Bangladesj
Land in Suid-Asië From Wikipedia, the free encyclopedia
Remove ads
Bangladesj (Bengaals: বাংলাদেশ, Bāṃlādēśa, [ˈbaŋlad̪eʃ], ; letterlik "die nasie van Bengale"), amptelik die Volksrepubliek Bangladesj (গণপ্রজাতন্ত্রী বাংলাদেশ, Gaṇaprajātantrī Bāṃlādēśa), is 'n digbevolkte land in Suid-Asië in die streek Bengale. Dit beslaan 'n oppervlakte van 148 460 km² en het 'n bevolking van sowat 170 miljoen in 2024 gehad. Die hoofstad en grootste stad is Dhaka (of Dakka), ander groot stede sluit in Chittagong in die suidooste en Khulna in die suidweste. Die amptelike taal is Bengaals, die belangrikste etniese groep is die Bengale en die plaaslike geldeenheid is die taka (৳, tk).

Die land lê aan die Golf van Bengale in die Indiese Oseaan, maar word origens heeltemal deur Indië omring, behalwe vir die suidoostelike hoek, wat aan Mianmar (Birma) grens. Net noordwes van Bangladesj is Nepal en noord is Bhoetan geleë, maar al drie lande word deur 'n smal Indiese strook van mekaar geskei. Die Ganges-Brahmaputra-vloedvlakte is die oorheersende geografiese kenmerk van die land.
Bangladesj het tussen 1858 en 1947 deel uitgemaak van Brits-Indië en met die Verdeling van Indië het dit deel geword van Pakistan. In 1952 het die Bengaalse Taalbeweging begin en in 1971 het die provinsie met Indiese ondersteuning die Bengaalse Onafhanklikheidsoorlog teen Pakistan begin. Op 26 Maart 1971 het Bangladesj sy onafhanklikheid van Pakistan verklaar en met die grondwet op 4 November 1972 'n unitêre parlementêre republiek geword. Bangladesj is 'n lidland van die Britse Statebond met 'n president as staatshoof.
Sedert sy onafhanklikwording in 1971 beleef Bangladesj armoede, hongersnood, politieke onrus en militêre staatsgrepe. Die herstel van demokrasie in 1991 het verligting gebring, maar die land het steeds met baie uitdagings te kampe, veral die jaarlikse vloede en siklone.[9]
Remove ads
Algemene gegewens
Ligging

Bangladesj ("land van die Bengale") lê in die noordoostelike hoek van die Indiese subkontinent en word in die weste en noorde deur Indië begrens, in die ooste deur Indië en Mianmar en in die suide deur die Golf van Bengale.
Die grootste deel van die land is 'n deltagebied wat deur 'n dik laag slik afkomstig uit drie riviere, die Ganges, die Yamuna en die Meghna, bedek word. Bangladesj word dikwels die "Land van riviere" genoem,[10] omdat dit meer as 57 oorgrensende riviere huisves, die meeste van enige volkstaat. Waterkwessies is polities gekompliseerd aangesien Bangladesj stroom-af van Indië is.[11]
Die grond is ryk aan aluminium- en ysterbestanddele, maar wat vrugbaarheid betref, word daar met elke reënbui groot hoeveelhede vrugbare grond weggespoel, net om weer vervang te word as die riviere hul walle oorstroom, veral omdat Bangladesj oor 'n redelike plat terrein beskik. Die meerderheid van die land is minder as 12 m bo seevlak, en ongeveer 10% van die land sou heeltemal oorstroom wees as die seevlak met slegs 1 m sou styg.[12] 12% van die land bestaan uit bergreekse soos die Chittagong-heuwelreeks met 'n hoogte van tussen 500 m en 1 000 m wat in die suidoostelike deel van die land voorkom. Die hoogste plek in Bangladesj, wat naby aan die land se grens met Mianmar geleë is, is die Saka Haphong-piek met 'n hoogte van 1 064 m.[4] Die Karnaphoelrivier kronkel deur die heuwels en mond uit in die Golf van Bengale. 14% van die totale landarea word deur woude bedek, wat aan 1 883 400 hektaar (ha) woud gelyk is.[13][14]
Klimaat

Bangladesj het 'n moesonklimaat. Tussen Junie en Oktober waai die suidwesmoeson oor die kusstrook, en val daar tussen 2 000 mm en 3 000 mm reën. In die noorde reën dit selfs meer. Minder reën val in die suide.
Van Mei tot Oktober is dit somer en die temperatuur styg na tussen 26 en 32° C. Die winters is matig en die kwik daal selde benede 15° C. Die rekordlaagte was 1,1 °C wat op 3 Februarie 1905 in die noordwestelike stad van Dinaijpur gemeet is.[15]
Siklone teister die kusgebiede en stuur vloedgolwe tot diep die binneland in. Honderde mense, soms tot 'n halfmiljoen, kom in die rampe om en groot skade word aan gewasse aangerig.

Die siklone van 1970 en 1991 was veral verwoestend. Laasgenoemde het ongeveer 140 000 mense se dood veroorsaak.[16]
In September 1998 het Bangladesj die ergste vloede in die moderne geskiedenis van die mens beleef met meer as twee-derdes van die land wat onderwater was en 'n lewensverlies van 'n 1000 mense.[17] Verskeie internasionale en nasionale inisiatiewe het egter hard aan ramprisikovermindering gewerk en sodoende het die menslike en ekonomiese impak van die vloede met die jare verbeter.[18]
Klimaatsverandering
Bangladesj word beskou as een van die kwesbaarste lande wat die effek van klimaatsverandering betref.[19][20] Oor die loop van 'n eeu het 508 siklone Bengalbaai geaffekteer, waarvan 17% land bereik het.[21] Daar word verwag dat die natuurlike gevare wat saam met die styging in reënval, seevlakke, en tropiese siklone kom, sal vermeerder soos die klimaat bly verander, wat 'n ernstige impak op landbou, water- en voedselsekuriteit, menslike gesondheid en behuising sal hê.[22]
Biodiversiteit

Bangladesj is in die Indomalaja-ryk geleë en lê binne vier terrestriële ekostreke: Laer Gangiese Vlaktes se klam bladwisselende woude, Mizoram–Manipur–Kachin reënwoude, Sundarbans se varswatermoeraswoude, en Sundarbans se mangroves.[23] Die land se ekologie sluit 'n lang seekuslyn, talle riviere en sytakke, mere, vleilande, immergroen woude, semi-immergroen woude, heuwelwoude, klam bladwisselende woude, varswatermoeraswoude en plat land met lang gras in. Die Bangladesj-vlakte is bekend vir sy vrugbare alluviale grond wat uitgebreide verbouing ondersteun. Die land word oorheers deur welige plantegroei, met dorpies wat dikwels tussen mango-, nangka- ("jackfruit"), bamboes-, betelneut-, klapper- en dadelpalmbosse begrawe lê.[24] Die land het tot 6000 spesies plantlewe, insluitend 5000 blomplante.[25] Waterliggame en vleilandstelsels bied 'n habitat vir baie waterplante. Waterlelies en lotusse floreer gedurende die moessonseisoen. Die land het 50 wildreservate.
Bangladesj is die tuiste van die meeste van die Sundarbans, die wêreld se grootste mangrove-woud, wat 'n oppervlakte van 6 000 vierkante kilometer in die suidwestelike kusstreek beslaan. Dit is in drie beskermde heiligdomme - die Suid-, Oos- en Wes-sones - verdeel. Die woud is 'n UNESCO-wêrelderfenisgebied. Die noordoostelike Sylhet-streek is die tuiste van haor-vleilande, 'n unieke ekosisteem. Dit sluit ook tropiese en subtropiese naaldwoude, 'n varswatermoeraswoud en gemengde bladwisselende woude in. Die suidoostelike Chittagong-streek dek immergroen en semi-immergroen heuwelagtige oerwoude. Sentraal-Bangladesj sluit die vlakte Sal-woud in wat saam met die distrikte Gazipur, Tangail en Mymensingh loop. St. Martin's Eiland is die enigste koraalrif in die land.
Bangladesj het 'n oorvloed wild in sy woude, vleie, boslande en heuwels.[24] Die oorgrote meerderheid diere woon binne 'n habitat van 150 000 vierkante kilometer.[26] Die Bengaalse tier, gevlekte luiperd, soutwaterkrokodil, swartluiperd en visserkat is van die vernaamste roofdiere in die Sundarbans.[27] Noord- en oostelike Bangladesj is die tuiste van die Asiatiese olifant, hoeloks, Asiatiese swartbeer en Oosterse bont neushoringvoël.[28] Die chitale-takbokke word wyd in suidwestelike boslande gesien. Ander diere sluit in die swart reuse-eekhoring, kuiflangoer, Bengaalse jakkals, sambar-takbokke, oerwoudkat, koningkobra, wildevarke, muishonde, ietermagos, luislange en waterlikkewane. Bangladesj het een van die grootste bevolkings van Irrawaddy- en Ganges-dolfyne.[29] Die land het talle spesies amfibieë (53), reptiele (139), mariene reptiele (19) en seesoogdiere (5). Die land het ook 628 spesies voëls.[30]
Remove ads
Sport

Krieket is Bangladesj se gewildste sportsoort, gevolg deur sokker. Ander gewilde sportsoorte sluit in veldhokkie, tennis, pluimbal, handbal, basketbal, vlugbal, skaak, skietsport en hengel. Kabaddi is Bangladesj se nasionale sport.[31][32]
Die Bengaalse nasionale krieketspan het sedert 1999 vir elke krieketwêreldbekertoernooi gekwalifiseer, maar tot dusver nie een van die toernooie gewen nie; hul beste vertoning was die kwarteindrondte tydens die Krieketwêreldbeker 2015. In 2000 is toetsstatus aan Bangladesj toegeken. Bangladesj het die Krieketwêreldbeker 2011 saam met Indië en Sri Lanka aangebied, waartydens twee groepwedstryde in Chittagong, asook vier groepwedstryde en twee kwarteindstryde in Dhaka gespeel is. Daarbenewens het Bangladesj op sy eie as gasheer van die Kampioenetrofee 1998 en die T20I-wêreldbeker 2014 opgetree. Tydens die Krieketwêreldbeker 2031 sal Bangladesj saam met Indië weer as gasheer optree.[33] Tydens die Asiatiese Beker was Bangladesj drie keer die naaswenner (in 2012, 2016 en 2018). In 2020 het Bangladesj vir die eerste keer die o/19-Krieketwêreldbeker gewen en sodoende sy eerste titeloorwinning in enige IKR-toernooi beklink.[34]
Die Bengaalse nasionale sokkerspan kon tot dusver nog nie vir 'n FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi kwalifiseer nie. In 2003 het Bangladesj sy eerste internasionale trofee verower en die Suid-Asiatiese beker gewen.
Remove ads
Verwysings
Bronnelys
Eksterne skakels
Wikiwand - on
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Remove ads