Rooiboswilg

plantspesie From Wikipedia, the free encyclopedia

Rooiboswilg
Remove ads

Combretum apiculatum, algemeen bekend as die rooiboswilg, is 'n boomspesie in die familie Combretaceae. Die spesie is inheems aan semi-ariede tot gematigde savannestreke van Afrika suid van die ewenaar.

Kitsfeite Bewaringstatus, Wetenskaplike klassifikasie ...
Remove ads

Beskrywing

Dit is 'n semi-bladwisselende boom wat tot 10 meter hoog groei, of by geleentheid 'n struik wat plat bly. Dit het 'n growwe en gesplyte gryswart bas, en die dunner takkies mag wollerig afgewerk wees. Die teenoorstaande blare is 11[1] tot 13 cm[2] lank, en mag haarloos of harig wees, na gelang van die subspesie. Die blaar vernou skerp tot 'n gedraaide blaarpunt.[1][2] Die loof word met herfstyd rooierig of goudkleurig.[3] Die aar-bloeiwyses van tot 7 cm lank verskyn tussen die blare. Hulle dra geel of groenerige blomme met klein kelk- en kroonblare, en met die style en meeldrade om en by 0,5 cm lank.[2] Die blomme is sterk gegeur.[3] Die rooierige, gevlerkte vrugte word 2 tot 3 cm lank.[1][2]

Remove ads

Subspesies

Twee subspesies word erken, naamlik die suidelike ssp. apiculatum, en ssp. leutweinii, wat vanaf Namibië tot Malawi en verder noordwaarts aangetref word, en aan die meer harige blare onderskeibaar is.[3]

Verspreiding en habitat

Die spesie is inheems aan Suid-Afrika, Eswatini, Botswana, Mosambiek, Namibië, Zimbabwe,[1] suidelike Angola, Zambië, Malawi, suidoostelike DRK, Tanzanië en suidelike Kenia.[4]

Die boom is teenwoordig in verskillende ekostelsels van suidelike Afrika. In savannes van verskillende gebiede is dit dominant,[5][6] insluitend die laeveld en in mopanie-boomveld. Dit word saam met ander houtagtige gewasse aangetref soos die haakdoring (Senegalia afra), sekelbos (Dichrostachys cinerea), suurpruim (Ximenia caffra), dikbas (Lannea discolor), bergsering (Kirkia acuminata) en maroela (Sclerocarya caffra).[5]

Benutting deur wild en lewende hawe

Baie diere benut die boom, veral vir voedsel. Koedoes, bosbokke, elande, kameelperde en olifante vreet die blare.[3] Elande vind die boom só smaaklik dat hulle dit kan beskadig wanneer hulle daaraan vreet.[7] Die bruinkoppapegaai eet die sade.[1]

Beeste vreet ook die blare. Die vrugte is skadelik vir lewende hawe weens die toksiese bestanddele daarvan.[3] Die loof is goeie byvoeding vir boerbokke.[8]

Remove ads

Menslike gebruik

Hierdie boom het digte (1.15),[9] fyngegrynde, sterk, donkerbruin tot swart pithout, wat soms vir brandhout of vir houtskool-vervaardiging gebruik word.[1] Dit is hard en termietbestand.[3] Die boom herspruit goed as dit afgestomp word, en dra weer welige lower.[10] Die bas is al vir leerlooiery aangewend.[3] Medisinale gebruike sluit die behandeling van bindvliesontsteking en maagaandoenings in.[1][3] Dit bevat antioksidant-verbindings, soos kardamonien, pinokembrien, kwersetien en kaempferol.[11] Dit is 'n geskikte tuinboom, aangesien dit ryp en droogte kan weerstaan, en skadu verskaf.[3]

Remove ads

Volksname

In Afrikaans staan dit ook bekend as rooibos of rooiblad, en daar bestaan baie volksname in ander tale, waaronder umbondwe in Zoeloe, imbondvo in Swazi, mohwidiri in Tswana, mohwelere in Sepedi, muvuvha in Venda, ndhuva in Tsonga,[3] rukweza in Sjona en omumbuti in Herero.[12]

Sien ook

Bronne

Eksterne skakels

Loading related searches...

Wikiwand - on

Seamless Wikipedia browsing. On steroids.

Remove ads