Stendhal
Franse skrywer (1783–1842) From Wikipedia, the free encyclopedia
Remove ads
Marie-Henri Beyle (23 Januarie 1783 – 23 Maart 1842), allerweë bekend onder die skuilnaam Stendhal (fr),[a] was 'n Franse skrywer. Hy is veral bekend vir die romans Le Rouge et le Noir (Die Rooi en die Swart) en La Chartreuse de Parme. As skrywer word hy veral waardeer vir die diepgaande ontleding van sy karakters se psigologie. Hy word beskou as een van die vroegste en voorste beoefenaars van die literêre realisme. Hy was 'n selfverklaarde egoïs; die neologisme vir dieselfde karakteristiek in sy karakters is "Beylisme".[2]
Remove ads
Lewe
Marie-Henri Beyle is op 23 Januarie 1783 in Grenoble, Isère, gebore as die kind van die advokaat en grondeienaar Chérubin Beyle en sy vrou Henriette Gagnon. Hy was 'n ongelukkige kind, en het 'n afkeer gehad in sy "verbeeldinglose" vader. Hy het getreur oor sy moeder, vir wie hy innig lief was. Sy het in 1790 gesterf terwyl sy geboorte geskenk het. Hy was op daardie stadium sewe.[3][4] Hy het sy kinderjare deurgebring by die Beyle-landgoed in Claix naby Grenoble. Sy beste vriendin was sy jonger suster, Pauline, met wie hy 'n bestendige korrespondensie gehandhaaf het deur die eerste dekade van die 19de eeu. Sy familie was deel van die burgerlike klas van die Ancien Régime, wat sy dubbelsinnige houding teenoor Napoleon, die Bourbon-restourasie en later die monargie verklaar.[5]
Die militêre en teaterwêrelde van die Eerste Franse Ryk was 'n openbaring vir Beyle. As assistent-oorlogskommissaris het hy in die administrasie van die Koninkryk Wesfale, een van Napoleon se kliëntstate in Duitsland, gedien. Van 1807 tot 1808 het Beyle in Braunschweig gewoon, waar hy verlief geraak het op Wilhelmine von Griesheim, wat hy Minette genoem het, en ter wille van wie hy in die stad gebly het. "Ek het nou geen voorliefde meer nie, behalwe vir Minette, vir hierdie blonde en sjarmante Minette, hierdie siel van die noorde, soos ek nog nooit in Frankryk of Italië gesien het nie."[6]
Hy is op 3 Augustus 1810 as ouditeur by die Conseil d'État aangestel en was daarna deel van die Franse administrasie en die Napoleontiese oorloë in Italië. Hy het uitgebreid in Duitsland gereis en was deel van Napoleon se leër tydens die inval in Rusland in 1812.[7] Met sy aankoms het Stendhal die vernietiging van Moskou van buite die stad sowel as die leër se winteraftog aanskou.[8] Hy is aangestel as kommissaris van oorlogsvoorrade en na Smolensk gestuur om voorraad vir die terugkerende leër voor te berei.[3] Hy het die Berezina-rivier oorgesteek deur 'n bruikbare drif te vind eerder as die oorweldigde pontbrug, wat waarskynlik sy lewe en dié van sy metgeselle gered het. Hy het in 1813 in Parys aangekom, grootliks onbewus van die fiasko van die terugtog.[9] Stendhal het tydens die Russiese veldtog bekendheid verwerf vir sy helder verstand en oordeel en sy "helderheid van gees". Hy het ook sy daaglikse roetine gehandhaaf en elke dag geskeer tydens die terugtog uit Moskou.[10]
Na die Verdrag van Fontainebleau in 1814 en Napoleon se ondergang, het hy na Italië gereis waar hy hom in Milaan gevestig het,[11] waar hy tot 1821 gewoon het; "...only leaving after these, the happiest, years of his life, through fear of being implicated in the Carbonari troubles."[12] In 1830 is hy aangestel as Franse konsul in Trieste en Civitavecchia.[2] Hy het 'n besondere band met Italië ontwikkel, waar hy 'n groot deel van die res van sy loopbaan deurgebring het. Sy roman, La Chartreuse de Parme, geskryf in 52 dae, speel af in Italië, wat hy as 'n meer opregte en passievolle land as Frankryk beskou het. 'n Terloopse boodskap in daardie roman, wat verwys na 'n karakter wat selfmoord oorweeg nadat hy verstoot is, vertel oor sy houding teenoor sy tuisland: "Om hierdie handelswyse duidelik te maak aan my Franse lesers, moet ek verduidelik dat mense in Italië, 'n land baie ver van ons af, steeds deur liefde tot wanhoop gedryf word."
Stendhal het hom met die ontluikende liberalisme geïdentifiseer en sy verblyf in Italië het hom oortuig dat die Romantiek in wese die literêre eweknie van liberalisme in die politiek was.[13] Toe Stendhal in 1830 in 'n konsulêre pos in Triëst aangestel is, het Metternich sy exequatur geweier weens Stendhal se liberalisme en antiklerikalisme.[14]

Stendhal was 'n laventelhaan en grapmaker in Parys, sowel as 'n obsessiewe rokjagter.[15] Sy opregte meegevoel met vroue blyk duidelik uit sy boeke; Simone de Beauvoir het hom sterk aangeprys in The Second Sex.[16] Sy het hom daarmee gekrediteer dat hy 'n vrou as gewoon 'n vrou, en bloot 'n mens beskou het.[16][17] Sy het volgehou dat hy 'n feministiese skrywer was, met verwysing na Stendhal se rebelse heldinne.[18] Een van sy vroeë werke is Oor Liefde, 'n rasionele ontleding van romantiese passie, gebaseer op sy onbeantwoorde liefde vir Mathilde, Gravin Dembowska,[19] wat hy ontmoet het terwyl hy in Milaan gewoon het. Later sou hy ook "rusteloosheid van gees" ervaar toe een van sy jeugvriende, Victorine, getroud is. In 'n brief aan Pauline het hy haar as die vrou van sy drome beskryf en geskryf dat hy geluk sou ontdek indien hy haar man kon word.[20] Hierdie samesmelting van, en spanning tussen, nugtere analise en romantiese gevoelens is tipies van Stendhal se groot romans; hy kan as 'n Romantiese realis beskou word.
Stendhal het in sy laaste jare aan ellendige fisiese gestremdhede gely, terwyl hy voortgegaan het om van sy beroemdste werke te skryf. Hy het in Desember 1808 sifilis opgedoen.[21] Soos hy in sy dagboek opgemerk het, het hy jodied van kalium en kwik geneem om sy seksuele siekte te behandel, wat gelei het tot geswolle oksels, probleme met sluk, pyne in sy gekrimpte testikels, slapeloosheid, duiseligheid, 'n geraas in sy ore, 'n kloppende pols en "bewinge wat so erg was dat hy skaars 'n vurk of 'n pen kon vashou". Moderne geneesmiddels het getoon dat sy gesondheidsprobleme eerder aan sy behandeling as aan sy siekte toegeskryf kon word. Na bewering het hy die beste behandeling in Parys, Wene en Rome ontvang.[21]
Stendhal is op 23 Maart 1842 oorlede, 'n paar uur nadat hy in die Paryse strate na 'n aanval ineengestort het. Hy is begrawe in die Cimetière de Montmartre.
Remove ads
Skuilname
Voordat hy op die skuilnaam Stendhal besluit het, het hy onder baie skuilname gepubliseer, insluitend "Louis Alexandre Bombet" en "Anastasius Serpière". Die enigste boek wat Stendhal onder sy eie naam gepubliseer het, was "Die Geskiedenis van die Skilderkuns" (1817). Vanaf die publikasie van "Rome, Napels, Florence" (September 1817) het hy sy werke onder die skuilnaam "M. de Stendhal, officier de cavalerie" gepubliseer. Hy het hierdie skuilnaam geleen van die Duitse stad Stendal, geboorteplek van Johann Joachim Winckelmann, 'n kunshistorikus en argeoloog wat destyds beroemd was. Dit is egter nie duidelik of hy die naam ter ere van Winckelmann gekies het, of bloot die plek as 'n kommunikasiesentrum tussen Berlyn en Hannover geken het nie. Stendhal het 'n bykomende "H" bygevoeg om die Duitse uitspraak duideliker te maak.[22]
Stendhal het baie skuilname in sy outobiografiese geskrifte en korrespondensie gebruik, en dikwels skuilname aan vriende toegeken, waarvan sommige die name vir hulself aangeneem het. Stendhal het meer as 'n honderd skuilname gebruik, wat verbasend uiteenlopend was. Sommige het hy nie meer as een keer gebruik nie, terwyl hy dwarsdeur sy lewe na ander teruggekeer het. "Dominique" en "Salviati" het as intieme troetelname gedien. Hy het ook komiese name geskep "wat hom selfs meer bourgeois maak as wat hy werklik is: Cotonnet, Bombet, Chamier."[23]:80 Hy het van baie belaglike skuilname gebruik gemaak, soos "Don flegma", "Giorgio Vasari", "Willem Krokodil", "Poverino", "Baron de Cutendre". Volgens een van sy korrespondente, Prosper Mérimée, "Het hy nooit 'n brief onderteken sonder 'n valse naam nie."[24]
Stendhal se Dagboek en outobiografiese skrywes bevat baie kommentaar oor maskers en die plesiere om "lewendig te voel in baie weergawes". "Beskou die lewe as 'n gemaskerde bal," is die raad wat Stendhal homself in sy dagboek vir 1814 gee.[23]:85 In Memoirs van 'n Egoïs skryf hy: "Sal ek geglo word indien ek sê dat ek 'n masker met plesier sal dra en verheug sal wees om my naam te verander?...vir my sou die hoogste geluk wees om in 'n lenige, blonde Duitser te verander en in die hoedanigheid in Parys rond te loop."[25]
Remove ads
Werke
Eietydse lesers het Stendhal se realistiese styl nie ten volle waardeer gedurende die Romantiese tydperk waarin hy geleef het nie. Hy is eers aan die begin van die 20ste eeu ten volle waardeer. Hy het sy skryfwerk aan "the Happy Few" (in Engels in die oorspronklike) opgedra. Dit kan vertolk word as 'n verwysing na Canto 11 van Lord Byron se gedig, Don Juan, wat verwys na "the thousand happy few" wat die hogere samelewing geniet, of na die "we few, we happy few, we band of brothers"-reël van William Shakespeare se toneelstuk, Henry V. Stendhal se gebruik verwys egter meer waarskynlik na The Vicar of Wakefield deur Oliver Goldsmith, waarvan hy dele gememoriseer het terwyl hy homself Engels geleer het.[26]
In The Vicar of Wakefield verwys "die gelukkige min" ironies genoeg na die klein aantal mense wat die titelkarakter se obskure en pedantiese verhandeling oor monogamie gelees het.[26] As 'n literêre kritikus, soos byvoorbeeld in "Racine en Shakespeare", het Stendhal die Romantiese estetika ondersteun deur die reëls en beperkings van Jean Racine se klassisisme ongunstig te vergelyk met die vryer verse en toonsettings van Shakespeare, en deur die skryf van toneelstukke in prosa te ondersteun. Die literêre teoretikus Kornelije Kvas skryf as volg: "In sy roman Die Rooi en die Swart verwys Stendhal na 'n roman as 'n spieël wat in 'n mandjie gedra word. Die metafoor van die realistiese roman as 'n spieël van die hedendaagse werklikheid, toeganklik vir die verteller, het sekere beperkings, waarvan die kunstenaar bewus is. 'n Waardevolle realistiese werk oorskry die Platoniese betekenis van kuns as 'n kopie van die werklikheid. 'n Spieël weerspieël nie die werklikheid in sy geheel nie, en die kunstenaar se doel is ook nie om dit volledig te dokumenteer nie. In Die Rooi en die Swart beklemtoon die skrywer die belangrikheid van seleksie wanneer dit kom by die beskrywing van die werklikheid, met die oog op die verwesenliking van die kognitiewe funksie van 'n werk van kuns, bereik deur die kategorieë van eenheid, samehang en tipiesheid"..[27] Stendhal was 'n bewonderaar van Napoleon en sy roman Le Rouge et le Noir word beskou as sy literêre huldeblyk aan die Franse keiser.[28]
Vandag trek Stendhal se werke veral aandag vir hul ironie en sielkundige en historiese eienskappe. Stendhal was 'n ywerige aanhanger van musiek, veral die werke van die komponiste Domenico Cimarosa, Joseph Haydn, Wolfgang Amadeus Mozart en Gioacchino Rossini. Hy het 'n biografie van Rossini geskryf, Vie de Rossini (1824), wat vandag veral waardeer word vir sy wydlopende musikale kritiek, eerder as vir sy historiese inhoud. Hy het ook die aristokrasie geïdealiseer en die anti-egalitarisme daarvan opgemerk, maar terselfdertyd die liberale eienskappe daarvan waardeur, soos bv. die liefde vir vryheid.[29]
In sy werke het Stendhal by herhaling uittreksels van Giuseppe Carpani, Théophile Frédéric Winckler, Sismondi en ander gebruik.[30][31][32][33]
Romans
- Armance (1827)
- Le Rouge et le Noir (Die Rooi en die Swart, 1830)
- Lucien Leuwen (1835, onvoltooid, gepubliseer in 1894)
- Le Rose et le Vert (1837, onvoltooid)
- La Chartreuse de Parme (1839)
- Lamiel (1839–1842, onvoltooid, gepubliseer in 1889)

Novelle
- Vanina Vanini (1829)
- Mina de Vanghel (1830, later gepubliseer in die Paryse tydskrifjoernaal La Revue des Deux Mondes)
- Italian Chroniques, 1837–1839
- Vittoria Accoramboni
- Les Cenci (1837)
- La Duchesse de Palliano** (L'Abbesse de Castro, 1832)
Biografieë
- Vie de Napoléon (1817–1818, gepubliseer in 1929)
- Vie de Rossini (1824)
Outobiografieë
Stendhal se beknopte memoirs, Souvenirs d'Égotisme, is postuum gepubliseer in 1892. 'n Meer uitgebreide outobiografiese werk, nouliks vermom onder die titel Vie de Henry Brulard, is ook later gepubliseer.
- Vie de Henry Brulard (1835–1836, gepubliseer in 1890)
- Souvenirs d'égotisme (geskryf in 1832 en gepubliseer in 1892)
- Dagboek (1801–1817)
Niefiksie
- Rome, Naples et Florence (1817)
- De L'Amour (1822)
- Racine et Shakespéare (1823–1825) (Racine en Shakespeare)
- Voyage dans le midi de la France (1838; egter eers postuum gepubliseer in 1930)
Ander werke sluit in kortverhale, joernalistiese werk, reisverhale, 'n bekende bundel essays oor Italiaanse skilderwerk, en biografieë oor verskeie prominente figure uit sy tydgleuf in soos Napoleon, Haydn, Mozart, Rossini en Metastasio.
Remove ads
Kristallisasie
In Stendhal se klassieke werk uit 1822, "De l'amour", beskryf of vergelyk hy die "geboorte van liefde", waarin die liefdesvoorwerp in die gedagte "gekristalliseer" word, as 'n proses soortgelyk aan of soortgelyk aan 'n reis na Rome. In die analogie verteenwoordig die stad Bologna "onverskilligheid" en Rome verteenwoordig "perfekte liefde":

Wanneer ons in Bologna is, is ons heeltemal onverskillig; ons is ongeërg daaroor of ons die persoon op wie ons dalk eendag smoorverlief sal wees, op enige spesifieke manier bewonder; nog minder is ons verbeelding geneig om hul waarde te oorskat. Kortom, in Bologna het "kristallisasie" nog nie begin nie. Wanneer die reis begin, vertrek die liefde. 'n Mens verlaat Bologna, klim die Apennyne en neem die pad na Rome. Die vertrek, volgens Stendhal, het niks met 'n mens se wil te doen nie; dit is 'n instinktiewe oomblik. Hierdie transformerende proses vind plaas in terme van vier stappe langs 'n reis:
- Bewondering – 'n mens verwonder jou oor die eienskappe van die geliefde.
- Erkenning – 'n mens erken die aangenaamheid daarvan om die geliefde se belangstelling te wen.
- Hoop – 'n mens visualiseer die verkryging van die liefde van die geliefde.
- Verlustiging – 'n mens verlustig hom daarin om die skoonheid en verdienste te oorskat van die persoon wie se liefde 'n mens hoop om te wen.
Hierdie reis- of kristallisasieproses (hierbo getoon) is deur Stendhal op die agterkant van 'n speelkaart uiteengesit terwyl hy met Madame Gherardi gepraat het tydens sy reis na die Salzburg-soutmyn.
Remove ads
Kritiek
Hippolyte Taine het die sielkundige portrette van Stendhal se karakters as "eg beskou, omdat hulle kompleks, veelsydig, besonder en oorspronklik is, soos lewende mense." Émile Zola het saamgestem met Taine se beoordeling van Stendhal se vaardighede as 'n "sielkundige", en hoewel hy nadruklik was in sy lof van Stendhal se sielkundige akkuraatheid en verwerping van konvensie, het hy die verskeie onwaarskynlikhede van die romans en Stendhal se duidelike outeursingryping betreur.[34]
Die Duitse filosoof Friedrich Nietzsche verwys na Stendhal as "Frankryk se laaste groot sielkundige" in Anderkant Goed en Kwaad (1886).[35] Hy maak ook melding van Stendhal in Götzen-Dämmerung, oder, Wie man mit dem Hammer philosophiert (Afgodeskemering, 1889) tydens 'n bespreking van Dostojefski as 'n sielkundige, en sê dat die ontmoeting met Dostojefski "die mooiste toeval van my lewe was, meer as selfs my ontdekking van Stendhal".[36]
Ford Madox Ford, in The English Novel, beweer dat "die Roman sy volgende groot stap vorentoe te danke het [aan Diderot en Stendhal]... Op daardie stadium het dit skielik duidelik geword dat die Roman as sodanig beskou kon word as 'n middel tot diepgaande, ernstige en veelsydige besprekings en dus as 'n medium van diepgaande en ernstige ondersoek na die menslike situasie."[37]
Volgens Erich Auerbach het moderne "ernstige realisme" met Stendhal en Balzac posgevat.[38] In Mimesis: Dargestellte Wirklichkeit in der abendländischen Literatur, merk hy die volgende op oor 'n toneel in Die Rooi en die Swart, naamlik dat "it would be almost incomprehensible without a most accurate and detailed knowledge of the political situation, the social stratification, and the economic circumstances of a perfectly definite historical moment, namely, that in which France found itself just before the July Revolution."[39]
Volgens Auerbach is die karakters, houdings en verhoudings van die dramatis personæ in Stendhal se romans dus baie nou verbind met kontemporêre historiese omstandighede; kontemporêre politieke en maatskaplike toestande word op 'n meer gedetailleerde en meer werklike manier in die aksie ingeweef as wat in enige vorige roman, en inderdaad in enige literêre kunswerke, uiteengesit is, behalwe dié wat uitdruklik voorgee om polities-satiriese traktate te wees."[39]
Simone de Beauvoir haal Stendhal as voorbeeld aan van 'n feministiese skrywer. In Le Deuxième Sexe skryf de Beauvoir: "Stendhal beskryf nooit sy heldinne as 'n funksie van sy helde nie: hy voorsien hulle van hul eie lotgevalle."[40] Sy wys verder daarop dat dit "merkwaardig is dat Stendhal beide so diep romanties en so beslis feministies is; feministe is gewoonlik rasionele denkers wat 'n universele standpunt in alle dinge inneem; maar dit is nie net in die naam van vryheid in die algemeen nie, maar ook in die naam van individuele geluk dat Stendhal vroue se emansipasie oproep."[40] Tog kritiseer Beauvoir Stendhal omdat die enigste vooruitsig wat hy volgens haar vir die vrou in die vooruitsig stel, steeds die man is, alhoewel hy wil hê dat 'n vrou sy gelyke moet wees.[40]
Selfs Stendhal se outobiografiese werke, soos Vie de Henry Brulard en Souvenirs d'égotisme, is "veel nouer, essensieel en konkreet verbind met die politiek, sosiologie en ekonomie van die tydperk as byvoorbeeld die ooreenstemmende werke van Rousseau of Goethe; 'n mens voel dat die groot gebeurtenisse van kontemporêre geskiedenis Stendhal baie meer direk geraak het as die ander twee; Rousseau het hulle nie gesien nie, en Goethe het daarin geslaag om afsydig en ongeërg te bly." Auerbach sê verder:
Ons kan onsself afvra hoe dit gebeur het dat die moderne bewussyn van die werklikheid vir die eerste keer in die letterkunde uiting gevind het, juis in die persoon van Henri Beyle van Grenoble. Beyle-Stendhal was 'n man van skerp intelligensie, vinnig en lewendig, geestelik onafhanklik en dapper, maar nie heeltemal 'n groot figuur nie. Sy idees is dikwels kragtig en geïnspireerd, maar hulle is wisselvallig, arbitrêr, en ten spyte van al hul vertoon van dapperheid, vertoon hulle 'n gebrek aan innerlike sekerheid en kontinuïteit. Daar is iets onrustigs aan sy hele aard: sy skommeling tussen realistiese openhartigheid in die algemeen en dwase geheimsinnigheid in besonderhede, tussen koue selfbeheersing, verrukte oorgawe aan sensuele plesiere, en sy onsekere en soms sentimentele ydelheid, is nie altyd maklik om te verduur nie; Sy literêre styl is baie indrukwekkend en onmiskenbaar oorspronklik, maar dit is kortaf, nie eenvormig suksesvol nie, en neem selde die onderwerp heeltemal in besit. Maar, eie aan sy aard, het hy homself aan die oomblik geheg; omstandighede het hom gegryp, hom rondgegooi en 'n unieke en onverwagte bestemming op hom gelê; dit het hom so gevorm dat hy gedwing was om die werklikheid te aanvaar op 'n manier wat niemand voor hom gedoen het nie.[39]
Vladimir Nabokov het neerhalend oor Sendhal geskryf en hom in Strong Opinions "daardie troeteldier van almal wat van hul Franse eenvoudigheid hou" genoem. In die aantekeninge by sy vertaling van Eugene Onegin beweer hy dat Le Rouge et le Noir "heelwat oorskat" word, en dat Stendhal 'n "skrale styl" het. In Pnin het Nabokov satiries geskryf: "Literêre departemente is steeds onder die indruk dat Stendhal, John Galsworthy, Theodore Dreiser en Thomas Mann groot skrywers was."[41]
Michael Dirda beskou Stendhal as "in die algemeen die grootste Franse skrywer – outeur van twee van die top 20 Franse romans, outeur van 'n hoogs oorspronklike outobiografie ("Vie de Henry Brulard"), 'n uitstekende reisskrywer, en so 'n onnavolgbare teenwoordigheid op die bladsy as enige skrywer wat jy ooit sal ontmoet."[42]
Remove ads
Stendhal-sindroom
In 1817 is Stendhal na bewering oorweldig deur die kulturele rykdom van Florence, wat hy teëgekom het toe hy die Toskaanse stad vir die eerste keer besoek het. Soos hy in sy boek Napels en Florence: 'n Reis van Milaan na Reggio geskryf het:
Toe ek van die voorstoep van Santa Croce af kom, is ek oorval deur 'n hewige hartklop (dieselfde simptoom wat in Berlyn 'n senuwee-aanval genoem word); die bron van die lewe was opgedroog binne my, en ek het in voortdurende vrees geloop om te struikel en te val.[43]
Die toestand is in 1979 gediagnoseer en benoem deur die Italiaanse psigiater Graziella Magherini, wat soortgelyke psigosomatiese toestande (vinnig-kloppende hart, naarheid en duiseligheid) onder besoekers wat die die stad vir die eerste keer besoek het, opgemerk het.
As huldeblyk aan Stendhal staan Trenitalia se oornagtreindiens van Parys na Venesië bekend as die Stendhal Express.
Remove ads
Notas
- Die uitspraak [stɛ̃dal] kom vandag die algemeenste voor in Frankryk, soos getoon deur die inskrywing stendhalien ([stɛ̃daljɛ̃]) in die Petit Robert-woordeboek, en deur die opgeneemde uitspraak op die gesaghebbende webwerf Pronny the pronouncer,[1] wat in stand gehou word deur 'n professor in linguïstiek. Dit bevat die uitsprake van hoogsgeleerde moedertaalsprekers. Die uitspraak [stɑ̃dal] kom vandag minder voor in Frankryk, maar was vermoedelik die mees algemene uitspraak in 19de eeuse Frankryk, en miskien die een wat Stendhal verkies het, soos getoon deur die destyds bekende frase, "Stendhal, c'est un scandale", soos verduidelik op bladsy 88 van Haig, Stirling (22 Junie 1989). Stendhal: The Red and the Black. Drukpers van die Universiteit van Cambridge. ISBN 9780521349826 deur Stirling Haig. Aan die ander hand, het baie sterfberigte van die spelling Styndal gebruik gemaak, wat duidelik aantoon dat die uitspraak [stɛ̃dal] ook algemeen voorgekom het ten tyde van sy afsterwe (sien Literaturblatt für germanische und romanische Philologie (in Duits). Vol. 57 to 58. 1936. p. 175).
{{cite book}}: CS1 maint: postscript (link) Aangesien Stendhal in Duitsland gewoon het en uitgebreid deur die land getoer het, is dit ook moontlik dat hy sy naam uitgespreek het as [ˈʃtɛndaːl] (soos die Duitse stad Stendal), met gebruikmaking van /ɛn/ in pleks van /ɛ̃/ (en miskien ook met /ʃ/ in plaas van /s/), en dat sommige Franse sprekers hierdie spelling aangeleer het. Die meeste het egter gebruik gemaak van een van die twee mees algemeenste Franse uitsprake van die spelling -en- ([ɑ̃] en [ɛ̃]). - Angela Pietragrua word twee keer aangehaal: tydens hul eerste ontmoeting in 1800; en toe hy in 1811 op haar verlief geraak het.
Remove ads
Verwysings
Bronnelys
Nog leesstof
Eksterne skakels
Wikiwand - on
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Remove ads
