaar later, dat die toutochroon-aard (die kurwe waarop ’n bewegende voorwerp deur gravitasie vanaf enige beginpunt ’n vaste punt op dieselfde tydstip sal bereik)[22] van 'n swaaiende pendulum gebruik is om 'n akkurate uurwerk te skep.[23]
Tot in dié stadium het Galileo met opset weggebly van wiskunde, omdat 'n dokter meer as 'n wiskundige verdien het. Nadat hy per ongeluk 'n lesing oor geometrie bygewoon het, het hy egter sy pa oorreed om hom wiskunde en natuurfilosofie te laat studeer in plaas van medies.[23] Hy het 'n termoskoop, 'n voorloper van 'n termometer, geskep en in 1586 'n klein boek gepubliseer oor die ontwerp van 'n hidrostatiese weegskaal wat hy uitgevind het. Dit het hom die eerste keer onder die aandag van geleerdes gebring. Galileo het ook disegno studeer, 'n term wat beeldende kunste omvat, en is in 1588 aangestel as 'n instrukteur in die Accademia delle Arti del Disegno in Florence. In dieselfde jaar het hy op uitnodiging van die Florentynse Akademie twee lesings aangebied met die titel Oor die Vorm, Ligging en Grootte van Dante se Inferno, in 'n poging om 'n streng kosmologiese model voor te stel van Dante se hel.[24]
In 1589 is Galileo aangestel in die leerstoel van wiskunde in Pisa. In 1591 is sy pa oorlede en sy jongste broer, Michelagnolo, is in sy sorg gelaat. In 1592 is hy na die Universiteit van Padua, waar hy tot in 1610 geometrie, meganika en sterrekunde doseer het.[25] In dié tyd het Galileo belangrike ontdekkings gedoen in beide basiese wetenskap (byvoorbeeld kinematika van beweging en sterrekunde) en toegepaste wetenskap (byvoorbeeld die sterkte van materiale en die voorloper van die teleskoop). Sy talle belangstellings het astrologie ingesluit, wat in dié tyd 'n dissipline was wat verbind is met wiskunde, sterrekunde en medisyne.[26][27]

Sterrekunde
Kepler se supernova
Tycho Brahe en ander het die supernova van 1572 waargeneem. Ottavio Brenzoni se brief van 15 Januarie 1605 aan Galileo het die supernova en die dowwer nova van 1601 onder sy aandag gebring. Galileo het Kepler se Supernova in 1604 waargeneem en bespreek. Omdat hierdie "nuwe sterre" geen waarneembare dagparallaks getoon het nie, het Galileo afgelei hulle is verafgeleë sterre en het hy dus die Aristoteliaanse geloof in die onveranderlikheid van die ruimte verkeerd bewys.[28]
Refraktorteleskoop

Miskien net gebaseer op beskrywings van die eerste praktiese teleskoop wat Hans Lippershey in 1608 in Nederland probeer patenteer het,[29] het Galileo in die volgende jaar 'n teleskoop gemaak met 'n vergroting van sowat 3×. Hy het later verbeterde modelle gemaak met 'n vergroting van tot omtrent 30×.[30] Op 25 Augustus 1609 het hy een van sy eerste teleskope, met 'n vergroting van sowat 8× of 9×, aan Venesiese regslui gedemonstreer.
Die teleskope het vir 'n inkomste gesorg, want Galileo het hulle aan handelaars verkoop wat hulle nuttig op see gevind het, asook as handelsitems. Hy het sy aanvanklike teleskopiese sterrekundige waarnemings in Maart 1610 gepubliseer in 'n kort verhandeling met die titel Sidereus Nuncius ("Sterreboodskapper").[31]
Maan

Hoewel hy nie die eerste mens was wat deur 'n teleskoop na die Maan gekyk het nie (die Engelse wiskundige Thomas Harriot het dit vier maande vroeër gedoen, maar net 'n "vreemde vlekkerigheid" gesien),[33] was Galileo die eerste een wat afgelei het die oneweredige lig op die Maan word deur berge en kraters veroorsaak. Hy het ook topografiese kaarte geteken en die hoogte van die berge geraam.
Die Maan was nie 'n deurskynenede en perfekte sfeer, soos Aristoteles beweer het en lank geglo is, nie en ook nie die eerste "planeet", soos Dante geglo het, nie. Die skilder Cigoli, 'n vriend van Galileo, het 'n realistiese uitbeelding van die Maan op een van sy skilderye weergegee; hy het waarskynlik sy eie teleskoop gebruik om die waarneming te maak.[34]
Jupiter se mane
Op 7 Januarie 1610 het Galileo met sy teleskoop waargeneem wat hy toe beskryf het as "drie vaste sterre, heeltemal onsigbaar [nota 1] omdat hulle so klein is". Hulle het almal naby Jupiter gelê, in 'n reguit lyn.[35] Waarnemings op daaropvolgende nagte het getoon die posisie van die "sterre" verander met betrekking tot Jupiter, op 'n manier wat onmoontlik sou gewees het as hulle werklik vaste sterre was. Op 10 Januarie het Galileo opgemerk dat een van hulle verdwyn het, en hy het afgelei dit lê nou agter Jupiter.
Binne 'n paar dae het hy tot die gevolgtrekking gekom dat hulle om Jupiter wentel: Hy het drie van Jupiter se grootste vier mane ontdek.[36] Hy het die vierde een op 13 Januarie waargeneem. Latere sterrekundiges het hulle die "Mane van Galilei" genoem ter ere van hulle ontdekker.
Dié natuurlike satelliete is op 8 Januarie 1610 onafhanklik deur die Duitse sterrekundige Simon Marius ontdek. Hulle word nou genoem Io, Europa, Ganumedes en Kallisto. Dit is die name wat Marius aan hulle gegee het in sy Mundus Iovialis, wat in 1614 gepubliseer is.[37]

Galileo se waarneming van Jupiter se satelliete het 'n opskudding in sterrekunde veroorsaak: 'n Planeet met kleiner planete wat daarom wentel, het nie ingepas by die beginsels van Aristoteliaanse kosmologie nie. Daarvolgens behoort alle hemelliggame om die Aarde te wentel.[38][39] Baie sterrekundiges en filosowe het aanvanklik geweier om te glo Galileo kon so iets ontdek het.[40][41]
Daarbenewens het ander sterrekundiges gesukkel om Galileo se waarnemings te bevestig. Toe hy sy teleskoop in Bologna demonstreer, het die teenwoordiges gesukkel om die mane te sien. Een van hulle het opgemerk sommige vaste sterre, soos Spica Virginis, lyk dubbel deur die teleskoop. Hy het aanvaar dit is 'n bewys dat die instrument foutief is en dit het twyfel op die bestaan van die mane gewerp.[42][43] Die sterrewag in Rome het die waarnemings bevestig en, hoewel getwyfel is oor hoe om hulle te vertolk, het Galileo 'n heldeontvangs gekry toe hy die volgende jaar 'n besoek daar aflê.[44] Galileo het aangehou om die mane oor die volgende 18 maande waar te neem en teen middel 1611 het hy merkwaardig akkurate ramings gedoen van hulle wentelperiodes, iets wat Johannes Kepler gedink het onmoontlik is.[45][46]
Galileo het 'n praktiese gebruik vir die ontdekking gesien. Om die oos-wes-posisie van skepe op see te bepaal, het vereis dat hulle klokke gesinchroniseer word met klokke by die nulmeridiaan. Die verduisterings van die mane wat hy ontdek het, was relatief gereeld en hulle tye kon met groot akkuraatheid voorspel word. Om die mane van 'n skip af te sien het te moeilik blyk te wees, maar dié metodes is vir landopnames gebruik, insluitende die herkartering van Frankryk.[47]:15–16[48]
Fases van Venus
Galileo het waargeneem dat Venus fases het, al bly dit naby die Son soos van die Aarde af gesien (eerste beeld). Dit bewys Venus wentel om die Son en nie die Aarde nie, soos voorspel deur Copernicus se heliosentriese model. Dit weerspreek die destyds konvensionele geosentriese model (tweede beeld).
Van September 1610 af het Galileo waargeneem dat Venus fases het, nes dié van die Maan. Die heliosentriese model van die Sonnestelsel wat deur Nicolaas Copernicus ontwikkel is, voorspel al die fases sal sigbaar wees omdat die wentelbaan van Venus om die Son sal veroorsaak dat sy verligte halfrond na die Aarde gedraai sal wees wanneer dit aan die ander kant van die Son is, en dat dit weg van die Aarde gedraai sal wees wanneer dit aan die Aarde se kant van die Son is. In Ptolemeus se geosentriese model sou nie een van die planete deur die Son se sfeer beweeg het nie. Venus se wentelbaan is tradisioneel aan die nabykant van die Son geplaas, waar dit net sekel- en donkerfases sou vertoon. Aan die ander kant van die Son sou dit net bol- en volle fases vertoon. Ná Galileo se teleskopiese waarnemings van die sekel-, bol- en volle fase van Venus, het Ptolemeus se model onverdedigbaar geword.
In die vroeë 17de eeu het die meeste sterrekundiges danksy dié ontdekking een van die verskeie geo-heliosentriese modelle gesteun.[49][50] soos die Tychoniese, Capellaanse en Uitgebreide Capellaanse model,[nota 2] Hulle verduidelik almal die fases van Venus sonder om 'n volle heliosentriese model te steun. Galileo se ontdekking van Venus se fases was dus sy grootste praktiese bydrae tot die oorgang van die volle geosentriese na die volle heliosentriese model.
Saturnus en Neptunus
In 1610 het Galileo ook die planeet Saturnus waargeneem. Hy het aanvanklik die ringe vir planete aangesien,[51] en gedink dit is 'n stelsel met drie liggame. Toe hy later na die planeet kyk, was Saturnus se ringe direk na die Aarde gedraai en hy het gedink twee van die liggame het verdwyn. Die ringe het weer verskyn toe hy die planeet in 1616 waarneem, en dit het hom verder verwar.[52]
Galileo het die planeet Neptunus in 1612 waargeneem. Dit lyk uit sy aantekeningboek asof hy gedink het dit is 'n onmerkwaardige, dowwe ster. Hy het nie besef dit is 'n planeet nie, maar het sy beweging ten opsigte van die sterre aangeteken voordat hy die spoor daarvan verloor het.[53]
Sonvlekke
Galileo het met die blote oog en met die teleskoop na sonvlekke gekyk.[54] Hulle bestaan het nog 'n probleem geskep wat betref die onveranderlike perfeksie van die hemele soos in ortodokse Aristoteliaanse fisika geglo is. 'n Skynbare jaarlikse variasie in hulle bane, soos in 1612-'13 deur Francesco Sizzi en ander waargeneem,[55] was ook 'n sterk teenargument teen die stelsel van Ptolemeus en die geo-heliosentriese stelsel van Brahe.
'n Dispuut oor die beweerde prioriteit in die ontdekking van sonvlekke en in die vertolking daarvan, het gelei tot 'n bitter vete tussen Galileo en die Jesuïet Christoph Scheiner. Albei was onbewus van Johannes Fabricius se vroeëre waarneming van en publikasie oor sonvlekke.[56]
Melkweg en sterre

Galileo het deur sy teleskoop gekyk na die Melkweg, wat voorheen as newelagtige beskou is. Hy het ontdek dit is 'n magdom sterre wat so dig opmekaar lê dat dit van die Aarde af soos wolke lyk. Hy het baie ander sterre ontdek wat nie met die blote oog sigbaar is nie omdat hulle te ver van die Aarde af is. Hy het onder andere die ster Mizar in die Groot Beer in 1617 waargeneem.[57]
In Sidereus Nuncius het Galileo berig sterre lyk soos vlamme lig, waarvan die voorkoms nie deur die teleskoop verander word nie, en hulle vergelyk met planete, wat deur die teleskoop soos skywe lyk. Later het hy egter gesê die vorm van sterre en planete is "taamlik rond". Van toe af het hy telkens gesê die teleskoop wys die rondheid van sterre.[58][59]
Hy het ook 'n manier gevind om die skynbare deursnee van 'n ster te meet. In sy Dialoog oor die Twee Belangrikste Wêreldstelsels het hy berig hy het uitgevind die skynbare deursnee van 'n ster van die eerste magnitude is nie meer as 5 boogsekondes nie, en dié van 'n ster van die sesde magnitude omtrent 5/6 boogsekonde. Nes ander sterrekundiges van destyds het hy nie besef die skynbare grootte van sterre is vals en dat dit deur ligbuiging en atmosferiese verwringing beïnvloed word, en dus nie die ware deursnee van die sterre verteenwoordig nie.
Galileo se waardes was egter baie kleiner as vorige ramings van die helderste sterre, soos dié wat deur Brahe gemaak is, en dit het hom in staat gestel om anti-Copernicus-argumente te weerspreek soos dié wat deur Brahe gemaak is dat dié sterre ontsaglik groot moes gewees het sodat hulle jaarlikse parallakse onwaarneembaar was.[60][61][62] Ander sterrekundiges soos Simon Marius, Giovanni Battista Riccioli en Martinus Hortensius het soortgelyke metings van sterre gedoen, en Marius en Riccioli het tot die gevolgtrekking gekom die kleiner groottes is nie klein genoeg om Brahe se argument op te los nie.[63][64]
Polemiek oor komete
In 1619 het Galileo betrokke geraak in 'n polemiek met vader Orazio Grassi, wiskundeprofessor by die Jesuïetekollege Collegio Romano. Dit het begin as 'n dispuut oor die aard van komete, maar teen die tyd dat Galileo Il Saggiatore ("Die Keurmeester") in 1623 gepubliseer het, wat die laaste salvo in die polemiek was, het dit in 'n veel groter omstredenheid ontaard oor die aard van wetenskap self. Die titelblad van die boek beskryf Galileo as 'n filosoof en "Matematico Primario" van die groothertog van Toskane.[65] Omdat Il Saggiatore so 'n groot aantal idees van Galileo bevat het oor hoe wetenskap beoefen behoort te word, is dit al beskryf as sy wetenskaplike manifesto.[66][67]
Vader Grassi het vroeg in 1619 anoniem 'n pamflet gepubliseer met die titel 'n Sterrekundige Dispuut oor die Drie Komete van die Jaar 1618,[68] waarin die aard van 'n komeet bespreek is. Dit het laat in November die vorige jaar verskyn. Grassi het tot die gevolgtrekking gekom dat 'n komeet 'n vuuragtige liggaam is wat al met 'n segment van 'n groot sirkel langs beweeg teen 'n konstante afstand van die Aarde af,[69][70] en omdat dit stadiger as die Maan in die lug beweeg, moet dit verder weg as die Maan wees.
Grassi se argumente is gekritiseer in 'n artikel met die titel Gesprek oor Komete,[71] wat gepubliseer is onder die naam van een van Galileo se dissipels, 'n Florentynse regsgeleerde met die naam Mario Guiducci, hoewel Galileo diie grootste deel self geskryf het.[72] Galileo en Guiducci het met geen teorie van hulle eie oor die aard van komete vorendag gekom nie,[73][74] hoewel hulle 'n paar tentatiewe veronderstellings gemaak het wat nou bekend is verkeerd was. (Die regte benadering tot die studie van komete is in dié tyd deur Tycho Brahe voorgestel.) In die openingsparagraaf beledig Galileo en Guiducci se Gesprek die Jesuïet Christoph Scheiner,[75][76][77] en verskeie neerhalende opmerkings oor die professore van Collegio Romano word in die werk aangetref.[75] Die Jesuïete was beledig,[75][74] en Grassi het gou geantwoord met 'n polemiese traktaat van sy eie, Die Sterrekundige en Filosofiese Balans.[78] Dit is gepubliseer onder die skuilnaam Lothario Sarsio Sigensano,[79] wat veranderstel was om een van sy eie studente te wees.
Die Leermeester was Galileo se vernietigende antwoord op Sterrekundige Balans.[71] Dit is wyd erken as 'n meesterstuk van polemiese letterkunde,[80][81] en "Sarsi" se argumente is uitmekaargetrek.[82] Dit is met groot lof begroet en het veral in die smaak geval van die nuwe pous, Urbanus VIII, aan wie dit opgedra is.[83] In die vorige dekade in Rome het Barberini, die toekomstige Urbanus VIII, Galileo gesteun.[84]
Galileo se dispuut met Grassi het baie Jesuïete permanent vervreem,[85] en Galileo en sy vriende was oortuig daarvan hulle was verantwoordelik vir sy latere veroordeling,[86] hoewel die bewyse daarvoor onoortuigend is.[87][88]
Omstredenheid oor heliosentrisme

Teen die tyd van Galileo se konflik met die kerk, het die meeste opgevoede mense Aristoteles se geosentriese model aangehang: dat die Aarde die middelpunt van die heelal is en alle hemelliggame daaromheen wentel. Ander was ten gunste van Tycho Brahe se nuwe model wat geosentrisme en heliosentrisme meng.[89][90] Uit kerklike en wetenskaplike kringe is heliosentrisme en Galileo se ondersteuning daarvan gekritiseer. Die kerk se besware teen heliosentrisme het ontstaan vanweë Bybelverse oor die vaste aard van die Aarde.[nota 3]
Wetenskaplike teenstand het gekom van Brahe, wat geredeneer het dat as heliosentrisme waar is, 'n jaarlikse sterreparallaks waargeneem sal moet kan word, maar dit is nog nie destyds nie.[nota 4]
Galileo het heliosentrisme verdedig gabaseer op sy waarnemings van 1609. In 1611, dieselfde jaar as waarin Galileo se teleskopiese waarnemings deur Jesuïte van die Collegio Romano erken is, het 'n kommissie van kardinale begin om Galileo te ondersoek. Hulle het hom gevra of hy betrokke was by die verhoor van die filosoof Cesare Cremonini, wat saam met Galileo by die Universiteit van Padua doseer het en aangekla is van kettery. Dit was die eerste keer dat Galileo se naam deur die Romeinse Inkwisisie genoem is.[91]
In Desember 1613 het groothertogin Christina van Florence een van Galileo se vriende en volgelinge, Benedetto Castelli, gekonfronteer met besware oor die beweging van die Aarde.[92] As gevolg hiervan het Galileo 'n brief aan Castelli geskryf waarin hy geredeneer het dat heliosentrisme nie werklik die Bybel weerspreek nie en dat die Bybel 'n gesag oor moraal en geloof is, nie wetenskap nie. Die brief is nie gepubliseer nie, maar wyd gesirkuleer.[92]

Teen 1615 is Galileo se skryfwerk oor heliosentrisme aan die Inkwisisie voorgelê deur vader Niccolò Lorini, wat beweer het Galileo en sy volgelinge probeer om die Bybel te hervertolk,[nota 3] wat 'n oortreding van die Konsilie van Trente was en gevaarlik baie na Protestantisme gelyk het.[93] Lorini het spesifiek Galileo se brief aan Castelli genoem.[94] Galileo is na Rome om hom en sy idees te verdedig. In begin 1616 het Francesco Ingoli 'n debat met Galileo oor heliosentrisme begin en vir hom 'n essay gestuur waarin die stelsel van Copernicus ontken word.
Galileo het later gesê hy glo die essay was instrumenteel in die aksie teen Copernicanisme wat gevolg het.[95] Die essay het gefokus op 18 fisiese en wetenskaplike argumente teen heliosentrisme. Dit het hoofsaaklik gesteun op Tycho Brahe se argumente, veral dat heliosentrisme sou verg dat die sterre soos hulle lyk veel groter as die Son behoort te wees.
In Februarie 1616 het 'n kommissie van die Inkwisisie verklaar heliosentrisme is dwaasagtig en absurd in filosofie, en amptelik 'n kettery "omdat dit die betekenis van die Heilige Skrif op baie plekke weerspreek". Die Inkwisisie het bevind die idee van die Aarde se beweging is minstens foutief wat geloof betref.[96] Op 26 Februarie is 'n beroep op Galileo gedoen "om geheel en al afstand te doen van die mening dat die Son stilstaan in die middel van die wêreld en die Aarde beweeg, en om dit in die vervolg nie te glo, leer of verdedig nie – nie mondelings of skriftelik nie."[97]
Vir die volgende dekade het Galileo enige omstredenheid vermy. Hy het sy projek hervat om 'n boek oor die onderwerp te skryf, en is aangemoedig deur die verkiesing van kardinaal Maffeo Barberini as pous Urbanus VIII in 1623. Barberini was 'n vriend en bewonderaar van Galileo en het sy teregwysing in 1616 teengestaan. Galileo se daaropvolgende boek, Dialoog oor die Twee Belangrikste Wêreldstelsels, is in 1632 gepubliseer, met die amptelike toestemming van die pous en die Inkwisisie.[98]
Pous Urbanus VIII het Galileo persoonlik gevra om argumente vir en teen heliosentrisme in die boek te gee en versigtig te wees om nie heliosentrisme op te hemel nie. Dis onseker of dit met opset of per ongeluk was, maar Simplicio, die verdediger van die geosentriese standpunt in die boek, is dikwels uitgevang dat hy foute maak en hy klink soms soos 'n dwaas. Verder, hoewel Galileo in die voorwoord sê die karakter is na 'n beroemde Aristoteliaanse filosoof, "Simplicius" in Latyn, "Simplicio" in Italiaans, genoem, het die naam "Simplicio" in Italiaans ook die konnotasie van "dwaas".[99][100]

Baie historici stem saam dat Galileo dit nie met opset gedoen het nie. Volgens Drake het die opdrag om die pous se argument in Dialoog in te sluit, hom met geen ander keuse gelaat as om hom deur Simplicio te laat praat nie.[101] Die pous het egter gemeen dit is met opset gedoen om hom soos 'n dwaas te laat lyk en het dit (en die voorspraak vir heliosentrisme) nie ligtelik opgeneem nie.
Galileo het die pous, een van sy grootste ondersteuners, vervreem en is in September 1632 na Rome ontbied om sy boek te verdedig.[102] Hy het eindelik in Februarie 1633 in Rome aangekom en is voor die Inkwisisie gedaag op aanklag van 'n kriminele oortreding. Selfs nadat hy met marteling gedreig is as hy nie die waarheid praat nie, het Galileo voet by stuk gehou dat hy sy belofte sedert 1616 nagekom het om nie enige veroordeelde menings te handhaaf nie. Hy is egter oorreed om te erken hy, wat sy ware bedoelings ook al was, lesers van Dialoog die indruk kon gegee het dat hy Copernicanisme verdedig.[103][104][105]
Die Inkwisisie het bevind hulle "verdink hom sterk van kettery". Hy is nooit amptelik van kettery aangekla nie,[106] maar dat hy geglo het die Son lê bewegingloos in die middel van die heelal, dat die Aarde nie die middel van die heelal is nie en beweeg, en dat iemand 'n mening kan hê en verdedig wat verklaar is as dat dit die Heilige Skrif weerspreek. Hy is gedwing om dié menings terug te trek, te vervloek en te minag.[107][108][109][110]
Galileo is eers tot tronkstraf gevonnis, maar dit is die volgende dag versag tot huisarres vir die res van sy lewe.[111] Sy Dialoog en die publikasie van enige toekomstige werk deur hom is verbied.[112][113]
Terwyl hy onder huisarres was, het Galileo een van sy beste werke geskryf: Twee Nuwe Wetenskappe. Dit was 'n opsomming van werk wat hy 40 jaar tevore gedoen het en handel oor kinematika en die sterkte van materiale. Dit is in Nederland gepubliseer om die sensor vry te spring. Albert Einstein het die boek hoog geprys.[114] Galileo het in 1638 heeltemal blind geword.[115]
Remove ads
Dood
Galileo het besoekers ontvang tot met sy dood op 8 Januarie 1642 op 77-jarige ouderdom ná koors en hartkloppings.[115]
Die groothertog van Toskane, Ferdinando II, wou hom in die hoofkerk van die Basilica di Santa Croce di Firenze laat begrawe, langs die grafkelders van sy vader en ander voorouers, en om 'n marmermausoleum vir hom op te rig.[116][117]
Dié planne is egter laat vaar nadat pous Urbanus VIII en sy nefie, kardinaal Francesco Barberini, protes aangeteken het[116][117][118] omdat Galileo deur die Katolieke Kerk verdoem is weens "sterk verdenking van kettery".[119] In plaas daarvan is hy in klein kamer begrawe.[116][120]
Hy is in 1737 in die hoofkerk begrawe nadat 'n monument daar ter ere van hom opgerig is.[121][122] Tydens dié skuiwery is drie vingers en 'n tand van sy oorblyfsels verwyder.[123] Een van die vingers word tans in die Museo Galileo in Florence uitgestal.[124]
Notas
- Onsigbaar met die blote oog
- Sulke verse sluit in Psalm 93:1, Psalm 96:10 en 1 Kronieke 16:30, wat die stelling insluit: "Die wêreld staan vas, dit wankel nie." Op dieselfde manier sê Psalm 104:5: "U wat die aarde stewig gevestig het, sodat dit nooit sal wankel nie." In Prediker 1:5 staan: "Die son kom op, die son gaan onder, en dan haas hy hom weer na waar hy opkom.", en Josua 10:14 lui: "Son, staan stil in Gibeon . . ."
- Die ontdekking van die aberrasie (afwyking) van lig in Januarie 1729 deur die Engelse sterrekundige James Bradley was die eerste klinkklare bewys van die beweging van die Aarde, en dus van die teorieë van Aristarchos, Copernicus en Kepler; dit is in Januarie 1729 aangekondig. Die tweede bewys is in 1838 deur die Duitse sterrekundige Friedrich Bessel gelewer.
Remove ads
Sien ook
Verwysings
Nog leesstof
Skakels
Wikiwand - on
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Remove ads