Katalonië
een van die nasies binne die Koninkryk Spanje / From Wikipedia, the free encyclopedia
Katalonië (Katalaans: Catalunya [kətəˈluɲə] of [kataˈluɲɛ]; Aranees en Oksitaans: Catalonha [kataˈluɲɔ], Spaans: Cataluña [kataˈluɲa]) is een van die nasies binne die Koninkryk Spanje wat tans as een van die land se outonome gemeenskappe geadministreer word. Dit grens aan Frankryk en Andorra in die noorde, Aragon in die weste, en Valensië in die suide. In die ooste word dit begrens deur 'n 580 km kuslyn met die Middellandse See.
| |||||
Volkslied: Els Segadors | |||||
Hoofstad | Barcelona | ||||
Amptelike Tale | Katalaans, Spaans en Aranees (Oksitaans) | ||||
Oppervlak – Totaal – % van Spanje |
Rang 6de 32 108[1] km² 6,3% | ||||
Bevolking – Totaal (2016) – % van Spanje – Digtheid |
Rang 2de 7 522 596[1] 16% 240/km² | ||||
Inwonersnaam – Afrikaans – Spaans – Katalaans |
Katalaan catalán (m); catalana (v) català (m); catalana (v) | ||||
Statuut van Outonomiteit | 9 September 1932 18 September 1979 huidig: 9 Augustus 2006 | ||||
Parlementêre verteenwoordiging – Kongressetels – Senaatsetels |
47 afgevaardigdes (van 350) 16 senatore (van 264) | ||||
President | Joaquim Torra i Pla (JxCat) | ||||
ISO 3166-2 | ES-CT | ||||
Generalitat de Catalunya |
Die Gemeenskap se grondgebied kom ooreen met dié van die historiese gebied van die voormalige Prinsdom van Katalonië en die hoofstad en grootste stad is Barcelona. Die outonome gemeenskap van Katalonië beslaan 'n oppervlak van 32 108 km² met 'n amptelike bevolking van 7 565 603 (2012) waarvan immigrante 'n geskatte 12,3% uitmaak.
Die gebiede, waarna vandag as Katalaanse Lande (Països Catalans) verwys word, het reeds in die antieke tydperk sekere kenmerke gedeel voordat hulle vanaf die Middeleeue 'n maatskaplike, ekonomiese en kulturele eenheid begin vorm het. Die Mediterreense kuslyn was die geografiese element wat hulle met mekaar verbind het; die hoogplato in die sentrum van die Iberiese Skiereiland was hul gemeenskaplike grens teen die naburige Kastilië.[2]
Katalane verwys na hul land dikwels as 'n terra de pas, 'n deurgangsland, histories geleë tussen twee groter moondhede, Frankryk en Spanje, langs 'n roete wat dié twee lande oor eeue heen met mekaar verbind het. 'n Verskeidenheid beskawings en mense het hul spore gelaat, van Kelte, die Kartagiese veldheer Hannibal met 'n strydmag wat 2 200 olifante ingesluit het, en Romeine tot migrante uit Afrika en Asië wat tans werk kom soek in Katalonië se florerende vrugtebedryf rondom Lleida, die grootste stad in die binneland.[3]
Die toekomstige politieke status van Katalonië sal moontlik deur die snelgroeiende Katalaanse onafhanklikheidsbeweging bepaal word.[4] Die Spaanse bewind se optrede teen die beweging en die inhegtenisneming van Katalaanse regeringslede is onder meer deur die gewese president van Brasilië, Dilma Roussef, openlik gekritiseer. Roussef het Katalonië se reg op selfbestemming beklemtoon.[5]
Die politieke geskil tussen Madrid en Barcelona oor die herstelling van Katalonië se onafhanklikheid is ook 'n stryd tussen twee kulture. Tradisioneel het die grondslag van Katalane se welvaart op ambagte en seehandel berus. In Katalaanse stede het 'n selfbewuste burgerdom ontstaan wat baie ooreenkomste getoon het met dié van Hansestede en Italiaanse stadrepublieke.[6] Hierdie burgerdom het 'n politieke bedeling voortgebring waarin die politieke ewewig bewaar is en 'n tradisie van beleidvorming ontstaan het waarvolgens opponerende kragte kompromisse getref het.
Die Kastiliaanse samelewing het sterk gekontrasteer met die Katalaanse model. Die Spaans-Kastiliaanse staat is deur 'n magshiërargie gekenmerk wat uit koning, adel, klerus en boere bestaan het. Die laasgenoemdes was gevange in 'n stelsel van afhanklikheid en uitbuiting waarin gedwonge boerdery sentraal gestaan het. Ook ná die ontdekking van Amerika deur Spaanse seevaarders het die Spaaanse ekonomie nie danksy handel en tegnologiese vernuwing gefloreer nie, maar eerder het Spaanse elites hulle beperk tot die genadelose uitplundering van Indiaanse ryke in Setraal- en Suid-Amerika, waaronder dié van Asteke en Inkas. Die oorgrote meerderheid van die bevolking is tot in die moderne tydperk deur 'n baie klein heersende elite, wat hul selektiewe en partikuliere belange bevorder het, van die politieke besluitnemingsproses uitgesluit.