Ruimtebotsing
From Wikipedia, the free encyclopedia
Remove ads
'n Ruimtebotsing is 'n impak tussen hemelliggame wat 'n groot uitwerking het.[1] Botsings kom gereeld in planeetstelsels voor, hoewel asteroïede, komete en meteoroïede in die meeste gevalle betrokke is en 'n klein uitwerking het.

Wanneer groot voorwerpe planete soos die Aarde tref, kan daar aansienlike fisiese en biosferiese gevolge wees, want die voorwerp wat bots, trek gewoonlik teen verskeie kilometers per sekonde ('n minimum van 11,2 km/s vir 'n voorwerp wat teen die Aarde bots).[2] Atmosfere versag egter baie impakte. Slagkraters en -strukture is dominante landvorme op baie van die Sonnestelsel se soliede voorwerpe.
Dit lyk of botsings 'n groot rol in die evolusie van die Sonnestelsel gespeel het sedert dit gevorm het. Groot impakvoorvalle het die Aarde se geskiedenis aansienlik help vorm, vermoedelik ook die ontstaan van die Aarde-Maan-stelsel. Impakte kon ook 'n aansienlike rol gespeel het in die evolusiegeskiedenis van lewe. Botsings het dalk die boustene help bring vir lewe (volgens die panspermieteorie) en was moontlik die oorsprong van water op Aarde. Verder het hulle help lei tot verskeie uitsterwingsvoorvalle. Die prehistoriese Chicxulub-impak 66 miljoen jaar gelede het waarskynlik nie net die nievlieënde dinosourusse laat uitsterf nie,[3] maar ook die evolusie van soogdiere help versnel, wat gelei het tot hulle oorheersing en eindelik die ontstaan van die mens.[4]
Deur die aangetekende geskiedenis is honderde botsings met die Aarde (en ontploffende boliede) gerapporteer, waarvan sommige beserings of skade veroorsaak het.[5] Een van die bekendste aangetekende voorvalle in moderne tye was die Toengoeska-voorval, wat in 1908 in Siberië, Rusland, plaagevind het. Die Tsjeljabinsk-meteoorvoorval van 2013 is die enigste moderne sodanige gebeurtenis wat tot talle beserings gelei het. Sy meteoor is die grootste aangetekende voorwerp wat die atmosfeer binnegekom het sedert die Toengoeska-voorval.
Die komeet Shoemaker-Levy 9 het die eerste geleentheid gebied om te sien hoe 'n voorwerp in die Sonnestelsel getref word toe dit opbreek en in Julie 1994 teen Jupiter bots. 'n Ekstrasolêre impak is in 2013 waargeneem toe 'n groot planeetbotsing om die ster ID8 in die sterreswerm NGC 2547 deur Nasa se Spitzer-ruimteteleskoop gesien en deur grondwaarnemings bevestig is.[6]
In April 2018 het die Amerikaanse B612-stigting berig: "Dit is 100 persent seker dat ons deur 'n verwoestende asteroïed getref sal word, maar ons is nie 100 persent seker wanneer nie."[7] Die fisikus Stephen Hawking het ook in 2018 in sy laaste boek, Brief Answers to the Big Questions, gesê 'n asteroïedbotsing is die grootste bedreiging vir die Aarde.[8][9]
In Junie 2018 het die Amerikaanse National Science and Technology Council gewaarsku Amerika is onvoorbereid vir 'n asteroïedbotsing. Dit het die "National Near-Earth Object Preparedness Strategy Action Plan" daargestel om beter daarop voor te berei.[10] Volgens die getuienis van kenners in die Amerikaanse Kongres in 2013 sou Nasa minstens vyf jaar nodig hê vir 'n sending om 'n asteroïed weg te keer.[11] Op 26 September 2022 het die Double Asteroid Redirection Test die afkering van 'n asteroïed gedemonstreer. Dit was die eerste sodanige eksperiment deur die mens en is as hoogs suksesvol beskou. Die wentelperiode van die asteroïedmaan Dimorfos is met 32 minute verander. Die kriterium vir sukses was 73 sekondes.
Remove ads
Impakvoorvalle en die Aarde

Groot botsings het die Aarde se geskiedenis help vorm. Dit het waarskynlik gelei tot die ontstaan van die Aarde-Maan-stelsel, die evolusionêre geskiedenis van lewe, die oorsprong van water en verskeie groot uitsterwingsvoorvalle.
Impakstrukture is die gevolg van impakvoorvalle op soliede voorwerpe. As die oorheersende landvorme op baie van die Sonnestelsel se soliede voorwerpe, verteenwoordig dit die beste bewyse van prehistoriese gebeure.
Noemenswaardige botsings sluit in die Groot Bombardement, wat vroeg in die geskiedenis van die Aarde-Maan-stelsel voorgekom het, en die bevestigde Chicxulub-impak van 66 miljoen jaar gelede wat waarskynlik die Kryt-Paleogeen-uitwissingsvoorval veroorsaak het.
Frekwensie en risiko

Klein voorwerpe bots gereeld teen die Aarde. Daar is 'n omgekeerde verhouding tussen die grootte van die voorwerp en die frekwensie van sulke voorvalle.[12] Asteroïede met 'n deursnee van 1 km tref die Aarde gemiddeld elke 500 000 jaar.[13][14] Groot botsings van voorwerpe met 'n deursnee van 5 km gebeur sowat elke 20 miljoen jaar.[15] Die laaste bekende impak van 'n voorwerp van 10 km of groter was met die Kryt-Paleogeen-uitsterwing 66 miljoen jaar gelede.[16]

Die energie-opwekking van 'n voorwerp wat bots, hang af van die deursnee, digtheid, snelheid en hoek.[15] Die deursnee van die meeste nabyaardevoorwerpe wat nie deur radar of infrarooi bestudeer is nie, kan gewoonlik net geraam word aan die hand van die helderheid daarvan. Die digtheid word gewoonlik aangeneem, want die deursnee en massa, waarvan die digtheid bereken word, word ook gewoonlik geraam. Vanweë die Aarde se ontsnappingsnelheid (net meer as 11 km/s) is die minimum impaksnelheid op die Aarde sowat 11 km/s.[15] Die waarskynlikste hoek is 45 grade.[15]
Die grootte, snelheid, digtheid en impakhoek bepaal ook die kinetiese energie wat met 'n botsing opgewek word. Hoe groter die energie, hoe meer skade vind waarskynlik op die grond plaas. Sulke effekte kan skokgolwe, hitte-uitstraling en die vorming van kraters en gevolglike aardbewings wees, asook tsoenami's as die voorwerp die water tref. Menslike bevolkings is kwesbaar vir dié effekte as hulle binne die sone woon wat getref word.[1] Groot staande golwe binne ingeperkte waterliggame weens aardbewings en die grootskaalse neerdaling van puin kan ook binne minute van die botsing voorkom, duisende kiolometers daarvandaan.[17]
Geologiese belangrikheid
Impakvoorvalle het gedurende die geskiedenis van die Aarde 'n belangrike geologies en klimatologiese uitwerking gehad.[18][19] Die Maan se bestaan word algemeen toegeskryf aan 'n groot botsing vroeg in die Aarde se geskiedenis.[20] Impakvoorvalle vroeër in die Aarde se geskiedenis het skeppende sowel as verwoestende gevolge gehad; daar is voorgestel dat botsende komete die Aarde se water hierheen gebring het en dat die oorsprong van lewe beïnvloed is deur botsende voowerpe wat organiese chemikalieë na die Aarde se oppervlak gebring het.

Dié veranderde sienings van die Aarde se geskiedenis het eers relatief onlangs ontstaan, hoofsaaklik omdat daar vroeër 'n gebrek aan regstreekse waarnemings was en dit moeilik was om die tekens van impakvoorvalle te herken weens erosie en weerverskynsels. Grootskaalse meteorietbotsings wat byvoorbeeld die Barringer-krater in Arizona geskep het, is skaars. Eers is geglo kraters ontstaan as gevolg van vulkanisme: Die Barringer-krater is byvoorbeeld toegeskryf aan 'n vulkaanuitbarsting. Ook die kraters op die Maan se oppervlak is aan vulkanisme toegeskryf.
Eers in 1903-'05 is die Barringer-krater korrek as 'n slagkrater herken en eers in 1963 het navorsing deur Eugene Merle Shoemaker dié hipotese onteenseglik bewys. Die bevindings van die laat 20ste-eeuse ruimteverkenning en die werk van wetenskaplikes soos Shoemaker het gedemonstreer dat slagkraters verreweg die algemeenste geologiese proses was op die Sonnestelsel se soliede liggame. Daar is bevind elke soliede liggaam in die Sonnestelsel wat ondersoek is, is vol kraters, en daar was geen rede om te glo die Aarde is nie ook uit die ruimte gebombardeer nie. In die laaste paar dekades van die 20ste eeu is begin om 'n groot getal impakkraters te identifiseer. Die eerste groot regstreekse waarneming van 'n groot impakvoorval was in 1994: die botsing van die komeet Shoemaker-Levy 9 teen Jupiter.
Geskoei op kratervorming op die Maan, is bepaal die Aarde is die afgelope 600 miljoen jaar deur 60 voorwerpe getref met 'n deursnee van 5 km of meer.[13] Die kleinste een sou 'n krater van byna 100 km breed gelaat het. Net drie bevestigde kraters uit dié tyd met dié grootte of groter is gevind: Chicxulub, Popigai en Manicouagan, en daar is vermoed al drie het met uitsterwingsvoorvalle te doen gehad.[21][22] Net die grootste een, Chicxulub, word steeds oorweeg. Die impak wat die Mistastin-krater gevorm het, het temperature van meer as 2 370 °C laat ontstaan. Dit was sover bekend die hoogste temperature nog op die oppervlak van die Aarde.[23]
Benewens die regstreekse uitwerking van 'n asteroïedimpak op 'n planeet se topografie, klimaat en lewe, het onlangse studies gewys verskeie opeenvolgende impakvoorvalle kan 'n invloed hê op die dinamomeganisme by 'n planeet se kern wat verantwoordelik is vir die planeet se magneetveld, en dat dit kon bygedra het tot die huidige afwesigheid van Mars se magneetveld.[24]
Biosferiese uitwerking
Oor die uitwerking van impakvoorvalle op die biosfeer debatteer wetenskaplikes. Verskeie teorieë oor impakverwante massauitsterwings is ontwikkel. In die afgelope 500 miljoen jaar was daar sowat vyf groot massauitsterwings wat saam gemiddeld die helfte van alle spesies uitgewis het.[25] Een van die grootstes wat lewe op Aarde geraak het, was die Perm-Trias-uitwissing, wat die Perm-tydperk sowat 250 miljoen jaar gelede beëindig en 90% van alle spesies laat uitsterf het;[26] dit het 30 miljoen jaar geduur voordat lewe op Aarde herstel het.[27] Die rede vir die uitsterwing is steeds 'n saak waaroor gedebatteer word; die ouderdom en oorsprong van impakkraters wat dit volgens hipoteses veroorsaak het, is steeds omstrede.[28]
Die laaste sodanige massauitsterwing het gelei tot die dood van alle nievlieënde dinosourusse en het ooreengestem met 'n groot meteorietimpak; dit is die Kryt-Paleogeen-uitsterwing (ook genoem die K-T-uitsterwing) wat 66 miljoen jaar gelede voorgekom het. Daar is geen definitiewe bewyse dat impakvoorvalle tot die drie ander groot massauitsterwings gelei het nie.
In 1980 het die fisikus Luis Alvarez; sy seun, die geoloog Walter Alvarez; en die kernchemici Frank Asaro en Helen V. Michael van die Universiteit van Kalifornië, Berkeley ongewoon hoë konsentrasies iridium ontdek in 'n rotslaag in die aardkors. Iridium is 'n element wat seldsaam op die Aarde is, maar redelik volop in baie meteoriete voorkom. Uit die hoeveelheid en verspreiding van iridium in die rotslaag van 65 miljoen jaar oud het die Alvarez-span later geraam 'n asteroïed van 10 tot 14 km breed moes teen die Aarde gebots het. Dié iridiumlaag by die Kryt-Paleogeen-grens is wêreldwyd op 100 verskillende terreine gevind. Op meer as 30 terreine is skokkwarts wat in verskeie rigtings versprei het, ook gevind. Dit word gewoonlik verbind met groot impakvoorvalle[29] of atoombomontploffings. Daarmee saam is roet en as gevind van tienduisende kere die normale vlakke.

Afwykings in isotoopverhoudings van chroom in die K-T-grenslaag ondersteun die impakteorie.[30] Chroomisotoopverhoudings is homogeen in die Aarde, en dus sluit dié afwykings die vulkaanoorsprong uit wat al voorgestel is as 'n oorsaak van die iridiumverryking. Verder is die isotoopverhoudings van chroom wat by die K-T-grens gemeet is, soortgelyk aan dié wat in koolstofryke chondriete gevind is. Die waarskynlike kandidaat vir die impak is dus 'n koolstofryke asteroïed, hoewel 'n komeet ook 'n moontlikheid is omdat komete vermoedelik uit materiaal bestaan wat soortgelyk aan koolstofryke chondriete is.
Moontlik die oortuigendste bewys van 'n wêreldwye ramp is die ontdekking van die krater wat sedertdien die Chicxulub-krater gedoop is. Dié krater is gesentreer op die Yucatán-skiereiland van Mexiko.[31] Wat die ontdekkers gerapporteer het as 'n ronde verskynsel, het later 'n krater blyk te wees met 'n deursnee van sowat 180 km.
Dit het die meeste wetenskaplikes oortuig dat die uitsterwing deur 'n botsing veroorsaak is en nie deur 'n toename in vulkanisme en 'n klimaatsverandering nie.
Die paleontoloë David M. Raup en Jack Sepkoski het voorgestel 'n toename in uitsterwingsvoorvalle geskied rofweg elke 26 miljoen jaar (hoewel baie relatief klein is). Dit het daartoe gelei dat die fisikus Richard A. Muller voorgestel het die uitsterwings kan veroorsaak word deur 'n hipotetiese metgeselster van die Son, wat Nemesis genoem word en van tyd tot tyd die wentelbane van komete in die Oortwolk versteur, en dit lei tot 'n groot toename in die getal komete wat die binneste Sonnestelsel bereik en dalk teen die Aarde kan bots.
Die fisikus Adrian Melott en paleontoloog Richard Bambach het onlangs die bevinding van Raup en Sepkoski bevestig, maar gesê dit stem nie ooreen met die eienskappe wat van 'n Nemesis-styl periodisiteit verwag word nie.[32]
Sosiologiese en kultuuruitwerking
'n Ruimtebotsing word algemeen beskou as 'n scenario wat die einde van die beskawing teweeg kan bring. In 2000 het die tydskrif Discover 'n lys gepubliseer van 20 moontlike skielike oordeelsdagscenario's, met 'n impakvoorval as die waarskynlikste een.[33]
'n Gesamentlike meningspeiling deur die Pew-navorsingsentrum en die tyskrif Smithsonian van 21 tot 26 April 2010 het bevind 31 persent van Amerikaners glo 'n asteroïed sal teen 2050 teen die Aarde bots. Altesaam 61 persent het nie saamgestem nie.[34]
Botsings teen die Aarde
In die vroeë geskiedenis van die Aarde (sowat 4 miljard jaar gelede), was boliedimpakte vir seker algemeen, want daar was veel meer liggame in die Sonnestelsel as nou. Sulke voorvalle sou ingesluit het botsings deur asteroïede met 'n deursnee van honderde kilometers, met ontploffings wat so kragtig was dat hulle al die Aarde se oseane laat verdamp het.
Dit was oënskynlik eers toe dié groot bombardement afgeneem het dat lewe op die planeet begin ontwikkel het.
Prekambrium

Die belangrikste teorie oor die vorming van die Maan is die reusebotsingshipotese: dat 'n planeet omtrent so groot soos Mars teen die Aarde gebots het. So 'n teorie verduidelik die grootte en samestelling van die Maan, iets waarin ander teorieë nie slaag nie.[35]
Volgens die teorie van die Groot Bombardement sou daar minstens 22 000 of meer impakkraters op die Aarde moes gewees het met 'n deursnee van groter as 20 km, asook sowat 40 impakkomme met 'n deursnee van sowat 1 000 km en verskeie impakkomme met 'n deursnee van sowat 5 000 km. Honderde miljoene jare van die vervorming van die aardkors maak dit egter moeilik om kraters uit dié tydperk te identifiseer. Net twee stukke oerlae het uit dié tydperk oorgebly: die Kaapvaal-kraton (in Suid-Afrika) en die Pilbara-kraton (in Wes-Australië) waar gesoek kan word na bewyse van fisiese kraters. Ander metodes soos magnetiese ontledings is nie baie suksesvol nie.
In 2021 is 'n bewys ontdek van 'n moontlike impak 3,46 miljard jaar gelede in die see in die Pilbara-kraton in die vorm van 'n krater met 'n deursnee van 150 km, wat veroorsaak is deur 'n asteroïed van 10 km breed.[36] Die voorval het wêreldwye tsoenami's veroorsaak. Dit stem ook ooreen met sommige van die vroegste bewyse van lewe op Aarde, naamlik fossiele stromatoliete.
Bewyse van minstens vier impakvoorvalle is ontdek in lae (S1 tot S8 gedoop) uit die Barberton-groensteengordel in Suid-Afrika, wat dateer van sowat 3,5 miljard tot 3,2 miljard jaar gelede.[37] Die voorwerpe wat die kraters veroorsaak het, was vermoedelik baie groter as dié wat die grootste bekende kraters gevorm het wat nog bestaan: Hulle het 'n deursnee van sowat 20 tot 50 km gehad, en die kraters was na raming 400 tot 1 000 km breed.[38] Die grootste impakvoorvalle, soos dié in die S2-laag, het waarskynlik verreikende gevolge gehad, soos die kook van die oppervlaklae van die oseane.[39]
In 2020 het wetenskaplikes die wêreld se oudste slagkrater ontdek, die Yarrabubba-krater in die Yilgarn-kraton (Wes-Australië). Dit dateer van meer as 2,2 miljard jaar gelede en die voorwerp wat dit veroorsaak het, was sowat 7 km breed.[40][41][42] Die Aarde was in dié tyd vermoedelik nog heeltemal gevries.
Die Vredefort-impakvoorval, wat sowat 2 miljard jaar gelede in die Kaapvaal-kraton gebeur het, het die grootste bevestigde krater geskep: 'n struktuur met verskeie ringe wat 160 tot 300 km breed is. Die impaktor was sowat 10 tot 15 km breed.[43]
Paleosoïkum en Mesosoïkum
Daar word nou geglo twee asteroïede van 10 km breed het Australië tussen 360 miljoen en 300 miljoen jaar gelede getref in die westelike en oostelike Warburton-bekken, met 'n inpaksone van 400 km breed. Volgens bewyse wat in 2015 gevind is, is dit die grootstes wat nog aangeteken is.[44] 'n Derde moontlike impak is ook in 2015 noord daarvan ontdek. Dit is ook vermoedelik 300 miljoen jaar gelede deur 'n asteroïed van 10 km breed veroorsaak, maar verdere studies is nodig om te bepaal of dié korsafwyking wel die gevolg van 'n impakvoorval is.[45]
Paleogeen

'n Ontleding van die Hiawatha-gletser in Groenland onthul die teenwoordigheid van 'n slagkrater van 31 km breed. Dit is 58 miljoen jaar gelede gevorm, minder as 10 miljoen jaar ná die Kryt-Paleogeen-uitsterwing. Wetenskaplikes glo die voorwerp was 'n metaalasteroïed met 'n deursnee van sowat 1,5 km. Die impak sou wêreldwye gevolge gehad het.[46]
Pleistoseen

Artefakte wat van tektiete (glasstukke) van die 803 000 jaar oue Australasiese strooiveld in Asië herwin is, verbind 'n bevolking van Homo erectus met 'n aansienlike meteorietimpak en die gevolge daarvan.[47][48] Voorbeelde van groot impakvoorvalle uit die Pleistoseen sluit in die Lonar-kratermeer in Indië, wat sowat 52 000 jaar oud is. Dit word nou omring deur 'n welige halftropiese woud.
Holoseen
Die Rio Cuarto-kraters in Argentinië het sowat 10 000 jaar gelede ontstaan, aan de begin van die Holoseen.
Die Campo del Cielo ("Veld van die Hemel") verwys na 'n gebied wat aan Argentinië se Chaco-provinsie grens en waar 'n groep ystermeteoriete ontdek is wat dateer van 4 000 tot 5 000 jeer gelede. Dit het in 1576 die eerste keer onder die aandag van die Spaanse owerhede gekom; in 2015 het die polisie vier vermeende smokkelaars gevang wat probeer het om beskermde meteoriete van meer as 'n ton te steel.[49]
Die Henbury-kraters in Australië (sowat 5 000 jaar oud) en die Kaali-kraters in Estland (sowat 2 700 jaar oud) is blykbaar gevorm deur voorwerpe wat voor die botsing opgebreek het.[50]
Die Whitecourt-krater in Alberta, Kanada, word geraam op tussen 1 080 en 1 130 jaar oud. Die krater is sowat 36 m breed en 9 m diep. Dit is dig bebos en die krater is in 2007 ontdek toe 'n metaalopspoorder fragmente van verstrooide meteorietyster in die gebied gevind het.[51][52]
Die Kamil-krater in Egipte, wat in 2009 op Google Earth ontdek is, is sowat 45 m breed en 10 m diep. Dit is vermoedelik minder as 3 500 jaar gelede gevorm in 'n toe onbewoonde gebied van Wes-Egipte.[53]
20ste-eeuse impakvoorvalle
Een van die bes aangetekende impakvoorvalle van die moderne tyd was die Toengoeska-voorval in 1908 in Siberië, Rusland.[54] Dit was die gevolg van 'n ontploffing wat waarskynlik veroorsaak is deur die lugbarsting van 'n asteroïed of komeet van 5 tot 10 km breed bo die Aarde se oppervlak. Sowat 80 miljoen bome is platgeslaan oor 'n gebied van 2 150 km2/sup>.[55]
In Februarie 1947 het nog 'n groot bolied die Aarde in die Sichote-Alin-berge in Primorje, Sowjetunie, getref. Dit het in die dag gebeur en baie mense het dit gesien. W.G. Fesenkof, die destydse voorsitter van die meteorietkomitee van die USSR se wetenskapakademie, het die meteoriet se wentelbaan beraam voordat dit die Aarde getref het. Die massa van die meteoriet is geraam op 90 000 kg. 'n Meer onlangse raming deur Tswetkof en ander is sowat 100 000 kg.[56] Meer as 70 ton materiaal het in die botsing behoue gebly.
Op 30 November 1954 is iemand in Sylacauga, Alabama, deur 'n meteoriet beseer.[57] 'n Chondriet van 4 kg het deur 'n huis se dak getrek en Ann Hodges in haar sitkamer teen die kop getref. Verskeie mense het sedertdien beweer "meteoriete" het hulle getref, maar geen verifieerbare meteoriete is gevind nie.

Die eerste neerstorting van 'n meteoriet wat met 'n geoutomatiseerde kamera afgeneem is, was die Příbram-meteoriet, wat in 1959 in Tsjeggo-Slowakye, nou Tsjeggië, geval het.[58] Twee kameras wat gebruik is om meteore af te neem het foto's van die vuurbal geneem. Die foto's is gebruik om beide die ligging van die stene op die grond vas te stel en, belangriker, om vir die eerste keer 'n akurate wentelbaan te bereken vir 'n meteoriet wat gevind is. Ander lande het daarna soortgelyke programme opgestel.[59]
Op 10 Augustus 1972 is 'n meteoor, wat bekend geraak het as die Groot Dagligvuurbal van 1972, deur baie mense gesien terwyl dit van die VSA noordwaarts oor die Rotsgebergte na Kanada beweeg het. Dit was tussen die grootte van 'n motor en dié van 'n huis, maar daar was nooit 'n ontploffing nie. 'n Ontleding van die meteoorbaan het aangedui die voorwerp het nooit nader as 58 km van die Aarde se oppervlak gekom nie. Daar is tot die gevolgtrekking gekom dit was net sowat 100 sekondes in die atmosfeer voordat dit uit die atmosfeer teruggebons en sy baan om die Son hervat het. Baie impakvoorvalle word nooit gesien nie. Tussen 1975 en 1992 het Amerikaanse missiele 136 groot ontploffings in die boonste atmosfeer geregistreer.[60]
In die donker oggendure van 18 Januarie 2000 het 'n vuurbal oor die stad Whitehorse in die Yukon-gebied in Kanada ontplof op 'n hoogte van sowat 26 km en die nag verlig. Die meteoor is geraam op sowat 4,6 m breed, met 'n massa van 180 ton.
21ste-eeuse impakvoorvalle
Op 7 Junie 2006 is 'n meteoor waargeneem wat 'n plek in die Reisadalen-vallei in Noorweë tref. Volgens wetenskaplike ontledings was die krag van die ontploffing tussen 100 en 500 ton, sowat 3% van die atoombom op Hirosjima.[61]
Op 15 September 2007 het 'n meteoriet die Aarde naby 'n dorp en die Titicacameer in Suidoos-Peru getref, en dit het 'n watergevulde gat gelaat asook spuitende gasse in die omringende gebied. Baie inwoners het siek geword, blykbaar van die skadelike gasse kort ná die impak.
Op 7 Oktober 2008 is die spoor van 'n asteroïed van sowat 4 m breed met die naam 2008 TC3 altesaam 20 uur lank gevolg terwyl dit die Aarde nader en terwyl dit in Soedan neerstort. Dit was die eerste keer dat 'n voorwerp bespeur is voordat dit die atmosfeer bereik. Honderde stukke van die meteoriet is in die Nubiese Woestyn opgespoor.[62]

Op 15 Februarie 2013 het 'n asteroïed die Aarde se atmosfeer as 'n vuurbal oor Rusland binnegekom bo die stad Tsjeljabinsk.[63][64] Die voorwerp se lugbarsting het tussen 30 en 50 km bo die grond plaasgevind.[65] Sowat 1 500 mense is beseer, hoofsaaklik deur ruite wat deur die skokgolf stukkend geskiet is. Daar was egter geen ongevalle nie.[66] Aanvanklik is 3 000 geboue in ses stede in die streek as beskadig gerapporteer weens die skokgolf, maar dit het in die volgende weke tot meer as 7 200 gestyg.[67][68]
Die Tsjeljabinsk-meteoor het na raming meer as $30 miljoen se skade veroorsaak.[69] Dit is die grootste aangetekende voorwerp wat die Aarde se atmosfeer getref het sedert die Toengoeska-voorval in 1908.[70] Die meteoor het 'n aanvanklike deursnee van 17-20 meter en 'n massa van rofweg 10 000 ton gehad. Op 16 Oktober 2013 is 'n groot stuk van die meteoor op die bodem van die Tsjebarkoelmeer, sowat 80 km wes van die stad, opgespoor.[71]
Die tweede keer dat 'n voorwerp bespeur is voordat dit die atmosfeer binnekom, was op 1 Januarie 2014. Die asteroïed 2014 AA van 3 m breed is 'n uur lank dopgehou voordat 'n infraklankbarsting naby die middel van die verwagte impaksone waargeneem is, in die middel van die Atlantiese Oseaan.[72]
Op 2 Junie 2018 het die Mount Lemmon Survey die asteroïed 2018 LA (ZLAF9B2) bespeur. Dit was 2-5 meter breed en daar is bevind die kans dat dit die Aarde sou tref, is 85%. Kort ná die impak is 'n verslag van 'n vuurbal uit Botswana ontvang. Nadere navorsing het bevestig 'n voorwerp het Suider-Afrika inderdaad getref.[73][74]
Op 8 Maart 2019 het Nasa die bespeuring van 'n groot lugbarsting op 18 Desember 2018 naby die ooskus van die Kamtsjatka-skiereiland aangekondig. Die Kamtsjatka-superbolied het 'n geraamde massa van 1 600 ton en 'n deursnee van tussen 9 en 14 meter gehad, na gelang van sy digtheid. Dit was die derde grootste asteroïed wat sedert 1900 in Rusland naby die Aarde gekom het, naas die Tsjeljabinsk-meteoor en die Toengoeska-voorval. Die vuurbal het 25,6 km bo die Aarde se oppervlak ontplof.
2019 MO, 'n asteroïed van sowat 4 m breed, is bespeur 'n paar uur voordat dit die Karibiese See in Junie 2019 naby Puerto Rico getref het.[75]
Voorspellings van asteroïedbotsings

In die laat 20ste eeu het wetenskaplikes maatreëls in plek gestel om nabyaardevoorwerpe te bespeur en die datums en tye te voorspel wanneer asteroïede met die Aarde gaan bots, asook die plek waar hulle die Aarde gaan tref. Die IAU se Kleinplaneetsentrum (MPC) is die liggaam wat die wentelbane van asteroïede hanteer. Nasa se Sentry-stelsel skandeer die MPC-katalogus van bekende asteroïede voortdurend en ontleed hulle wentelbane vir moontlike toekomstige impakvoorvalle.[76] Op die oomblik word geen impak voorspel nie (die hoogste kans is van die asteroïed 2010 RF12 van sowat 7 m breed. Dit sal in September 2095 verby die Aarde trek, met 'n moontlikheid van 'n impak van net 5%).[77]
Huidige voorspellings is hoofsaaklik geskoei op die katalogisering van asteroïede jare voor 'n moontlike impak. Dit werk goed vir groter asteroïede (> 1 km breed), want hulle word maklik van 'n lang afstand af gesien. Meer as 95% van hulle is reeds bekend en hulle wentelbane is gemeet; enige impakvoorval kan dus lank voor die nadering van die Aarde voorspel word.
Kleiner voowerpe is te dof om waar te neem, tensy hulle baie naby kom, en kan dus nie voor die tyd waargeneem word nie. Huidige meganismes steun op grondgebaseerde teleskope, soos die ATLAS-stelsel. Huidige teleskope dek egter net 'n deel van die Aarde en kan nie asteroïede aan die planeet se dagkant sien nie. Dit is hoekom so min kleiner asteroïede wat gewoonlik die aarde tref, waargeneem word in die paar uur wat hulle sigbaar is.[78] Tot dusver is net vier impakvoorvalle suksesvol voorspel, almal van onskadelike asteroïede van 2-5 m breed en almal net 'n paar uur voor die tyd.
Huidige status
In April 2018 het die Amerikaanse B612-stigting berig: "Dit is 100 persent seker dat ons deur 'n verwoestende asteroïed getref sal word, maar ons is nie 100 persent seker wanneer nie."[7] Die fisikus Stephen Hawking het ook in 2018 in sy laaste boek, Brief Answers to the Big Questions, gesê 'n asteroïedbotsing is die grootste bedreiging vir die Aarde.[8]
In Junie 2018 het die Amerikaanse National Science and Technology Council gewaarsku Amerika is onvoorbereid vir 'n asteroïedbotsing. Dit het die "National Near-Earth Object Preparedness Strategy Action Plan" uitgereik om beter daarop voor te berei.[10] Volgens die getuienis van kenners in die Amerikaanse Kongres in 2013 sou Nasa minstens vyf jaar nodig hê vir 'n sending om 'n asteroïed weg te keer.[11] Dit is die verkose metode, eeder as om dit te probeer vernietig.[79]

Remove ads
Ekstrasolêre botsings
Botsings tussen sterrestelsels, of die samesmelting van sterrestelsels, is al regstreeks waargeneem deur ruimteteleskope soos Hubble en Spitzer. Botsings in planeetstelsels, insluitende sterbotsings, is al lank vermoed; die mens het dit egter eers onlangs regstreeks begin waarneem.
In 2013 is 'n botsing tussen kleinplanete om die ster NGC 2547 ID 8 deur Spitzer waargeneem en deur grondwaarnemings bevestig. Rekenaarmodelle dui daarop dat groot asteroïede of protoplanete betrokke was, nes met die impakvoorvalle wat gelei het tot die vorming van die Aarde en die ander planete van die Sonnestelsel.[6]
Remove ads
Sien ook
Verwysings
Nog leesstof
Skakels
Wikiwand - on
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Remove ads
