Gay mans

mans wat aangetrokke is tot ander mans From Wikipedia, the free encyclopedia

Gay mans
Remove ads

Gay mans is manlike homoseksuele.[1] Sommige biseksuele en homoromantiese mans kan as "gay" identifiseer, en 'n aantal gay mans identifiseer ook as "queer".

Thumb
'n Gay paartjie op 'n Gay Pride-byeenkoms.
Thumb
Twee ineengestrengelde Mars-simbole stel manlike homoseksualiteit voor.

Gay mans ervaar steeds aansienlike diskriminasie in groot dele van die wêreld, veral in die meeste dele van Asië en Afrika. In die Verenigde State en die Westerse wêreld ondervind baie gay mans ook steeds diskriminasie in hulle daaglikse lewe,[2] hoewel sommige openlik gay mans nasionale en internasionale sukses en bekendheid verwerf het, insluitend Apple se hoof- uitvoerende beampte, Tim Cook, en staatshoofde soos Edgars Rinkēvičs (president van Letland sedert 2023).

In Suid-Afrika word 'n gay persoon se regte deur die Grondwet beskerm.

Die woord "gay" word deur LGBTQ-groepe en stylgidse aanbeveel om alle mense te beskryf wat uitsluitlik tot lede van dieselfde geslag aangetrokke voel,[3] terwyl "lesbiër" spesifiek na vroulike homoseksuele verwys en "gay mans" na manlike homoseksuele.[4]

Remove ads

Manlike homoseksualiteit in die geskiedenis

Sommige geleerdes voer aan die terme "homoseksueel" en "gay" is problematies wanneer dit op mans in antieke kulture toegepas word, aangesien byvoorbeeld nóg die Grieke nóg die Romeine enige enkele woord gehad het wat dieselfde semantiese omvang as die moderne konsep "homoseksualiteit" dek.[5][6] Verder was daar uiteenlopende seksuele praktyke wat op verskillende tye en plekke verskillend aanvaar is.[5] Ander geleerdes voer aan daar is beduidende ooreenkomste tussen antieke en moderne manlike homoseksuele.[7][8]

In kulture wat deur die Abrahamitiese gelowe beïnvloed is, het die wet en kerk sodomie as 'n oortreding teen goddelike wet of 'n misdaad teen die natuur beskou.[9][10] Die afkeuring van anale seks het egter die Christendom voorafgegaan. Veroordeling het ook in antieke Griekeland voorgekom. Plato het byvoorbeeld in sy Wette manlike homoseksualiteit as "onnatuurlik" beskryf en gepleit dat dit verbied word.[11]

Baie historiese figure, insluitend Sokrates, lord Byron, Eduard II en Hadrianus,[12] is egter met terme soos "gay" of "biseksueel" beskryf.

Thumb
Chnoemhotep en Nianchchnoem soen mekaar met die neus.

Afrika

Die eerste aangetekende moontlike homoseksuele manlike paartjie in die geskiedenis word algemeen beskou as Chnoemhotep en Nianchchnoem, ’n paartjie antieke Egiptenare wat omstreeks 2400 v.C. geleef het. Die twee word uitgebeeld in ’n neussoenposisie, die intiemste houding in Egiptiese kuns.[13] Die 6de- of 7de-eeuse Ashmolean-parkament AN 1981.940 verskaf die enigste voorbeeld in Kopties van ’n liefdesbekoring tussen mans.[14]

Meer onlangs het die Europese kolonisering van Afrika gelei tot die invoer van antisodomiewette, en dit word algemeen beskou as die hoofrede waarom Afrikalande vandag sulke streng wette teen gay mans het.[15] Drie lande of jurisdiksies in Afrika het die doodstraf vir gay mans ingestel. Dit sluit in Mauritanië en verskeie streke in Nigerië en Jubaland.[16][17]

Amerikas

Thumb
'n Pre-Columbiaanse keramiekbeeldjie van twee mans wat orale seks beoefen.

Nes in baie ander nie-Westerse kulture, is dit moeilik om te bepaal in watter mate Westerse opvattings oor seksuele oriëntasie van toepassing is op pre-Columbiaanse kulture. Bewyse van homoërotiese seksuele dade tussen mans is gevind in baie beskawings in Latyns-Amerika voor die verowering, soos die Asteke, Majas, Quechuas, Moches en Inkas, asook die Tupinambá van Brasilië.[18][19] Trouens, in die Asteke se mitologie was die godheid Xochipilli ’n simbool van gay mans en manlike prostitute.[20]

Die Spaanse veroweraars was met afgryse vervul toe hulle sien hoe inheemse mans openlik sodomie beoefen, en dit as bewys gebruik van hulle vermeende minderwaardigheid.[21] Hulle het uitgebreid oor sodomie onder die inboorlinge gepraat om hulle as barbare uit te beeld en sodoende hulle verowering en gedwonge bekering tot die Christendom te regverdig. As gevolg van die groeiende invloed en mag van die veroweraars het baie inheemse leiers self begin om homoseksuele dade te veroordeel.

In die tydperk ná die Europese kolonisering is homoseksualiteit deur die Mexikaanse Inkwisisie vervolg, soms met doodsvonnisse op aanklag van sodomie, en die praktyke het ondergronds geraak. Baie homoseksuele mans het in heteroseksuele huwelike getree om die skyn te handhaaf, en sommige het hulle tot kerkampte gewend om openbare ondersoek te ontduik.[22]

Tydens die Mexikaanse Inkwisisie is 123 mans in 1658 gearresteer op vermoede van homoseksualiteit ná ’n reeks aanklagte. Hoewel baie ontsnap het, het die koninklike kriminele hof 14 mans van verskillende sosiale en etniese agtergronde tot die dood veroordeel deur openbare verbranding. Die vonnisse is almal op dieselfde dag, 6 November 1658, uitgevoer. Die rekords van die verhore en dié wat in 1660, 1673 en 1687 plaasgevind het, dui daarop dat Mexikostad, soos baie ander groot stede in daardie tyd, ’n aktiewe onderwêreld gehad het.[22][23]

Oos-Asië

Thumb
Twee mans maak gereed om anale seks te hê. Qing-China, datum onbekend.

In Oos-Asië is selfdegeslagverhoudings tussen mans reeds sedert die vroegste opgetekende geskiedenis bekend. Homoseksualiteit in China, bekend as die passies van die gesnyde perske en verskeie ander eufemismes, is sedert ongeveer 600 v.C. aangeteken. Manlike homoseksualiteit is in baie bekende werke van Chinese letterkunde genoem. Die gevalle van selfdegeslagliefde en seksuele interaksie wat in die klassieke roman Droom van die Rooi Kamer beskryf word, lyk vir hedendaagse waarnemers net so bekend soos soortgelyke verhale van romanse tussen heteroseksuele mense in dieselfde tydperk. Confucianism, wat primêr ’n sosiale en politieke filosofie is, het min op seksualiteit gefokus, hetsy homoseksueel of heteroseksueel. Letterkunde uit die Ming-dinastie, soos Bian Er Chai (弁而釵/弁而钗), beeld homoseksuele verhoudings tussen mans uit as genotvoller en meer "harmonieeus" as heteroseksuele verhoudings.[24] Geskrifte uit die Liu Song-dinastie deur Wang Shunu het beweer homoseksualiteit was in China van die laat 13de eeu net so algemeen soos heteroseksualiteit.[25]

Teenkanting teen manlike homoseksualiteit in China het ontstaan tydens die Middeleeuse Tang-dinastie (618-907), en word toegeskryf aan die toenemende invloed van Christelike en Islamitiese waardes.[26] Dit het egter eers werklik posgevat tydens die Westerse beïnvloeding van die laat Qing-dinastie en die Republiek China (1912-'49).[27]

Europa

Klassieke tydperk

Thumb
Die Dood van Huakintos deur Jean Broc (1801).

Die vroegste Westerse materiaal (in die vorm van literêre werke, kunsvoorwerpe, en mitografiese materiaal) oor selfdegeslagverhoudings tussen mans is afkomstig uit antieke Griekeland. Sekere stadstate het dit verbied, terwyl ander dit met dubbelsinnigheid benader of toegelaat het.[28] In Athene is daar uiteindelik wette ingestel om pederastie (seks met minderjarige seuns) en homoseksualiteit in die algemeen te beperk, maar nie om elke geval daarvan te verbied nie. [29]

In Antieke Rome was pederastie aanvaarbaar, maar seksuele passiwiteit by mans is gekritiseer; pederastie is slegs as regmatig beskou as dit met huidige of voormalige slawe gedoen is.[30] Keiser Hadrianus is bekend vir sy verhouding met Antinoös, maar die Christelike keiser Teodosius I het op 6 Augustus 390 'n wet uitgevaardig wat passiewe mans tot verbranding op die brandstapel veroordeel het.[31][32] In 558 n.C. het keiser Justinianus die verbod uitgebrei na die aktiewe maat ook, en gewaarsku dat sodanige gedrag tot die vernietiging van stede kan lei weens die "toorn van God".[33]

Sommige geleerdes voer aan dat daar in antieke letterkunde voorbeelde van manlike homoseksuele liefde is, soos tussen Achilles en Patroklos in die Ilias.[34]

Renaissance

Thumb
Apollon et Cyparisse deur Claude Marie Dubufe, 1821.

Tydens die Renaissance was welgestelde stede in Noord-Italië – veral Florence en Venesië – bekend vir hulle wydverspreide beoefening van selfdegeslagliefde, waarin ’n aansienlike deel van die manlike bevolking betrokke was en wat op die klassieke patroon van Griekeland en Rome geskoei was.[35][36] Maar selfs terwyl baie mans aan selfdegeslagverhoudings deelgeneem het, het die owerhede ’n groot deel van dié bevolking vervolg, beboet en gevange geneem.

Van die tweede helfte van die 13de eeu af was die dood die straf vir manlike homoseksualiteit in die meeste dele van Europa.[37]

Die verhoudings van sosiaal prominente figure, soos Jakobus I van Engeland en die hertog van Buckingham, het die kwessie verder beklemtoon,[38] onder andere in anonieme straatpamflette: "Die wêreld het verander, ek weet nie hoe nie, want manne soen nou manne, nie meer vroue nie; ... van J. die Eerste en Buckingham: Hy, dis waar, het sy vrou se omhelsing vermy, om sy geliefde Ganumedes te omarm" (Mundus Foppensis, or The Fop Display’d, 1691).

Midde-Ooste

Thumb
'n 19de-eeuse illustrasie uit die Ottomaanse Ryk van gay seks tussen jong mans.

In antieke Sumer het 'n groep priesters bekend as gala in die tempels van die godin Inanna gewerk, waar hulle treursange en klaagliedere uitgevoer het.[39]:285 Gala het vroulike name aangeneem, in ’n dialek gepraat wat tradisioneel vir vroue gereserveer was en blykbaar aan homoseksuele omgang deelgeneem.[40] Die Sumeriese teken vir gala was 'n ligatuur van die tekens vir "penis" en "anus".[40] In latere Mesopotamiese kulture was kurgarrū en assinnu manlike dienaars van die godin Isjtar (Inanna se Oos-Semitiese ekwivalent) wat vroueklere gedra en oorlogsdanse in Isjtar se tempels uitgevoer het.[40] Verskeie Akkadiese spreekwoorde dui moontlik daarop dat hulle ook aan homoseksuele omgang deelgeneem het.[40]

In antieke Assirië is manlike homoseksualiteit gedokumenteer. Daar word geglo dat antieke Assirië (2de millennium v.C. tot 1ste millennium n.C.) homoseksualiteit egter as negatief en krimineel beskou het,[41] met die godsdienswette van die Zoroastrisme wat dit verbied het.[42]

Sommige godsdienstige tekste bevat gebede vir goddelike seëninge op homoseksuele verhoudings.[43] Die Almanak van Towerspreuke het gebede bevat wat die liefde van 'n man vir 'n vrou, van 'n vrou vir 'n man en van 'n man vir 'n man op 'n gelyke grondslag geseën het.[44]

Remove ads

Moderne Westerse geskiedenis

Die gebruik van die Engelse woord "gay" vir 'n homoseksuele man is die eerste keer gebruik as ’n uitbreiding van die term se toepassing op prostitusie: ’n Gay boy was ’n jong man of seun wat manlike klante bedien het.[45] Net so was ’n gay cat ’n jong man wat by ’n ouer man geleer het, en wat dikwels seks en ander dienste verruil het vir beskerming en mentorskap.

Die rolprent Bringing Up Baby (1938) was die eerste prent wat die woord "gay" blykbaar in verwysing na homoseksualiteit gebruik het. In ’n toneel waarin die klere van Cary Grant se karakter na die wassery gestuur is, is hy gedwing om ’n vrou se mantel met vereafwerking te dra. Toe ’n ander karakter hom vra oor die mantel, antwoord hy: "Because I just went gay all of a sudden!" Omdat dit ’n hoofstroomfilm was in ’n tyd toe die gebruik van die woord om na homoseksualiteit te verwys nog aan die meeste kykers onbekend was, kan die reël ook geïnterpreteer word as: "Ek het sommer besluit om iets lafs aan te vang."[46]

In 1950 het die vroegste bekende verwysing na die woord as ’n selfbeskrywende term vir manlike homoseksuele voorgekom in ’n uitgawe van die tydskrif Sir, waarin Alfred A. Gross, die uitvoerende sekretaris van die George W. Henry-stigting, dit gebruik het.[47]

Gay mans in die Holocaust

Thumb
Gay mans het gedurende die Holocaust 'n pienk driehoek gedra.

Gay mans was een van die primêre slagoffers van die Nazi's se Holocaust. Histories was die vroegste wetlike stap in die rigting van die Nazi-vervolging van manlike homoseksualiteit die aanvaarding van Paragraaf 175 in 1871, ’n wet wat ná die eenwording van die Duitse Ryk ingestel is. Paragraaf 175 het bepaal: "’n Onnatuurlike seksuele daad wat gepleeg word tussen persone van die manlike geslag ... is strafbaar met gevangenisstraf; die verlies van burgerregte kan ook opgelê word." Die wet is op verskillende maniere in Duitsland vertolk tot op 23 April 1880, toe beslis is kriminele homoseksuele dade behels óf anale óf orale óf ander soorte seks tussen twee mans. Enigiets minder (soos soen en vashou) is as onskadelik beskou.[48]:{{{1}}}

Franz Gürtner, die ryksminister van justisie, het Paragraaf 175 ná die nag van die lang messe gewysig om "leemtes" in die wet uit te skakel. Die 1935-weergawe van Paragraaf 175 het die "uitdrukking" van homoseksualiteit as strafbare oortredings verklaar. Die belangrikste verandering in die wet was die skuif van die definisie van manlike homoseksualiteit van "’n onnatuurlike seksuele daad tussen persone van die manlike geslag" na "’n man wat ’n seksuele oortreding met ’n ander man pleeg". Dit het die omvang van die wet uitgebrei om gay mans as ’n groep te vervolg, eerder as net homoseksuele dade self. Soen, wedersydse masturbasie en liefdesbriewe tussen mans is nou as wettige redes vir inhegtenisneming beskou. Die wet het egter nooit ’n "seksuele oortreding" gedefinieer nie en dit is dus aan interpretasie oorgelaat.

Tussen 1933 en 1945 is na raming 100 000 mans onder die Nazi-bewind as homoseksuele persone gearresteer, waarvan ongeveer 50 000 amptelik gevonnis is. Die meeste van die mans het gevangenisstraf uitgedien, terwyl na raming tussen 5 000 en 15 000 in konsentrasiekampe opgesluit is.[49] Rüdiger Lautmann het bevind die sterftesyfer van homoseksuele persone in konsentrasiekampe was moontlik tot 60%.[50] Gay mans in die kampe het buitengewone wreedheid van hulle wagte ervaar en is dikwels as proefkonyne in mediese eksperimente gebruik, aangesien wetenskaplikes probeer het om ’n "genesing" vir homoseksualiteit te vind.[51]

Remove ads

Wettige status in die moderne gemeenskap

Afrika

Thumb
Binyavanga Wainaina (regs), 'n Keniaanse skrywer wat in 2014 uit die kas geklim het uit reaksie op 'n vlaag wette teen gays in Afrika.

Daar is 54 nasies in Afrika wat deur die Verenigde Nasies en/of die Afrika-unie erken word. In 34 van dié state is manlike homoseksualiteit onwettig.[52] In ’n verslag van 2015 het die menseregtewaghond Human Rights Watch opgemerk manlike homoseksualiteit in Benin en die Sentraal-Afrikaanse Republiek is nie eksplisiet onwettig nie, maar dat albei lande wette het wat anders toegepas word op gay mans as op heteroseksuele mans.[53] In Mauritanië, Nood-Nigerië, Somaliland en Somalië is manlike homoseksualiteit met die dood strafbaar.[52][54]

In Sierra Leone, Tanzanië en Uganda ontvang gay mans lewenslange gevangenisstraf vir homoseksuele dade, hoewel die wet nie in Sierra Leone gereeld toegepas word nie. In Nigerië maak wetgewing dit ook onwettig vir familielede, bondgenote en vriende van gay mans om openlik ondersteuning vir homoseksualiteit uit te spreek, en die land is algemeen bekend vir sy "koue" houding teenoor gay mans.[55][56] Die Nigeriese wet bepaal dat enige heteroseksuele persoon "wat ’n homoseksuele daad toelaat, bywoon, aanhelp of bevorder" ’n tronkstraf van 10 jaar moet ontvang.[57] In Uganda het Christen-fundamentalistiese organisasies van die Verenigde State die sogenaamde Kill the Gays-wetgewing befonds, wat die doodstraf vir gay mans sou instel.[58] Die wetsontwerp is in 2014 deur die Hooggeregshof van Uganda as ongrondwetlik verklaar, maar dit ondervind steeds steun in die land en is weer oorweeg vir implementering.[59][60]

Van al die lande in Afrika suid van die Sahara het Suid-Afrika die liberaalste houding teenoor gay mans. In 2006 het Suid-Afrika die vyfde land ter wêreld geword wat selfdegeslaghuwelike gewettig het, en die Grondwet van Suid-Afrika waarborg gay mans en lesbiese vroue volle gelyke regte en beskerming. Suid-Afrika is die enigste land in Afrika waar diskriminasie teen LGBT-mense grondwetlik verbied word. Sosiale diskriminasie teenoor Suid-Afrikaanse gay mans bestaan egter steeds in plattelandse gebiede, waar sterk godsdienstige tradisies steeds vooroordeel en geweld aanwakker.[61]

Karibiese gebied

Thumb
Die Jamaikaanse rapper Buju Banton is al gekritiseer oor gewelddadige homofobiese boodskappe in sy musiek.[62]

Op die vasteland van die Amerikas (sowel Noord- as Suid-Amerika) is manlike homoseksualiteit wettig in elke land (behalwe Guyana). Op die Karibiese eilande het nege lande egter strafwetgewing vir "sodomie" op hulle wetboeke.[52] Dié lande sluit in Barbados, Dominica, St. Kitts en Nevis, Grenada, Sint Lucia, Antigua en Barbuda, Guyana en Jamaika. In Jamaika is seksuele omgang tussen mans wetlik strafbaar met tronkstraf, hoewel die herroeping van die wet hangende is. Seksuele omgang tussen vroue is reeds wettig,[63] hoewel lesbiese vroue steeds 'n hoë vlak van sosiale stigma ervaar.[64]

In Jamaika is daar verslae van wraak teen en die marteling van gay mans deur die Jamaikaanse polisie. In 2013 het Amnestie Internasionaal berig "gay mans en lesbiese vroue is geslaan, gesny, verbrand, verkrag en geskiet bloot oor hul seksualiteit... Ons is bekommerd dat hierdie verslae slegs die punt van die ysberg is. Baie gay mans en vroue in Jamaika is te bang om na die owerhede te gaan en hulp te soek." [65] As gevolg van dié geweld het honderde gay mans al uit Jamaika probeer emigreer na lande met beter menseregterekords.[66] ’n 2016-peiling het getoon dat 88 persent van die ondervraagdes homoseksualiteit afkeur,[67] hoewel diskriminerende houdings sedert 2018 effens afgeneem het.[68]

In die Karibiese gebied, soos in ander ontwikkelende lande wêreldwyd, word homoseksuele identiteit dikwels verbind met verwestering,[69] en gevolglik word homofobie soms beskou as ’n vorm van antikoloniale weerstand. Wayne Marshall het geskryf gay mans word beskou as "dekadente produkte van die Weste" en "moet dus teengestaan word saam met ander vorme van kolonisasie, kultureel of polities".[70] Wayne noem as voorbeeld die Jamaikaanse dancehall-treffer "Dem Bow" deur Shabba Ranks, wat 'n beroep doen om die gewelddadige moord van gay mans saam met ’n oproep vir "vryheid vir swart mense". Marshall wys op die ironie van hierdie ideologiese posisie, aangesien daar historiese bewyse is dat homofobie oorspronklik deur Europese koloniseerders na die kolonies gebring is.[71]

Oos-Europa

Thumb
Aktiviste voer 'n toneel op van Tsjetsjniese ma's wat treur oor hulle verdwene seuns, wat in LGBT- en Tsjetsjniese vlae gedrapeer is.

In Oos-Europa was daar oor die afgelope dekade ’n stadige agteruitgang in regte vir gay mans. In Tsjetsjnië is gay mans onderwerp aan geheime ontvoering, aanhouding, marteling en onwettige teregstellings deur die owerhede. ’n Onbekende aantal mans, aangehou op grond van vermoedens dat hulle gay of biseksueel is, het gesterf terwyl hulle in konsentrasiekampe aangehou is.[72][73] Onafhanklike media en menseregtegroepe het berig gay mans word na geheime kampe in Tsjetsjnië gestuur wat deur een ooggetuie beskryf is as "'n geslote tronk waarvan niemand amptelik weet nie".[74] Sommige gay mans het probeer om uit die streek te vlug, maar is deur die Russiese polisie in hegtenis geneem en na Tsjetsjnië teruggestuur.[75] Daar is ook berigte dat tronkbeamptes van die kampe beskuldigdes vrygelaat het nadat hulle families hulle verseker het dat hulle hulle seuns sou doodmaak (minstens een man is volgens ’n ooggetuie dood ná sy terugkeer huis toe).[74] Dié aangehoudenes word in uiters benarde omstandighede aangehou, met 30 tot 40 mense in een kamer van net twee tot drie meter groot, en min van hulle kry ooit ’n verhoor.

Ooggetuies het verder berig die gay mans word gereeld geslaan, gemartel en deur tronkwagte in die gesig gespoeg.[74] In sommige gevalle het die martelings tot die dood van die slagoffers gelei.[76][77] Teen 2021 het die situasie in Tsjetsjnië vir gay mans voortgegaan om te versleg.[78]

In ander lande in Oos-Europa gaan regte vir gay mans steeds agteruit. Die Poolse president, Andrzej Duda, het belowe om onderwys oor gay mans by skole en selfdegeslaghuwelike en -aannemings te verbied en "LGBT-vrye sones" te stig.[79] ’n 2017-peiling deur die Pew-navorsingsentrum het bevind die meerderheid Ortodokse Christene in die Oos-Europese lande en voormalige Sowjetstate wat ondervra is, glo homoseksualiteit “moet nie deur die samelewing aanvaar word nie”; 45% van Ortodokse Christene in Griekeland en 31% in die Verenigde State het dieselfde geantwoord.[80]

Suidwes-Asië en Noord-Afrika

Thumb
Abdellah Taïa het geskryf oor die mishandeling wat hy as gay kind in Marokko ervaar het.[81]

In Suidwes-Asië en Noord-Afrika word gay mans aan van die strengste en vyandelikste wette in die wêreld onderwerp. Seks tussen mans is eksplisiet onwettig in 10 van die 18 Midde-Oosterse lande en is in ses van hulle met die dood strafbaar. Volgens kenners het die onlangse populêre neiging tot Islamitiese fundamentalisme ’n groot invloed op die ekstreme geweld teen gay mans gehad. Hoewel alle selfdegeslag-aktiwiteite wettig is in Bahrein, Siprus, die Wesoewer, Turkye, Libanon, Israel, Jordanië en Irak, is manlike homoseksualiteit onwettig en strafbaar met gevangenisstraf in Sirië, Oman, Katar, Koeweit en Egipte.

Israel is die gevorderdste land ten opsigte van LGBT-regte en erkenning van ongeregistreerde saamwoonverhoudings; dit het egter kritiek ontvang van akademici soos Sarah Schulman en Jason Ritchie dat hy simpatie vir sy eie voordeel veins.[82][83] Hoewel selfdegeslaghuwelike nie in die land wettig is nie, is daar openbare steun vir die erkenning en registrasie van selfdegeslaghuwelike wat in ander lande voltrek is.[84]

Mans wat by selfdegeslag-aktiwiteit betrokke is, kan ook met die dood gestraf word in die VAE, Saoedi-Arabië en Iran. In die Gasastrook en Jemen wissel die straf vir manlike homoseksualiteit tussen die dood en gevangenisstraf, afhangend van die daad wat gepleeg is. In 2018 het ’n transnasionale opname wat deur die Pew-navorsingsentrum in die streek uitgevoer is, bevind 80% van die mense wat ondervra is, glo homoseksualiteit is "moreel onaanvaarbaar".[85] Ander voer aan die werklike aantal mense wat regte vir gay mans ondersteun, is onbekend weens vrees vir vergelding en straf.[86]

Remove ads

Kuns en kultuur

Mode

Thumb
McQueen, herfs 2008

Sedert die vroeë 20ste eeu het gay mans – hetsy openlik of in die geheim – van die wêreld se invloedrykste modeontwerpers geword en sommige van die belangrikste modehuise gestig. Die Franse modeontwerper Christian Dior (geb. 1905) was ’n uiters invloedryke modeontwerper van die 20ste eeu.[87] Dior het nooit getrou nie en het ook nooit openlik as gay geïdentifiseer nie, maar was bekend daarvoor dat hy gereeld die gay kultuurtoneel in Parys besoek het, en is berug beskryf deur Coco Chanel as iemand wat nooit intiem met ’n vrou was nie.[88][89]

Yves Saint Laurent (geb. 1935), wat ook beskou word as een van die belangrikste modeontwerpers van die 20ste eeu,[90] was openlik gay; sy lewensmaat vir baie jare was Pierre Bergé.[91]

Gianni Versace (geb. 1946), ’n Italiaanse modeontwerper en stigter van Versace, het in Julie 1995 tydens ’n onderhoud met The Advocate openlik uit die kas geklim.[92] Versace is in 1997 vermoor.[93]

’n Jonger generasie gay mans het in die laat 20ste en vroeë 21ste eeu op die voorgrond getree in die modewêreld. Tom Ford (geb. 1961) het sy handelsmerk Tom Ford in 2005 gestig, en het verklaar dat hy besef het hy is gay toe hy as jong man Studio 54 in die 1980’s besoek het.[94][95]

Alexander McQueen (geb. 1969), wat ook openlik gay was, het sy eie handelsmerk in 1992 gestig en is beskou as ’n modewonderkind vir sy baanbrekende ontwerpe.[96] McQueen het gesê hy het op sesjarige ouderdom besef wat sy seksuele oriëntasie is.[97] Hy het in 2010 selfdood gepleeg.

In onlangse jare het gay mans voortgegaan om van die invloedrykste modes in die wêreld te skep, onder andere ontwerpers soos Jeremy Scott (geb. 1975), Jason Wu (geb. 1982) en Alexander Wang (geb. 1983).[98][99]

Kuns

Thumb
Thumb
Thumb
Thumb
Kloksgewys van links bo: "Unfromme Wünsche" deur Matthias Laurenz Gräff; Keith Haring in 1986 in Harlem; "Darya Zhukova" deur Alexander Kargaltsev; en die Amerikaanse kunstenaar Andy Warhol in die staatsmuseum Moderna Museet, Stockholm.

In die 20ste eeu was gay mans onder die Westerse wêreld se invloedrykste en produktiefste kunstenaars, skrywers en dansers. In die Verenigde State is James Baldwin (geb. 1924) teen die middel van die eeu beskou as een van die beste skrywers van sy generasie.[100] Sy werk, insluitend Giovanni's Room (1956), het homoseksualiteit en biseksualiteit openlik behandel in ’n tyd toe seks tussen mans in groot dele van die Westerse wêreld steeds onwettig was.[101]

Ander groot kunstenaars van Baldwin se generasie, insluitend Robert Rauschenberg (geb. 1925) en Jasper Johns (geb. 1930), was minder openlik oor hul seksualiteit,[102] en het selfs ander jong gay kunstenaars van hulle tyd, soos Andy Warhol, bespot omdat hulle glo te verwyfd was.[103]

In die wêreld van New Yorkse dans het Alvin Ailey (geb. 1931) teater, moderne dans, ballet en jazz vermeng met swart volkstradisies, en sy choreografiese meesterstuk Revelations word erken as een van die gewildste en mees opgevoerde ballette ter wêreld.[104] Ailey het vir die grootste deel van sy lewe in die kas gebly, maar is op 58 aan ’n vigsverwante siekte oorlede.[105]

David Hockney (geb. 1937), nog ’n groot kunstenaar van die Stille Generasie, was ’n belangrike bydraer tot die popkunsbeweging van die 1960's en word beskou as een van die invloedrykste Britse kunstenaars van die 20ste eeu. Hy was vir die grootste deel van sy lewe openlik gay.[106]

Baie van die invloedrykste gay en biseksuele kunstenaars van die Boomer- en Generation X-generasie het op baie jong ouderdomme gesterf tydens die vigskrisis, insluitend Carlos Almaraz (geb. 1941), Robert Mapplethorpe (geb. 1946), Félix González-Torres (geb. 1957) en Keith Haring (geb. 1958). Baie van die kuns van die vigskrisis was uiters polities en krities teenoor die Amerikaanse regering, en is beskryf as “bang, woedend, angstig en uitdagend.”[107]

In die nasleep van die MIV/vigsepidemie het gay mans en ander queer kunstenaars ’n nuwe vorm van eksperimentele rolprentkuns ontwikkel genaamd Nuwe Queer-rolprentkuns.[108][109] Vandag is gay mans soos Mark Bradford, Julio Salgado en Kehinde Wiley onder die invloedrykste kunstenaars van hulle generasie.[110]

Buite die Weste word kuns met temas van gay manlike seksualiteit steeds as taboe beskou. In Singapoer, wat tot in 2022 alle seksuele dade tussen mans gekriminaliseer het,[111] word kuns deur gay mans as teenkultureel beskou. Gay mans in Singapoer is histories negatief uitgebeeld in plaaslike hoofstroommedia, en pogings om hierdie diskriminasie teen te werk is bemoeilik deur die risiko van tronkstraf en sensuur deur die staat.[111][112]

Fopdossery

Thumb
Post-Modern Art Attack.

Fopdossers (drag queens) is 'n belangrike deel van die gewilde kultuur van gay mans en tree dikwels in gay kroeë of op Gay Pride-parades op. Fopdossers dra vroueklere en grimering om vroue na te boots, en oordryf dikwels as deel van 'n opvoering wat vir artistieke of vermaakdoeleindes gebruik word. Vertonings sluit dikwels lipsinchronisasie, dans en regstreekse sang in. Fopdossers verskil in toewyding, tipe en kultuur, en wissel van professionele persone wat in rolprente en op Broadway optree, soos Divine of RuPaul, tot mense wat dit net af en toe doen.

Fopdosserballe self het ’n lang geskiedenis onder gay mans in die Verenigde State.[113] In 1869 is die eerste een in Harlem gehou. Hulle is in die geheim gehou, maar nuus van hulle bestaan het versprei as ’n veilige plek waar gay mans kon bymekaarkom.[113] Die balle is as immoreel en onwettig beskou, en ’n morele hervormingsorganisasie genaamd die Committee of Fourteen het beweerde "immorele" aktiwiteite ondersoek.[113] In 1916 het die komitee ’n verslag uitgereik oor “fenomenale ... manlike perverte in duur rokke en pruike wat soos vroue lyk”.[113]

Teen die 1920's het die balle openbaar sigbaarder geword. In New York is die geleenthede deur die algemene publiek as faggots balls bestempel.[113] Die balle het egter ook van die stad se voorste kunstenaars en skrywers gelok.[113] Dié bloeitydperk van die gay lewe in die 1920's en '30's was deel van ’n era wat bekend gestaan het as die Pansy Craze.[114]

Meer onlangs het die rolprent Paris is Burning (1990) die fopdosserbaltoneel van New York uitgebeeld en die lewens en ervarings van 'n groep jong "butch queens" (cisgender gay mans), trans vroue, fopdossers en "butch" vroue gewys. Sedert die uitreiking het dit 'n klassieke kultusrolprent geword en is dit gebruik as ’n organiserings- en akademiese hulpmiddel vir die gay en trans gemeenskappe (alhoewel dit ook beduidende kritiek ontlok het).[115]

Intussen word die televisierealiteitsprogram RuPaul's Drag Race sedert 2009 in Amerika uitgesaai en het dit die heteroseksuele hoofstroom bekendgestel aan gay mans se populêre kultuur deur fopdossery. Die oorspronklike Amerikaanse reeks het intussen ontwikkel tot die wêreldwye Drag Race-franchise.

In die 2020's het ’n vlaag anti-LGBT-reaksie in die Verenigde State gelei tot wat bekend staan as die drag panic.[116] As deel van dié teenreaksie het sommige VSA-state, soos Tennessee, die openbare uitvoering van fopdossery gekriminaliseer.[117]

Remove ads

Gemeenskap en identiteit

Subkulture

Thumb
Twee jong gay mans by die Taiwan Pride.

In Noord-Amerika en Europa het gay mans verskeie subkulture, soos twinks, bears, otters, queens, jocks, gaymers, ensovoorts.[118] Volgens kenners het dié subkulture, wat grotendeels as deel van 'n "gay Amerikaanse leefstyl" ontstaan het, op sommige maniere 'n "globale templaat" geword vir gay kultuur regoor die wêreld.[119]

In Indië, waar ’n gay kultuur stadig begin ontwikkel "ten spyte van antigaywaardes, die kastestelsel, gereëlde huwelike en die hoë waarskynlikheid om onterf te word as jy uit die kas klim", is daar gay mans wat werk aan die ontwikkeling van ’n volwasse en kenmerkend Indiese kultuur terwyl hulle ook aspekte van die globale gay kultuur aanneem.[120] Een Indiese gay man wat homself as 'n "bear" identifiseer, het in ’n onderhoud gesê: "Omdat straight mense my sien met growwe ringe en armbande, heavy metal-T-hemde en op ’n Harley Davidson, pas dit nie in by die Indiese stereotipe van ’n verwyfde gay nie. Al het ek niks teen verwyfdheid nie is nie alle gay mans so nie... ’n Bear-kultuur in Indië sal meer mans gemaklik laat voel om uit die kas te klim en hulle help om die strik van ’n beeldreddende soort heteroseksuele huwelik te vermy."[121]

In die Verenigde Koninkryk het joernaliste die rol uitgelig wat mobiele apps soos Grindr speel in die skep van selfsegregerende subkulture binne gay manlike gemeenskappe.[122]

Thumb
'n Jeugdige by 'n Gay Pride-optog in Washington, D.C.

Jeug

Gay adolessente, seuns en jong mans is ’n uniek kwesbare segment van die gay manlike bevolking. In baie lande is identiteitskwessies, afknouery en ’n gebrek aan gesinsaanvaarding van die belangrikste uitdagings waarmee die gay jeug te kampe het.[123][124]

Daarbenewens word gay seuns en adolessente wêreldwyd gereeld aan meer uiterste vorme van geweld onderwerp, insluitend konversieterapie,[125] gesinsgeweld,[126][127] en ander vorme van fisieke mishandeling.[128]

Dié kwessies het 'n skadelike uitwerking op die welstand van gay en biseksuele seuns en jongmense. In die Verenigde State het ’n 2019-verslag bevind selfmoordgedagtes onder gay en biseksuele seuns en adolessente is tot 40,4%.[129]

Ouers se ondersteuning kan egter ’n belangrike rol speel in die verbetering van gesondheidsuitkomste vir gay en biseksuele jeug, en die waarskynlikheid verminder dat ’n gay tiener "depressie ervaar; selfmoord probeer pleeg; dwelms en alkohol gebruik; of seksueel oordraagbare infeksies opdoen.”[130]

Vir opvoeders is programme vir die ontwikkeling van portuurgroepondersteuning voorgestel as maniere om die frekwensie en uitwerking van afknouery en kuberaftakeling te verminder.[131] Skotland is tans die enigste land in die wêreld met ’n verpligte LGBTQ-inklusiewe kurrikulum in sy openbare skoolstelsel.[132]

Vaderskap

Thumb
Twee pa's met hulle kind.
Thumb
Twee ouer gay mans in Maart 2010.

In die meeste lande word aanneming deur selfdegeslagpaartjies nie wetlik toegelaat nie. In Wes-Europa, die grootste deel van Noord- en Suid-Amerika en Suid-Afrika kan gay mans egter op verskeie maniere pa word, insluitend aanneming, surrogate en geboortes uit vorige verhoudings. In onlangse jare het prominente gay mans soos Anderson Cooper en Elton John hoofopskrifte gehaal deur pa te word,[133][134] en gay mans word al hoe meer op televisie as pa's uitgebeeld (hoewel dié voorstellings al gekritiseer is omdat hulle eendimensioneel is).[135]

Ondanks dié vooruitgang in sigbaarheid en verteenwoordiging, ervaar gay pa's en hulle gesinne steeds hoë vlakke van diskriminasie en sosiale stigma van hulle familielede, bure en ander lede van hulle gemeenskap.[136][137]

Ouderdom

Ouer gay mans is een van die groepe binne die gay mansgemeenskap wat die minste bestudeer is. In Mexiko het Vida Alegre in 2019 geopen as die eerste oord vir LGBT-bejaardes in die land.[138] Volgens die oord se stigter, Samantha Flores, is eensaamheid 'n groot probleem vir baie ouer gay mans in Mexiko. Sy sê: "Ek het ouer gay mans sien inkom wat hulle harte by my uitstort oor hoe ongelukkig hulle is... Hulle het gewoonlik nie kinders nie, en baie se families het hulle verstoot. Hulle moet dus steun op selfgekose families of vriende vir sosiale kontak."[138] Volgens Flores leef baie van hierdie ouer gay mans in Mexiko ook met posttraumatiese stressteuring weens al die vriende en lewensmaats wat hulle tydens die vigsepidemie verloor het.[138]

In Frankryk het Sébastien Lifshitz die dokumentêr Les Invisibles ("Die Onsigbares") in 2012 vervaardig oor bejaarde gay mense in Frankryk. Hy het beduidende ideologiese verskille tussen jonger en ouer gay mense gevind.[139] Lifshitz sê: "Wat belangrik is om te verstaan, is dat hierdie ouer generasie gay mense in Frankryk met alle mag geveg het teen die heteroseksuele, burgerlike model van die Franse samelewing. Die feit dat daar baie jonger gay paartjies is wat vandag die reg eis om te trou en kinders aan te neem, is iets wat die ouer gay generasie verstaan, maar nie vir hulself begeer nie."[139]

In die Verenigde State het navorsers gevind die meeste ouer gay Amerikaanse mans is nie "vreemde, eensame skepsels" nie, maar eerder "goed aangepas by hulle homoseksualiteit en die verouderingsproses".[140]

Gestremdheid

Thumb
'n Gay man in 'n rolstoel by London Pride 2016.

Gay mans met gestremdhede sê hulle voel ongemaklik weens sosiale verwagtings rondom fisieke voorkoms en konvensionele standaarde van aantreklikheid.[141] Een man, Aaron Anderson, wat Guillain-Barré-sindroom het, sê: "Gay mans is so gekondisioneer dat alles perfek moet wees. Jy moet alles hê. [My liggaam] is glad nie perfek nie. Die gay mans wat ek ken, weet nie hoe om dit [my gestremdheid] te hanteer nie. Hulle maak asof dit nie bestaan nie, en oppervlakkige kennisse ignoreer my eenvoudig."[141] Gay mans met gestremdhede merk ook op dat lede van die gestremde gemeenskap dikwels deur die samelewing gedeseksualiseer voel.[141] Hierdie deseksualisering kan ernstige gevolge inhou vir die gesondheid van gay mans met gestremdhede.

Jae Jin Pak van die Universiteit van Illinois in Chicago het opgemerk akkurate seksuele opvoeding en inligting rakende seksualiteit is oor die algemeen nie beskikbaar vir lede van die gestremde gemeenskap nie,[141] en dit kan mans in die gemeenskap sonder inligting oor veiligesekspraktyke laat. Intussen beklemtoon navorsers binne die veld van gestremdheidstudies die belangrikheid daarvan om ’n openbare identiteit en ’n gemeenskaplike kultuur vir gay mans met gestremdhede te vestig.[142]

In onlangse jare het queer mans met gestremdhede 'n mate van sigbaarheid in hoofstroommedia verkry, onder meer deur Ryan O'Connell se Netflix-reeks van 2019, Special, en die aanlyn gewildheid van die seksueel veranderlike Amerikaanse model Nyle DiMarco.

Remove ads

Gesondheid

Mishandeling

Thumb
Gay mans is meer geneig om mishandel te word, maar minder geneig om hulp te soek.

Gay mans loop 'n hoër risiko om fisiek en seksueel mishandel te word, veral dié wat vroeg reeds genderniekonformerende gedrag (vroulikheid) toon.[143] In 'n rubriek vir die New York Times het die gay Marokkaanse skrywer Abdellah Taïa oor sy eie ervaring as 'n vroulike seun geskryf: "Ek het geweet wat met seuns soos ek gebeur in ons verarmde samelewing; hulle was aangewese slagoffers om, met almal se seën, as maklike seksuele voorwerpe deur gefrustreerde mans gebruik te word."[81] Gay mans is minder geneig as vroue om hulp vir geestesgesondheid te soek, dikwels as gevolg van sosiale stigma en foutiewe oortuigings rondom seksuele aanranding, soos "mans kan nie gedwing word om seks te hê nie" en "mans word gay of biseksueel omdat hulle seksueel mishandel is".[144]

Seksuele gesondheid

MSM (mans wat met ander mans seks het) ervaar wêreldwyd beduidende uitdagings ten opsigte van hul algehele seksuele gesondheid. Volgens ’n verslag het MSM ’n “onthutsende” 27-voudig hoër risiko om MIV op te doen as ander demografiese groepe, en die hoogste voorkoms onder hierdie bevolking word gevind in Afrika suid van die Sahara.[145]

Thumb
'n Plakkaat in Viëtnam wat veilige seks bepleit.

Nuwe MIV-infeksietempo’s vir MSM verskil van streek tot streek, maar volgens ’n VN-verslag van 2018 verteenwoordig MIV-gevalle onder MSM 57% van alle nuwe gevalle in Noord-Amerika en Sentraal- en Wes-Europa; 41% van nuwe gevalle in Latyns-Amerika; 25% in Asië, die Pasifiese eilande en die Karibiese streek; 20% in Oos-Europa, Sentraal-Asië, Noord-Afrika en die Midde-Oste; en 12% in Wes- en Sentraal-Afrika.[146]

In lande met uiteenlopende rassebevolkings, soos die VSA, Frankryk en die VK, word nuwe HIV-infeksies onder gay en biseksuele mans buite verhouding aangetref in die werkersklas en gemeenskappe van kleur.[147][148] In die Verenigde State is daar tans volskaalse MIV-krisisse onder gay Chicano- en Latino-mans in die grensgebied tussen die VSA en Mexiko,[149] en onder Afro-Amerikaanse MSM in die suide van Amerika.[150]

In die Suide is swart gay, biseksuele en ander MSM verantwoordelik vir ses uit elke tien nuwe MIV-diagnoses onder alle Afro-Amerikaners.[150] In onlangse jare het onafhanklike nuusbronne getoon dat gay, swart en Latino-mans van die werkersklas in die VSA noemenswaardige ongelykhede in dié krisisse ervaar.[151][152] Dit het egter, soos elders in die wêreld, vererger namate dié mense buite verhouding deur die globale Covid-19-pandemie beïnvloed is.[153]

Jong gay, biseksuele en ander MSM loop ook 'n aansienlik hoër risiko vir ander probleme met seksuele gesondheid. Omdat kompulsiewe seksuele gedrag ook sterk met depressie verbind word,[154] loop jong MSM wat buitengewoon geneig is tot kliniese depressie[155][156] ’n verhoogde risiko vir seksueel oordraagbare infeksies (SOI) weens onveilige seks.[157] Onder MSM is daar 'n hoër voorkoms van SOI, insluitend chlamydia en gonorree, en in die Verenigde State is hulle verantwoordelik vir 83% van alle gevalle van sifilis.[158]

Geestesgesondheid

Daar is beduidende kwessies wat die algehele geestesgesondheid van gay mans beïnvloed. In die VSA rapporteer 29,3% van gay en biseksuele mans dat hulle chroniese daaglikse sielkundige nood ervaar.[144] Hulle word blootgestel aan beduidende minderheidstres, wat die voortdurende blootstelling aan stresfaktore is as gevolg van hul minderheidsidentiteit in die samelewing.[144] Gesins- en sosiale verwerping, homofobie, vervreemding en isolasie kan bydra tot geestesgesondheidsprobleme soos angs, depressie en ’n gebrek aan selfaanvaarding.[144] Daar is bevind dat hierdie probleme vererger word by gay mans wat seksuele mishandeling ervaar het.[144]

Selfs in lande met sosiale en wetlike beskerming vir gay mans, soos die Verenigde Koninkryk, Frankryk en die VSA, duur strukturele samelewingstigma teen homoseksuele mans voort, en diskriminasie het volgens bewyse negatiewe gevolge vir die geestesgesondheid van gay mans.[159] Trouens, in vergelyking met heteroseksuele mans, het gay en biseksuele mans ’n groter kans om beide kliniese depressie en angssteuring te hê.[159]

Gay en biseksuele mans loop ook ’n groter risiko om weens selfmoord te sterf.[160] Hulle is een van die demografiese groepe wat die meeste geneig is om selfdood te probeer pleeg, sowel as om werklik weens selfdood te sterf.[159]

Laastens het MIV-positiewe status steeds ’n groot impak op die geestesgesondheid van baie gay en biseksuele mans wat vrees om hulle status aan werkgewers, vriende en familie bekend te maak – veral as hulle nog nie uit die kas geklim het nie.[159]

Remove ads

Sien ook

Verwysings

Skakels

Loading related searches...

Wikiwand - on

Seamless Wikipedia browsing. On steroids.

Remove ads