Rugbywêreldbeker 2011
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Rugbywêreldbeker 2011 (Engels: 2011 Rugby World Cup; Maori: Ipu o te Ao Whutupōro 2011) is van 9 September tot 23 Oktober 2011 in Nieu-Seeland beslis. Dit was die sewende rugbywêreldbeker van die vierjaarlikse rugbywêreldkampioenskap wat deur die Internasionale Rugbyraad (IRR) aangebied word en die vierde in die Suidelike Halfrond. Nieu-Seeland het saam met Australië die eerste Rugbywêreldbeker 1987 gehuisves.
Rugbywêreldbeker 2011 | |
Toernooibesonderhede | |
---|---|
Gasheer | Nieu-Seeland |
Datums | 9 September – 23 Oktober |
Aantal nasies | 20 (92 kwalifiseer) |
Finale posisies | |
Kampioen | Nieu-Seeland |
Naaswenner | Frankryk |
Derde plek | Australië |
Toernooistatistiek | |
Wedstryde | 48 |
Bywoning | 1 477 294 (gem. 30 777 per wedstryd) |
Drieë | 262 (gemiddeld 5.46 per wedstryd) |
Meeste punte | Morné Steyn (62)[1] |
Meeste drieë | Chris Ashton Vincent Clerc (6 drieë elk)[2] |
← 2007 |
2015 → |
Die toernooi se formaat van 2003 en 2007 het onveranderd gebly en 20 nasionale rugbyspanne het aan die Rugbywêreldbeker 2011 deelgeneem: die twaalf regstreekse kwalifiseerders van die 2007-toernooi (Argentinië, Australië, Engeland, Fidji, Frankryk, Ierland, Italië, Nieu-Seeland, Skotland, Suid-Afrika, Tonga en Wallis), saam met die agt beste spanne van die kwalifisering (Georgië, Japan, Kanada, Namibië, Roemenië, Rusland, Samoa en die Verenigde State). Tydens die Rugbywêreldbeker 2011 is 48 wedstryde gespeel, waaronder 40 tydens die groepfase en agt tydens die uitklopfase, insluitende die eindstryd. Die spanne is in vier groepe van vyf elk verdeel, waarvan elke span een keer teen al die ander spanne in die groep gespeel het. Die twee beste spanne van elke groep het hierna vir die kwarteindrondte gekwalifiseer, terwyl die drie beste spanne van elke groep – altesaam twaalf spanne – regstreeks vir die volgende Rugbywêreldbeker 2015 in Engeland en Wallis gekwalifiseer het.
Voor die afskop van die Rugbywêreldbeker 2011 is Nieu-Seeland, Australië, Suid-Afrika, Engeland en Frankryk as gunstelinge op die titel beskou.[3][4] Die gasheer Nieu-Seeland het die eindstryd op Edenpark in Auckland teen Frankryk met 8–7 gewen en sodoende sy tweede wêreldtitel ná 1987 ingepalm. Dit is die derde keer wat die gasheer die rugbywêreldbekertoernooi kon wen, ná Nieu-Seeland in 1987 en Suid-Afrika in 1995. Daarbenewens het Nieu-Seeland die eerste rugbyland geword wat die wêreldbekertitel vir beide mans en vroue op dieselfde tydstip gehou het, nadat die vrouespan die 2010-wêreldbekertoernooi kon wen. Edenpark het die eerste rugbystadion geword wat die rugbywêreldbekereindwedstryd vir meer as een keer – ná die 1987-toernooi – gehuisves het.[5] Australië het in die derde en Wallis in die vierde plek geëindig. Interessant genoeg het in die laaste vier wedstryde – die bronseindstryd en die eindstryd – dieselfde vier lande verskyn as tydens die erste Rugbywêreldbeker 1987, wat ook in Nieu-Seeland beslis is. Die verdedigende kampioen Suid-Afrika is in die kwarteindrondte deur Australië met 11–9 uitgeskakel. Namibië is ná vier nederlae reeds in die groepfase uitgeskakel. Die Russiese nasionale rugbyspan het vir die eerste keer aan ’n rugbywêreldbekertoernooi deelgeneem.
Die toernooi was die grootste sportgebeurtenis wat nog in Nieu-Seeland aangebied is,[6] groter as die Rugbywêreldbeker 1987, Statebondspele 1990, Krieketwêreldbeker 1992, America's Cup 2003 en die toer van die Britse en Ierse Leeus na Nieu-Seeland in 2005.[7] Die organiseerders het 95 000 oorsese besoekers verwag wat na Nieu-Seeland vir die aangeleentheid sou reis.[8] Die wedstryde het op 9 September 2011 begin en is oor sewe weke geskeduleer. Die eindstryd het op Sondag, 23 Oktober 2011 op Edenpark in Auckland plaasgevind. Dié dag is gekies omdat dit op ’n lang naweek in Nieu-Seeland geval het (24 Oktober is werkersdag in Nieu-Seeland).[9] Daar is ’n 10-ure verskil in tyd tussen Nieu-Seeland en Suid-Afrika, gevolglik is al die wedstryde vroegoggend in Suid-Afrika gebeeldsend. Die Rugbywêreldbeker 2011 is tot dusver die toernooi met die minste geelkaarte sedert die instelling van die 10-minuut-tydstraf.[10]