Neville Chamberlain
From Wikipedia, the free encyclopedia
Remove ads
Arthur Neville Chamberlain (1869–1940) was ’n Britse politikus van die Konserwatiewe Party wat in 1937 tot Eerste minister van die Verenigde Koninkryk verkies is. Hy is gekritiseer oor sy paaibeleid jeens Adolf Hitler en die Britse militêre mislukkings aan die begin van die Tweede Wêreldoorlog. In 1940 het Winston Churchill hom as premier vervang.[2]
Remove ads
Lewensloop

Arthur Neville Chamberlain is op 18 Maart 1869 gebore. Sy pa, Joseph Chamberlain, was die burgemeester van Birmingham. Sy ma, Florence Kenrick, sterf in die kraambed toe hy ses was. Hy het drie susters, asook 'n halfsuster en halfbroer uit sy pa se vorige huwelik gehad. Sy halfbroer Joseph Austen het hom in die politiek vooruitgegaan, en het die minister van finansies geword.
In 1910 trou hy met Anne Cole. Twee kinders is uit die huwelik gebore, Francis en Dorothy Chamberlain.
Neville het as 'n fynsinnige man grootgeword, met 'n sterk belangstelling in musiek, literatuur, plantkunde en ornitologie. Hy verwerf 'n ingenieursdiploma en spesialiseer in metallurgie. In 'n poging om die familiefortuin te red, stuur sy pa sy jongste seun om op Andros (in die Bahamas) in 'n garingboom-plantasie te gaan werk. Neville bly vir ses jaar daar, maar die plantasie misluk en sy pa lei 'n verlies van £50 000.
Met sy terugkeer na Groot-Brittanje begin Neville vir Hoskins&Company te werk. Die besigheid floreer en Neville begin hom later op maatskaplike en kulturele aktiwiteite toespits, soos die oprigting van 'n simfonie orkes in 1920.
Hy betree die politiek op 42-jarige ouderdom en is in 1911 tot sy tuisdorp se stadsraad verkies. Sewe jaar later, in 1918, is hy tot die House of Commons (Britse laerhuis) verkies (hy was 'n lid daarvan tot sy dood in 1940 gewees). Sy politieke loopbaan was nou op dreef en in 1923 word hy vir die eerste keer 'n minister. Hy hervorm die ministerie van gesondheid en verseker bekostigbare behuising vir minder bevoorregte mense.
Met 'n onderbreking van 'n paar maande in 1924 beklee hy hierdie pos tot 1929. Vervolgens was hy in 1931 vir enkele maande die minister van gesondheid en daarna van 1931 tot 1937 die minister van finansies. In die tyd het hy hom vir die aftakeling van oorlogskuld en die hernuwing van fabrieke en myne beywer. As gevolg hiervan kon die Verenigde Koninkryk die Tweede Wêreldoorlog met moderne tegnologie en middele betree.
Op 28 Mei 1937 word hy die eerste minister. Kort daarna word hy met Nazi-Duitsland se oorlogsug gekonfronteer, wat in Maart 1038 Oostenryk annekseer. Vanweë die Verenigde Koninkryk en Frankryk se oorlogsmoegheid probeer hy in September 1938 om Hitler tydens die Konferensie van München met 'n groot toegewing te paai. Hitler mag Sudetenland ('n deel van Tsjeggo-Slowakye waar baie Duitsers gewoon het) inlyf. Vir Tsjeggo-Slowakye was dit 'n ramp, omdat talle van die land se industrieë (asook hul verdedigingslinies) hier gesetel was. Die München-ooreenkoms lui Chamberlain se politieke ondergang in toe Duitsland (ondanks uitdruklike waarskuwings) Pole op 1 September 1939 inval. Daarmee word die Tweede Wêreldoorlog onvermydelik en Chamberlain se posisie ondraaglik. Interne weerstand teen sy bewind groei verder toe die Britse Vloot tydens die Duitse aanval op Noorweë faal. Nazi-Duitsland val België, Nederland en Frankryk op 10 Mei 1940 in, waarna Chamberlain genoodsaak is om uit te tree en deur Winston Churchill opgevolg is.
Hy is op 9 November 1940 (drie maande na sy uittrede) in Reading aan maagkanker oorlede, terwyl Duitse bomwerpers oor Groot-Brittanje geswerm het.
Remove ads
Bronnelys
- Graham Macklin: Chamberlain (20 British Prime Ministers of the 20th Century). Haus Publishing, London 2006, ISBN 978-1-904950-62-2.
Verwysings
Eksterne skakels
Wikiwand - on
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Remove ads
