Vlag van Nieu-Seeland
From Wikipedia, the free encyclopedia
Remove ads
Die nasionale vlag van Nieu-Seeland (Engels: flag of New Zealand; Maori: te haki o Aotearoa) is in 1869 ontwerp en amptelik op 12 Junie 1902 aanvaar.[2] Die vlag staan ook bekend as die Nieu-Seelandse vaandel[3] en is gebaseer op die Britse Blou vlootvaandel. Dit vertoon ’n blou veld met die Union Jack in die skildhoek en op die wapperkant vier gesentreerde rooi sterre met wit fraiings wat die Suiderkruis verteenwoordig.[4]
Nieu-Seeland se eerste vlag, die vlag van die Verenigde Stamme van Nieu-Seeland, is in 1834 aangeneem, ses jaar voor Nieu-Seeland se afstigting van Nieu-Suid-Wallis en die stigting van ’n eie kolonie ná die ondertekening van die Verdrag van Waitangi in 1840. Die vlag is deur ’n vergadering van Maori-hoofmanne by Waitangi in 1834 gekies en het uit ’n Sint Joriskruis met ’n ander kruis in die skildhoek met vier sterre op ’n blou veld bestaan. Met die stigting van die kolonie in 1841 het die gebruik van Britse vaandels begin. Die huidige vlag is ontwerp en aanvaar in 1869 vir gebruik deur die kolonie se skepe en het ná goedkeuring deur koning Edward VII in 1902 die amptelike vlag geword. Dit vertoon die Britse Blou Vaandel met ’n gestileerde voorstelling van die Suiderkruis daarop wat die vier grootste sterre uitbeeld. Elke ster verskil effens van die ander in grootte. Die Union Jack in die skildhoek herinner aan Nieu-Seeland se koloniale bande met die Verenigde Koninkryk en sy lidmaatskap in die Britse Statebond.[4] Die verhouding van die vlag is 1:2 en die kleure is rooi (Pantone 186C), blou (Pantone 280C) en wit.[4] Die verhouding en kleure is identies aan die Union Jack.
Sedert die 1970’s word daar ’n vlagdebat oor ’n verandering van die vlag gevoer.[5] In 2016 is ’n bindende referendum in twee fases oor ’n vlagverandering gehou. Die tweede stemming is op 24 Maart beëindig en die land het met 57% tenoor 43% gekies om die huidige vlag te behou.[6]
Remove ads
Ontwerp
Die amptelike vlag van Nieu-Seeland word gedefinieer in Nieu-Seeland se Vlagwet van 1981.
Bestanddele
- Bestanddele van die vlag van Nieu-Seeland
- Vlae wat die Union Jack vorm
Die vlag van Nieu-Seeland gebruik twee prominente kenmerke:[7]
- Die Union Jack (of Union Flag)[8]
- Die Suiderkruis (of Crux)
In sy oorspronklike gebruik as die vlag van die Verenigde Koninkryk van Groot-Brittanje en Ierland kombineer die Union Jack drie heraldiese kruise wat die lande van die Verenigde Koninkryk verteenwoordig (soos in 1801 saamgestel):[9]
- Die rooi Sint Joriskruis van Engeland
- Die wit skuinse Sint Andrieskruis van Skotland
- Die rooi skuinse Sint Patrickkruis van Ierland
Die Union Jack verwys na Nieu-Seeland se geskiedenis as ’n Britse kolonie.[10]
Die Suiderkruis is die helderste konstellasie sigbaar in die Suidelike Halfrond en word reeds sedert die vroeë dae van Britse kolonisering in dié lande gebruik om Australië en Nieu-Seeland te verteenwoordig.[11] Die vier sterre is vyfpuntig.[12] Daarbenewens word in die Maori-mitologie na die Suiderkruis as Māhutonga verwys,[13] ’n opening in Te Ikaroa (die Melkweg) waardeur stormwinde ontsnap het.[11]
In teenstelling met ander Suiderkruisvlae soos dié van Australië, Brasilië, Papoea-Nieu-Guinee en Samoa vertoon Nieu-Seeland se vlag nie die Epsilon Crucis, die kleinste van die Suiderkruissterre, nie.
Simboliek
Die vlag moet reghoekig wees en sy lengte tweekeer langer as sy breedte wat dit ’n verhouding van 1:2 gee.[4] Dit vertoon ’n koningsblou agtergrond met ’n Union Jack in die skildhoek en vier gesentreerde vyfpuntige sterre op die wapperkant.[7] Die presiese kleure is bepaal as Pantone 186 C (rooi), Pantone 280 C (blou) en wit.[4] Volgens die Departement van Kultuur en Erfenis, die staatsdepartement wat vir die vlag verantwoordelik is, herinner die koningsblou agtergrond “aan die blou see en lug wat ons omring” en die sterre “dui op Nieu-Seeland se plek in die Suidelike Stille Oseaan”.[4] Die geskiedeniswebwerf van die Nieu-Seelandse regering verklaar: “Sy koningsblou agtergrond is afgelei van die vaandel van die Koninklike Vloot se Blou Eskader.”[14]

Die kennisgewing wat op 27 Junie 1902 in die Nieu-Seelandse Staatskoerant verskyn het, gee ’n tegniese beskrywing van die sterre en hul posisies op die Nieu-Seelandse vaandel:[7]
Die middelpunte van die sterre wat die lang tak van die kruis vorm, moet op ’n vertikale lyn op die vlag wees, halfpad tussen die Union Jack en die buitenste rand van die vlag, en ewe ver van sy boonste en onderste rande; en die afstand tussen die middelpunte van die sterre moet gelyk wees aan ses-en-dertig sestigstes van die vaandel se vlagpaalkant.
Die middelpunte van die sterre wat die kort tak van die kruis vorm, moet op ’n lyn wees wat die vertikale tak teen ’n hoek van 82 daarmee sny, en wat van naby die onderste vlaghoek van die Union Jack na die boonste vlaghoek van die vaandel styg, met sy snypunt met die vertikale lyn ver van die middelpunt van die boonste ster van die kruis twaalf-sestigstes van die hys van die vaandel.
Die afstand van die middelpunt van die naaste ster aan die buitenste rand van die vlag vanaf die kruispunt moet gelyk wees aan twaalf-sestigstes van die vlagpaalkant van die vaandel, en die afstand van die middelpunt van die naaste ster aan die Union Jack vanaf die kruispunt moet gelyk wees aan veertien-sestigstes van die vlagpaalkant van die vaandel.
Die naaste ster aan die wapperkant van die vaandel moet vyf-sestigstes meet, die ster bo-aan die kruis en die naaste ster aan die Union Jack moet elk ses-sestigstes meet, en die ster onderaan die kruis moet sewe-sestigstes van die vlagpaalkant van die vaandel oor hul onderskeie rooi punte meet, en die breedte van die wit fraiings van die verskeie sterre moet in alle gevalle gelyk wees aan een honderd-en-twintigste van die vlagpaalkant van die vaandel.
Kleure

Remove ads
Geskiedenis
Vroeë vlae in Nieu-Seeland
Maori’s het nie vlae gehad totdat die Europeërs hulle aan Nieu-Seeland bekendgestel het nie, toe hulle hulle spoedig aangeneem en deel van hul kultuur gemaak het.[15] Sommige Maori’s het tradisionele geweefde materiale soos paki aan hul skepe geheg wanneer hulle by internasionale handel betrokke was.[16]
Die behoefte aan ’n vlag vir Nieu-Seeland het die eerste keer duidelik geword toe die handelskip Sir George Murray, wat by Horeke in Hokianga gebou is, in 1830 in die hawe van Sydney deur doeane-amptenare in beslag geneem is. Die skip het sonder ’n vlag geseil wat ’n skending van die Britse seevaartwette was. In dié tyd was Nieu-Seeland nie ’n kolonie nie en het die land ook geen vlag besit nie. Onder die passasiers was twee belangrike Maori-leiers, moontlik Patuone en Taonui. Die skip se aanhouding is dus as ’n vernedering van die Maori-volk beskou. Tensy ’n vlag gekies is, sou die doeane voortgaan om skepe in beslag te neem.[17] Ná dié insident is die skip in 1831 opgeveil en deur Thomas McDonnell gekoop. Hy het onder ’n Sint Joriskruis met ’n blou skildhoek en daarin ’n halfmaan gevaar. The Sydney Herald het na dié vlag as “die Nieu-Seelandse kleure” verwys, maar dit kon ook net McDonnell se huisvlag gewees het.[16]
Vlag van die Verenigde Stamme



Die eerste vlag van Nieu-Seeland is op 9 Maart (of 20 Maart) 1834 aanvaar ná ’n verkiesing deur die Verenigde Stamme van Nieu-Seeland, ’n vergadering van Maori-leiers wat deur die Britse inwoner James Busby in Waitangi belê is. Die Verenigde Stamme het later die onafhanklikheidsverklaring van Nieu-Seeland in Waitangi in 1835 afgekondig. Drie vlae is voorgestel, almal is ontwerp deur die sendeling Henry Williams, wat ’n belangrike rol by die vertaling van die verdrag van Waitangi in 1840 gespeel het. Die leiers het twee andere voorstelle wat die Union Jack ingesluit het, ten gunste van ’n gemodifiseerde Sint Joriskruis of die Wit Vaandel, wat deur Henry Williams se Sendinggenootskap-skepe gebruik is, afgekeur.[18][19] Hierdie vlag het bekend geword as dié één van die Verenigde Stamme van Nieu-Seeland[20] en is amptelik in die Staatskoerant van Nieu-Suid-Wallis in Augustus 1835 gepubliseer met ’n algemene beskrywing sonder ’n omsoming of die aantal van die punte op die sterre. Die behoefte aan ’n vlag is as dringend beskou, nie net omdat Nieu-Seelandse skepe in Sydney in beslag gelê is weens die niegebruik van ’n nasionale vlag nie, maar ook as simbool van onafhanklikheid, wat deur die Maori-leiers verklaar is.
Die vlag word nog steeds aan die Waitanga-vlagpaal gehys en is sigbaar op Waitangi-dag, elke 6 Februarie.[21]
Union Jack
- Die hoofartikel vir hierdie afdeling is: Vlag van die Verenigde Koninkryk.

Ná die ondertekening van die verdrag van Waitangi is die Britse Union Jack gebruik, terwyl die voormalige vlag van die Verenigde Stamme nog steeds gebruik is deur ’n aantal Nieu-Seelandse skepe en in baie gevalle ook op land. So het die “New Zealand Company” in Wellington voortgegaan om die vlag van die Verenigde Stamme te gebruik, totdat goewerneur William Hobson in Mei 1840 ’n klein gewapende mag gestuur het (na aanleiding van sy verklaring van Britse soewereiniteit).[21][22][23] Die Union Jack was as simbool van die Britse gesag die teiken van die vlagpaaloorlog wat in 1844 begin het en volgens sommige geskiedkundiges die begin van die Nieu-Seelandse Oorloë was.
Die Union Jack was die “meerderwaardige vlag” en is tot in 1965 bo die Nieu-Seelandse vlag gehys.[24]
Vlae gebaseer op verskeie blou vaandels

Tydens die inval van die Waikato (Julie 1863 tot April 1864) van die Nieu-Seelandse Oorloë het die Britse magte besef dat hulle koloniale skepe benodig om teen die Maori’s te veg. Die koloniale regering het daarna vaartuie bekom wat met Britse Vloot-offisiere beman was. Die skepe was onder plaaslike en nie Admiraliteitsbeheer nie. ’n Gewapende skip, die Victoria wat in besit was van die kolonie Victoria, het versterking na Nieu-Seeland vervoer vir die veldtog en deelgeneem aan bombardemente van Maori’s. Die Britse regering was bekommerd oor die ontwikkeling van sy kolonies se eie vlote wat nie onder die beheer van die Koninklike Vloot se Admiraliteit was nie.[25]
Dit het daartoe gelei dat die Britse parlement die Koloniale Vlootverdedigingswet van 1865 goedgekeur het,[26] wat die koloniale regerings toegelaat het om skepe te besit, ook vir militêre doeleindes, onder die bepaling dat hulle onder die bevel van die Koninklike Vloot sou moes wees.[27] In 1866 het die Britse Admiraliteit kolonies aangeraai, wanneer hulle skepe besit wat onder die wet val, hulle ’n gewysigde blou vaandel met ’n koloniale kenteken moes gebruik.[28] Nieu-Seeland het destyds nie ’n eie koloniale kenteken of ’n wapen gehad nie en dus is in 1867 net die letters “NZ” vir die Engelse naam New Zealand by die Blou Vaandel bygevoeg[29] volgens ’n dekreet deur goewerneur George Grey op 15 Januarie 1867.[30]
In 1869 het die eerste luitenant van die Royal Navy-skip HMS Blanche, Albert Hastings Markham, ’n ontwerp vir ’n nasionale vaandel voorgelê aan Sir George Bowen, die goewerneur van Nieu-Seeland. Dit het gevolg op ’n versoek deur Bowen aan Markham om met ’n nuwe vlagontwerp vorendag te kom na aanleiding van ’n versoek aan Bowen deur die koloniale kantoor.[31] Sy ontwerp, wat die Suiderkruis gebruik, is op 23 Oktober 1869 goedgekeur.[32] Dit is aanvanklik net op regeringskepe gebruik, maar is in ’n oplewing van patriotisme ná die Anglo-Boereoorlog aanvaar as die de facto nasionale vlag in 1902. Om die verwarring tussen die verskillende ontwerpe van die vlag te beëindig, het die liberale regering die New Zealand Ensign Act 1901 goedgekeur, wat deur koning Edward VII op 24 Maart 1902 aanvaar is[33][34] en die vlag as Nieu-Seeland se nasionale vlag verklaar. Medaljes wat toegeken is aan soldate wat in die Tweede Vryheidsoorlog geveg het, bevat die ontwerp van die vlag van die Verenigde Stamme,[35] wat daarop dui dat dié vlag destyds wyd gebruik is in Nieu-Seeland.
- Die Blou Vaandel
- Seinvlag, 1899[36]
Vertoning tydens geveg
Een van die eerste bekende vertonings van die Nieu-Seelandse nasionale Blou Vaandel tydens ’n geveg was by Quinn's Post tydens die Slag van Gallipoli in 1915. Dit was egter nie amptelik vertoon nie. Die vlag is na Nieu-Seeland teruggebring deur Private John Taylor, Canterbury Bataljon.[37] Die eerste keer dat die vlag van Nieu-Seeland tydens ’n seegeveg en die eerste amptelike keer ooit getoon is, was op die HMNZS Achilles tydens die Slag van die Rio de la Plata in 1939.[38]
Remove ads
Vlagwet en protokol


Die Flags, Emblems, and Names Protection Act 1981 bepaal die gebruik van die nasionale vlag en al die ander amptelike vlae.[3] Hierdie wet kan, soos die meeste ander wette, deur ’n eenvoudige meerderheid in die parlement gewysig of herroep word.[39] Afdeling 5(2) van die wet bepaal dat die vlag “die simbool van die koninkryk, die regering en die mense van Nieu-Seeland” is. Afdeling 11(1) beskryf twee oortredings: verandering van die vlag sonder wettige magtiging, en die gebruik, vertoon, beskadiging of vernietiging van die vlag in of binne sig van ’n openbare plek met die doel om dit te onteer.[3]
Die Minister van Kuns, Kultuur en Erfenis het die gesag om voor te skryf wanneer en hoe die vlag gehys moet word en wat die standaardgroottes, afmetings, verhoudings en kleure moet wees.[40] In sy raadgewende rol het die Ministerie van Kultuur en Erfenis riglyne uitgereik om persone te help met die gebruik van die vlag. Geen toestemming is nodig om die vlag te hys nie en dit mag op elke dag van die jaar vertoon word — regerings- en openbare geboue met vlagpale word veral aangemoedig om gedurende werksure die vlag te hys. Dit moet egter nooit in ’n verwaarloosde toestand gebruik word nie.[41]
Van November 1941 tot Oktober 1984 het die Seremonie van die Eerbetoon aan die Vlagregulasies 1941 van staatskole vereis om Waitangi-, Anzac-, Ryks-, die Monarg se verjaars-, Trafalgar-, Wapenstilstands- en Dominion-dae te herdenk.[42] In 1984 is die koste van vlae en pale op $340 000 beraam.[43]
In teenstelling met ander lande het Nieu-Seeland geen amptelike “Vlagdag” nie.[39] Die hys van vlae kan op sekere herdenkingsdae aangemoedig word na goeddunke deur die Minister van Kuns, Kultuur en Erfenis.[41]
Die vlag word gewoonlik slegs deur sekere hooggeplaaste amptenare as ’n voertuigvlag gebruik, waaronder die eerste minister en ander ministers; ambassadeurs en hoë kommissarisse (wanneer oorsee) en die Weermaghoof. In hierdie gevalle word geen onderskeidende kenteken of rande op die vlag gebruik nie.[44]
Die vlag word halfstok gehys – altyd na goeddunke deur die Minister van Kuns, Kultuur en Erfenis – om ’n tydperk van rou aan te dui. Noemenswaardige geleenthede waar die vlag halfstok gehys is, sluit in die dood van die voormalige eerste minister David Lange, die dood en staatsbegrafnis van die bergklimmer Sir Edmund Hillary[45] en die dood van koningin Elizabeth II.[46] Wanneer die vlag halfstok gehys word, moet dit tot ’n herkenbare halfstokposisie laat sak word om die voorkoms van ’n vlag wat per ongeluk van die bokant van die vlagpaal afgeval het te vermy; die vlag moet ten minste een keer sy hoogte van die bokant van die vlagpaal af wees.[41]
Remove ads
Vlagdebat
Aansoek vir verankering
In Maart 1994 het die eerste minister van Nieu-Seeland, Jim Bolger, verklaar dat hy die verandering in ’n Nieu-Seelandse republiek sal ondersteun.[47] In reaksie hierop het die Christen-demokratiese parlementslid Graeme Lee ’n Vlae-, Liedere-, Embleme- en Namebeskermingswysigingswetsontwerp aangekondig.[48] Indien die wetsontwerp aangeneem is, sou dit die wet, wat die vlag en die volkslied van Nieu-Seeland vaslê, slegs met ’n meerderheid van 65 persent in die parlement veranderbaar maak. Die wetsontwerp het sy eerste lesing geslaag, maar is verslaan in die tweede lesing met 26 teenoor 37 stemme.[49]
Vlagvoorstelle

Die debat oor die behoud of verandering van die Nieu-Seelandse vlag het voor Mei 1973 begin, toe ’n opdrag om die vlag te verander nie deur die Arbeidersparty by hul nasionale konferensie aanvaar is nie.[50] In November 1979 het die minister van binnelandse sake, Allan Highet, voorgestel dat die ontwerp van die vlag verander behoort te word en het ’n kunstenaar gesoek wat ’n nuwe vlag, met die silwervaring op, sal ontwerp. Die voorstel het egter min ondersteuning gekry.[51] In 1998 het die eerste minister Jenny Shipley die oproep van die minister van kulturele sake, Marie Hasler, om ’n verandering van die vlag gesteun. Shipley het saam met die Nieu-Seelandse Toerismeraad die kwasi-nasionale silwervaring-vlag, wat ’n wit silwervaring op ’n swart agtergrond vertoon, as ’n moontlike alternatiewe vlag na die voorbeeld van Kanada se Esdoringblaarvlag ondersteun. Op 5 Augustus 2010 het Charles Chauvel, parlementslid van die Arbeidersparty, ’n wetsontwerp vir ’n raadplegende kommissie geloods deur ’n referendum oor die vlag van Nieu-Seeland aan te kondig.[49] In Februarie 2015 is berig dat Nieu-Seeland moontlik ’n vlagreferendum kan hou voor die einde van die jaar en dat ’n besluit vroeg in 2016 geneem kan word.[52]
Voorgestelde vlae
- Die silwervaring-vlag
Friedensreich Hundertwasser se “Koru-vlag”, 1983
Helen Clark se ontwerp, 2007
Referendums in 2015–16


Op 11 Maart 2014 het die destydse eerste minister, John Key, tydens ’n toespraak sy voorneme vir ’n referendum oor die aanneming van ’n nuwe vlag tydens die volgende parlementêre termyne aangekondig.[53][54] Na aanleiding van die Nasionale Party se herverkiesing is die details van die twee referendums aangekondig.[55] Die eerste referendum is ingestel vir November 2015, waarin kiesers vir een van vyf voorgestelde ontwerpe kon stem. In die tweede referendum van Maart 2016 kon die kiesers tussen die verkose ontwerp en die huidige vlag kies.[56]
In die geval dat die vlag verander sou word, het die Nieu-Seelandse vlagreferendumswet bepaal dat die huidige vlag (beskryf as die “1902-vlag”) van Nieu-Seeland in gebruik sou bly en erken is “as ’n vlag van historiese belang”.[57] Amptelike dokumente wat die huidige vlag toon, soos bestuurderslisensies, sou geldig bly en vervang word deur vanselfsprekend (soos hernuwing van bestuurderslisensies).[57]
Op 11 Desember 2015 is die voorlopige uitslae van die eerste referendum aangekondig. Die blou en swart ontwerp met ’n silwervaring en rooi sterre was die verkose vlag.[58][59] Hierdie vlagontwerp het die tweede referendum nie gewen nie nadat die uitslae getoon het dat die huidige vlag gekies is as die vlag van Nieu-Seeland. 56,6% was ten gunste van die huidige vlag, met ’n stempersentasie van 67,3%. 43,2% was ten gunste van die Lockwood-ontwerp.[60]
Uitslae

> 60% ten gunste van die nuwe ontwerp > 50–59% ten gunste van die nuwe ontwerp |
> 50–59% ten gunste van die huidige vlag > 60% ten gunste van die huidige vlag |
Remove ads
Rooi vaandel
’n Rooi weergawe van die vlag, wat amptelik die Rooi Vaandel genoem word en die bynaam red duster (“rooi stofdoek”) dra,[63] is in 1903 aangeneem om deur nieregeringsskepe gebruik te word.[64] Dit is tydens albei wêreldoorloë op Nieu-Seelandse handelskepe gebruik.[65]
Die Rooi Vaandel is soms verkeerdelik op land gehys in die oortuiging dat dit die nasionale vlag is.[63] Vanweë die Maori’s se lang afkeuring van rooi as ’n vlagkleur[64] mag volgens die Flags, Emblems, and Names Protection Act 1981 die Rooi Vaandel nie op land met ’n Maori-teenwoordigheid gehys word nie.[3]
Remove ads
Ander vlae


Die vlag wat oor die algemeen die tino rangatiratanga (Maori vir “volkome soewereiniteit”) genoem word, is in 1989 ontwerp. Dit word as ’n nasionale vlag van die Maori’s beskou.[66]
Daar is twee amptelike vlae wat, wanneer hulle onder die gepaste omstandighede gehys word, voorrang geniet bo die nasionale vlag van Nieu-Seeland:
- Die koningin se persoonlike Nieu-Seelandse vlag, wat in 1962 aangeneem is, vertoon die wapen van Nieu-Seeland in ’n vaandelvorm, versier met ’n rondel wat die letter “E” en ’n kroon vertoon. Die persoonlike vlag was deurlopend gehys op enige gebou waarin koningin Elizabeth II haar bevind het en is deur enige skip gebruik wat die koningin in Nieu-Seelandse gebiedswaters vervoer het.[64] Sedert die dood van die koningin word die vlag nie meer gebruik nie.
- Die vlag van die Nieu-Seelandse goewerneur-generaal word deurlopend in teenwoordigheid van die goewerneur-generaal gehys. Die vlag is in sy huidige vorm in 2008 aangeneem en vertoon ’n blou vaandel met ’n skild op die Nieu-Seelandse wapen omring deur ’n kroon.[67]
Daarbenewens beskik die Polisie, Brandweerdiens, Doeanediens en die Verdedigingsmag oor hul eie vlae.[64]
Vlag van koningin Elizabeth II in Nieu-Seeland, 1962 tot 2022
- Vlag van die Goewerneur-Generaal van Nieu-Seeland
- Vaandel van die Nieu-Seelandse Burgerlike Lugvaart
- Vaandel van die Koninklike Nieu-Seelandse Lugmag
- Kokarde van die Koninklike Nieu-Seelandse Lugmag
- Vlag van die Nieu-Seelandse Polisiediens
- Vlag van die Nieu-Seelandse Brandweerdiens
- Vlag van die Nieu-Seelandse Doeanediens
- Nieu-Seelandse Seiljagklubvaandel
Nieamptelike vlag van die Chathameilande
Tino rangatiratanga, die nasionale vlag van die Maori[68]
- Voorbeeld van ’n Maori-vlag met die stamnaam daarop, gebaseer op die Britse Rooi Vaandel
Nieamptelike vlag van die Ross-Afhanklikheid
Remove ads
Subnasionale vlae
Munisipale vlae
Sommige van die Nieu-Seelandse munisipaliteite beskik oor hul eie vlae.
Verwante vlae
- Die hoofartikel vir hierdie afdeling is: Suiderkruisvlae.

Die vlag van Nieu-Seeland is in 1902 aanvaar en die eerste nasionale vlag wat die sterre van die Suiderkruis gebruik en bly eiesoortig as die enigste nasionale vlag wat slegs die sterre van die konstellasie wat eintlik die kruis self vorm insluit.
Die Australiese vlag, wat in 1903 aanvaar is, gebruik die Union Jack in die skildhoek en die Suiderkruis op die wapperkant. Die kruis op die Nieu-Seelandse vlag is saamgestel uit die vier primêre sterre van die Suiderkruis, elk ’n rooi vyfpuntige ster met ’n wit fraiing. Die Australiese vlag vertoon ses wit sterre, waarvan vyf sewepuntig is (die Gemenebesster) en ’n vyfpuntige ster, Epsilon Crucis, die kleiner ster van die Suiderkruis wat nie deel van die werklike kruis self vorm nie is ook ingesluit. Australië se vlag vertoon ’n groot Gemenebesster onder die Union Jack omdat dit ’n simbool van Australië is. Die Nieu-Seelandse vlagkleure is effens donkerder as die Australiese s’n.
Baie andere vlae bevat ook die Suiderkruis as ’n embleem, sommige dateer so lank terug soos die nasionale koloniale vlag van Australië van 1823/24. Die nasionale vlae van Brasilië, Papoea-Nieu-Guinee en Samoa vertoon ook die Suiderkruis.
Remove ads
Soortgelyke vlae
Sien ook
Verwysings
Bronnelys
Eksterne skakels
Wikiwand - on
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Remove ads